Pa, seun kry borgtog ná kind se dood

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

ʼn Pa en seun wat op die moord van ʼn 12-jarige seun teregstaan, is Donderdag deur die Vereeniging-landdroshof in Gauteng op borgtog van R20 000 elk vrygelaat.

Bilal Ismail (39) en sy pa, Shafic Ismael (64), word ook deur aanklagte van poging tot moord en ontvoering in die gesig gestaar.

Die twee word daarvan beskuldig dat hulle twee seuns van onderskeidelik nege en 12 jaar vroeër vanjaar glo aangehou en aangerand het nadat dié kinders by hul motorhandelaaronderneming in De Deur probeer inbreek het.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag in Gauteng, is die seuns glo deur ʼn veiligheidswag betrap en in ʼn kamer toegesluit. Dit is hiér waar die pa en seun die seuns na bewering met behulp van die veiligheidswag aangerand het. Hulle word ook daarvan beskuldig dat hulle die kinders later die aand by die Meyerton-stortingsterrein agtergelaat het.

Die erg beseerde negejarige is die volgende oggend deur ʼn motoris in die straat aangetref en na ʼn polisiestasie geneem. Met hul aankoms by die stortingsterrein het die polisie die lewelose liggaam van die 12-jarige kind gekry.

Bilal is op 26 Maart in hegtenis geneem en sy pa op 7 April.

Hoewel staatsaanklaers weens die erns van die beweerde oortredings gevra het dat die twee nie op borgtog vrygelaat moet word nie, het die hof hulle met voorwaardes laat gaan. Hulle moet elke Vrydag by die polisiestasie in De Deur aanmeld en moes ook hul paspoorte inhandig. Hulle is ook verbied om enige kontak, direk of indirek, met getuies te hê.

Die saak is tot 24 Junie vir verdere ondersoek uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.