Pa, seun sterf ná skietery

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Andri Tambunan / AFP)

Die pa en seun wat Saterdag tydens ’n huisroof in Kirkwood in die Oos-Kaap in die maag geskiet is, het aan hul beserings beswyk.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Ben Plaatjies (71) en sy 11-jarige seun Ken Plaatjies is Sondag in die hospitaal in Gqeberha (Port Elizabeth) dood.

Die polisie ondersoek nou twee aanklagte van moord en een van huisroof.

Maroela Media het vroeër berig Ben en Ken het gelê en slaap het toe hulle Saterdag omstreeks 02:45 ’n klop aan hul deur in die Madikeni-nedersetting in Dunbrody gehoor het.

Ben het opgestaan om ondersoek in te stel en is glo deur ’n persoon van buite aangesê om die deur oop te maak omdat dit kwansuis die polisie sou wees.

Ben het die deur oopgemaak en is deur vier mans oorval. ʼn Vrou het ʼn vuurwapen op hom gerig. Hy is vasgebind en in die maag geskiet voordat die aanvallers items uit die huis gesteel het.

Ken is ook tydens die voorval in die maag geskiet. Die polisie ondersoek egter nog die omstandighede rondom dié skietery.

Die pa en seun se moordenaars was glo in polisie-uniform geklee en het ná die voorval in ’n Wit Volkswagen op die vlug geslaan.

Die motor is intussen gevind, maar daar is nog geen teken van die verdagtes nie.

Enigiemand met inligting rakende die voorval word versoek om kapt. Freddie Moss van die polisiestasie in Kirkwood by 082 319 9227 óf die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

lollapot ·

Tragies… In jou woonplek waar jy en jou gesin moet ‘veilig’ wees. Rus in vrede Ben en Ken Plaatjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.