Pa steeds in erge pyn ná slangbyt

Willem van der Merwe (Foto: Verskaf)

Willem van der Merwe (33) gaan vir die volgende twee weke nog erge pyn moet verduur terwyl hy wag vir die plastiese sjirurgie aan sy linkerbeen.

Van der Merwe is Maandag – sowat twee maande ná die voorval – na die dokter gejaag nadat hy begin siek voel het. Hy was erg bleek en het heeltyd gebraak. Volgens die dokter blyk dit dat hy ʼn bakteriële infeksie opgedoen het.

Volgens Van der Merwe se skoonma, Gerda Steyn, het die dokters hom antibiotika gegee om die infeksie te beveg. Daar was aanvanklik sprake dat die been geamputeer sal moet word indien die infeksie nie opklaar nie.

“Sy toestand het danksy die medikasie verbeter, maar hy verkeer steeds in erge pyn. My hart breek vir die kind,” het Steyn aan Maroela Media gesê.

Van der Merwe het reeds die gebruik van sy linkervoet verloor nadat die pofadder hom op 21 November gepik het toe hy ʼn boorgatpomp by die gesin se huis in Kenton-on-Sea aangebring het. Sy voet hang tans lewensloos en dokters moet die voet in posisie vaswerk.

Die gesin hoop nou dat die operasie sal help dat Van der Merwe nie meer soveel pyn verduur nie.

Maroela Media het vroeër berig Van der Merwe kan boonop vir tyd en wyl nie sy werk as algemene werker by ʼn vervoermaatskappy voortsit nie en verbeur ʼn groot deel van sy salaris, terwyl die rekeninge ophoop.

Sy werkgewer gee hom steeds ʼn klein gedeelte van sy salaris, maar die gesin moet nou met veel minder klaarkom. Dit is ook nie duidelik wanneer Van der Merwe weer sal kan werk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

As hy van die staanspoor af korrek behandel was sou hy nie nou met al die probleme gesit het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.