Padongelukfonds: ‘Wetsontwerp mis geleenthede vir modernisering’

Argieffoto (Foto: Netto Figueiredo / Pixabay)

Die Wysingingswetsontwerp vir die Padongelukfonds gaan die regte van burgers ondermyn en hulle verder benadeel. Die burgerregteorganisasie AfriForum meen ook dat hierdie wetsontwerp deurslaggewende geleenthede mis om die fonds te moderniseer en privatiseer ten einde die doeltreffendheid daarvan op ’n globale standaard te kry.

AfriForum het Vrydag omvattende kommentaar by die departement van vervoer ingedien waarin hulle die Wysigingswetsontwerp vir die Padongelukfonds van 2023 verwerp.

“Die wetsontwerp dui onder meer aan dat die regte van bestuurders, passasiers en voetgangers om vergoeding te eis vir beserings tydens ’n ongeluk geskrap gaan word,” sê Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum. “Die wysiging stipuleer dat die fonds ’n aansienlik verminderde bedrag aan eisers sal uitbetaal.”

AfriForum het die uitdagings wat die Padongelukfondswetsontwerp vir Suid-Afrikaners inhou uiteengesit.

Die wysiging sal burgers dwing om van gebrekkige openbare gesondheidstelsels gebruik te maak aangesien hulle nie privaat sorg sal kan bekostig nie, as gevolg van veranderinge in dié fonds.

Volgens Mostert is die organisasie bekommerd oor die regering se begeerte om die Padongelukfonds verder in die hande van hebsugtige amptenare te sentraliseer. “Padgebruikers dra direk by tot die fonds deur die brandstofheffing, maar sal nie met die nuwe wysigings op die fonds kan staatmaak nie. Die doel behoort te wees om die fonds oor te skakel na ’n geprivatiseerde stelsel wat as ’n kritieke veiligheidsnet vir die kwesbares sonder versekering dien.”

’n Gedesentraliseerde benadering sal volgens AfriForum lei tot ’n vinniger verwerking van eise en streekspesifieke oplossings. Die organisasie meen dat die Padongelukfonds veronderstel is om ’n vangnet te wees vir diegene wat nie derdepartyversekering kan bekostig nie en dat ’n gedesentraliseerde benadering sal sorg dat die mees kwesbare lede van die samelewing nie behoeftig gelaat word ná ’n ongeluk nie.

“AfriForum voel sterk dat die voorgestelde Padongelukfondswetsontwerp in sy huidige formaat nie die uitdagings van die huidige Padongelukfonds die hoof bied nie. Ons voorstel vir ’n meer gedesentraliseerde stelsel wat die streeksverskille in ’n diverse Suid-Afrika in ag neem, sal ook groter finansiële buigsaamheid aan burgers bied en die vordering wat in die versekeringslandskap van die 21ste eeu gemaak is, integreer,” sluit Mostert af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.