Padwoede kos man amper sy arm

Meneer Smit kan vir drie maande al nie sy linkerhand gebruik nie (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

ʼn Man van Pretoria is die gebruik van sy linkerhand kwyt nadat ʼn eiendomsagent hom tydens ʼn padwoedevoorval met ʼn kromlem-mes aangeval het.

“Ons hele lewe is omvergegooi,” het meneer Smit* (52) aan Maroela Media gesê, kort nadat sy beweerde aanvaller Donderdag in die Hatfield-landdroshof in Pretoria verskyn het.

Cameron Schultz (32), ʼn eiendomsagent van Pretoria, word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer en is tans uit op borgtog. Hy het onskuldig gepleit op die aanklag teen hom. Nie hy óf sy regsverteenwoordiger wou kommentaar op die bewerings lewer nie.

Cameron Schultz is in verband met die voorval in hegtenis geneem (Foto: Verskaf)

Die voorval het op 11 Mei vanjaar by die Rigel-afrit op die N1 in Pretoria plaasgevind nadat Smit die bestuurder van ʼn BMW (Schultz) konfronteer het, wat sy motor glo van die pad probeer afdruk het.

Die tendons, weefsel, spiere, senuwees, en beide hoofslagare is afgesny toe Smit met die mes op sy linkervoorarm gekap is. Volgens die ortopediese chirurg wat hom behandel het, is sy linker-voorarm gedeeltelik geamputeer, en rehabilitasie kan tot ʼn jaar duur.

“Die invloed wat die besering op my werk- en persoonlike lewe het, is ontsaglik. My en my gesin se lewe is omvergegooi.”

Agtergelaat vir die dood

(Foto: Verskaf)

Smit was op die betrokke dag net voor 17:00 op pad huis toe van die werk af.

Hy beweer hy was op die R21-afrit na die N1-Noord op pad, toe ʼn swart BMW voor sy NP200-bakkie probeer indruk het.

“Daar is slegs soliede lyne op daardie spesifieke gedeelte van die pad, so jy kan nie daar bane wissel nie. Ek het in die heel linkerkantste baan gery toe die BMW by my in die baan probeer indruk het. Ek kon nie pad gee nie, want dit was spitsverkeer en motors het buffer teen buffer gery,” vertel Smit.

“Die volgende oomblik kom die BMW vir my en probeer my van die pad af druk. Ek moes uitswaai, anders sou ek ʼn ongeluk maak. Ek het aanhou ry en gedink ek gaan nie agter die motor aanjaag nie.”

Die swart BMW wat Meneer Smit van die pad probeer druk het (Foto: Verskaf)

Die voorval het by die Rigel-afrit plaasgevind (Foto: Verskaf)

By die Rigel-afrit het die verkeer stilgestaan en Smit het dieselfde BMW weer daar opgemerk.

“Ek het uitgeklim, na die BMW gestap en die bestuurder gevra hoekom hy my van die pad af wou druk. Hy het vir my gesê dis omdat ek nie vir hom wou plekmaak nie. Ek het vir hom probeer verduidelik dat daar ʼn soliede lyn was en die motors buffer teen buffer gery het.

“Ek het vir die bestuurder vinger gewys, maar hy het in sy kar bly sit. Toe ek terugtree, het hy vorentoe gery en my bakkie gestamp.

“Ek het gaan kyk wat die skade aan my bakkie is. Toe ek weer sien, staan hy langs my en slaan met sy vuis na my gesig. Ek het gekeer. Net toe ek regmaak om terug te baklei, val my linkerhand oop. Ek het afgekyk en net bloed sien spuit. Ek besef toe my hand is amper afgesny en sien toe eers die mes in sy hand.”

Volgens Smit het die bestuurder in sy motor geklim en weggery.

“Hy het my net daar vir dood agtergelaat en soos ʼn lafaard gevlug.”

ʼn Man in ʼn Toyota Fortuner het stilgehou en Smit probeer help. Nog ʼn man en vrou het stilgehou en aangebied om sy bakkie uit die pad te ry.

Meneer Smit se bakkie ná die voorval (Foto: Verskaf)

“Die een man het sy broek se belt afgehaal en my arm afgebind om die bloed te keer. Die vrou het my bakkie uit die pad probeer kry. Sy en haar man het by die bakkie op die toneel gebly terwyl die man in die Fortuner my na die Netcare Kloof-hospitaal geneem het.”

By die hospitaal het Smit se lyf in skok gegaan omdat hy toe reeds baie bloed verloor het. Sy twee hoofslagare moes so gou as moontlik weer geheg word om te verhoed dat hy uitbloei.

Hy is die volgende dag terug in die teater, waar sy senings, tendons en weefsel vasgewerk is.

Hy het die voorval intussen by die polisie aangemeld en die polisie het die klag aan Maroela Media bevestig.

Lang herstelproses lê voor

Meneer Smit se arm nadat die dokters aan hom gewerk het (Foto: Verskaf)

Smit was vir ses weke afgeboek en mag nie sy linkerhand gebruik of motor bestuur het nie. Hy is ʼn ondersoekbeampte vir ʼn prokureursfirma vir derdeparty-eise en reis baie vir werk.

“Ons moes vir my ʼn outomatiese motor koop omdat ek nie met my linkerarm ratte kan wissel nie.”

Ná drie maande is Smit se linkerhand steeds nie bruikbaar nie en het hy geen gevoel in die hand nie.

Hy moet gereeld die fisioterapeut en handterapeut besoek en dié behandeling kan moontlik nog langer as ʼn jaar duur.

Smit se vrou (48) is opgelei om hom elke aand twee uur lank met fisioterapie te help.

“Ek kan nie een aand se fisioterapie skip nie, want dan verhard die weefsel weer. Die weefsel moet los bly sodat die herstelproses kan plaasvind en my hand weer kan buig. Daarom masseer sy elke aand die weefsel om dit sag te kry sodat bloed daardeur kan vloei.”

Smit is boonop ʼn diabeet, wat kan veroorsaak dat sy arm selfs langer vat om te genees.

Volgens Smit is dit ʼn groot frustrasie om nie dinge vir homself te kan doen nie.

“My vrou en kinders moet my help aantrek en my vleis vir my sny. Ek kan nie eers self ʼn knoop vasmaak nie.”

Smit is ook lief vir houtwerk en moet nou dié stokperdjie ontbeer weens die besering.

Die besering is vir die egpaar se seuns, onderskeidelik 12 en 25 jaar oud, ʼn groot slag.

“Ek en die seuns is lief vir visvang en kan dit ook nie eers meer doen nie.”

*Meneer en mevrou Smit se name is om veiligheidsredes uit die berig gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Joe Olivier ·

Ek voel baie jammer oor wat met jou gebeur het Mnr Smit. Ek het Okt verlede jaar my hand in ‘n fratsongeluk met ‘n grinder afgesny. My beserings was baie soortgelyk aan joune. Die aanpassing na so iets is baie groot en selfs om iets kleins te doen soos skoenveters vas maak is onmoontlik. Met oefening kom dinge reg. Maroela het my en jou besonderhede en kan dalk ‘n ontmoeting reël. Ek bly ook in Pta en dis partykeer goed om met mense te praat met dieselfde uitdagings.

Delia ·

Hello Joe. Dit klink na n wonderlike voorstel. Hoop jy kry dit reg om dit te organiseer.

MJLS ·

Baie sterkte aan die slagoffer en sy gesin.
Hoe kon die beskuldigde borgtog gekry het nadat hy ‘n gevaarlike wapen gebruik het in sy woede? Die man is ‘n gevaar vir die samelewing en hoort agter tralies.

Di ·

Stem, dagvaar die rook uit him uit. Hy het GEEN reg om iemand so aan te rand nie, HY was die padvark

Nommer 7 ·

Mnr Smit kla nou oor die gevolge van sy eie aksies. Hy is die een wat aanvanklik padwoede openbaar het. Hy moes maar net vir die BMW pad maak, ongeag op die BMW oor ‘n sperstreep gery het. Mnr Smit kan nie padwette wil toepas nie, of ander bestuurders ondervra nie.

Delia ·

So jy sé die voorste kar moet oor die sperstreep ry. En ry daai pad dikwels. Daar is n rede vir daai sperstreep.

Di ·

En die motors het buffer teen buffer gery, hoe gee jy hom plek as daar iemand voor en agter jou is? Maklik om te praat as jy nie self daar was nie

Jacques Dawie ·

So as ons dit reg verstaan, het die bakkie agter die BMW aangery, bakkie bestuurder uitgeklim en bmx drywer konfroteer, bmw drywer stamp toe bakkie (seker omdat hy geskrik het want bakkie het hom dan agtervolg) bakkie drywer kyk toe na skade en die twee is aan mekaar…….nee wat, hier is aan alby kante foute….bakkie het ding 1000% vererger omdat hy agter bmw aangery het, en dit omdat n kar voor jou indruk. Klink vir my die bakkie drywer se humeur is kort dat so klein ding hom so kwaad kon maak….

Nommer 7 ·

By die afrit het die BMW “vorentoe gery” en die bakkie gestamp. Die bakkie het dus nie die BMW agtervolg nie. Ek lei af dat die bestuurder wat aanvangklik agter die bakkie was vir die BMW plek gemaak het.

Retha ·

Jacques waar lees jy dat bakkie die BMW agtervolg het? Baie mense lees storie half en maak hul eie gevolgtrekkings

Jacques Dawie ·

En nog n ding opgemerk, hoekom net na die bakkie drywer as mr smit verwys, maar die volle naam en van, van die aangeklade Schultz.?

Bolandse Nooi ·

“Mnr. Smit” is duidelik ‘n pseudoniem, waarskynlik omdat die persoon bang is vir ‘n wraak-aanval. Ek sou ook bang gewees het, want enige ou wat met ‘n kromlem kapmes in sy motor rondry, het duidelik nie al sy varkies op hok nie.

JOLEEN ·

Mnr Smit, ek is jammer vir jou besering, maar jy moes nie die stap geneem het om uit jou voertuig te klim nie. Wat was jou intensie met die konfrontasie? Kan jy met eerlikheid se dat jy nie woede gehad te teenoor Mnr Schultz nie? Het jy nog nooit voor iemand ingery nie?

Ons woon in Suid-Afrika waar geweld deel van ons allerdaagse lewens is. Mnr Schultz moes dadelik paraat gewees het toe hy jou sien by sy venster. Ek glo ook nie dat Mnr Smit koel en kalm was toe sy bakkie gestamp is nie.

En die feit dat Mnr Smit se identiteit weerhou word maar Mnr Schultz word per naam genoem en sy foto gedeel is baie onregverdig.

Hier is beslis twee kante aan die storie.

Bolandse Nooi ·

Mnr. Schultz is so “paraat” dat hy ‘n kromlem kapmes in sy voertuig aanhou. Moet nou nie twak praat nie, mens! Niemand, wat 100% gebalanseer en volwasse is, ry met ‘n kromlem kapmes rond en gebruik dit dan boonop op so ‘n manier wat ‘n ander mens se lewe in gevaar stel nie. “Mnr. Smit” móés waarskynlik nie die dom aap gekonfronteer het nie, maar wanneer mens vies is, doen mens dikwels dinge waaroor jy nie eers besin nie.

Karoo ·

Wat soos ‘n paal bo water uit staan is….. elke aksie het’ n reaksie en al is jy hoe kwaad, moet nie mekaar telyf gaan nie. Dit eindig nooit goed nie.

gpsa ·

Pad woede maak mense mal. Alles begin met die wetteloosheid op ons paaie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.