Pandor gevra om vrylating van SA’ners gou te verseker

Peter Huxham en Frik Potgieter. (Foto’s: Verskaf)

Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, sal oor die naweek na Ekwatoriaal-Guinee reis om daardie land se regering te probeer oorreed om twee Suid-Afrikaanse ingenieurs vry te laat.

Peter Huxham en Frik Potgieter is reeds byna 15 maande lank in die land in aanhouding op skynbaar valse dwelmverwante aanklagte.

Maroela Media het vroeër berig Huxham en Potgieter dien tans elkeen ’n vonnis van 12 jaar tronkstraf uit in ’n tronk vir politieke gevangenes in Mongomo. Hul geliefdes by die huis hou vol hulle is onskuldig. Hulle glo dat Huxham en Potgieter hulself slegs in die situasie bevind weens ’n internasionale dispuut tussen Suid-Afrika en Ekwatoriaal-Guinee.

Die twee mans is op 9 Februarie 2023 by hul hotel in Malabo in hegtenis geneem. Hulle werk al jare lank as ingenieurs vir ʼn Nederlandse olie- en gasmaatskappy, Single Buoy Mooring (SBM), en sou die volgende dag weer huis toe keer.

Emma Louise Powell, die DA se skaduminister oor internasionale betrekkinge, sê die DA verwelkom die nuus dat Dirco uiteindelik optree om die twee se vrylating te verseker.

Daar word beweer dat Huxham en Potgieter se inhegtenisnemings verband hou met die beslaglegging op ʼn superseiljag en luukse eiendomme in Kaapstad wat aan Ekwatoriaal-Guinee se adjunkpresident, Teodoro Nguema Obiang Mangue, behoort.

Suid-Afrikaanse owerhede het op 7 Februarie 2023 beslag gelê op twee huise en ʼn superseiljag wat aan Mangue behoort nadat ʼn Suid-Afrikaanse sakeman hom gedagvaar het vir onwettige inhegtenisneming en marteling. Daniel Janse van Rensburg is 491 dae lank onwettig in ʼn berugte tronk in Ekwatoriaal-Guinee aangehou en gemartel nadat ʼn saketransaksie in 2013 skeefgeloop het.

Huxham en Potgieter is enkele dae ná die beslagleggings in hegtenis geneem.

Powell sê die “hofsaak” wat in Junie 2023 in Ekwatoriaal-Guinee gehou is, was ʼn klug. “Daar was geen geloofwaardige bewyse deur die staatsaanklaer nie. Potgieter en Huxham het boonop nie die geleentheid gehad om hul saak te stel nie.”

Benewens die 12 jaar lange tronkstraf, is die twee mans ook beveel om elkeen ʼn boete van $5 miljoen (meer as R93 miljoen) te betaal.

“Potgieter en Huxham se onwettige aanhouding is ʼn duidelike oortreding van menseregte deur die regering van Ekwatoriaal-Guinee,” voeg Powell by.

Pandor sal die land op 4 Mei besoek om met die regering te onderhandel oor die twee mans se vrylating.

“Hierdie ingryping is al lankal agterstallig,” sê Powell. “Ons wens minister Pandor alles van die beste toe met hierdie onderhandelings. Ons doen ʼn beroep op haar kantoor om die getraumatiseerde families van hierdie ingenieurs op hoogte te hou soos wat die gesprekke vorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nettie ·

Sjoe. Dit wek kommer wanneer mens van sulke gevalle hoor. En hoekom is dit nie groter nuus nie? Sterkte aan die families. Ek hoop jul geliefdes word spoedig met jul herenig.

minnie muis ·

hoekom nou ? sy kon al lankal gehelp het! o, ek vergeet dis verkiesings maand!

hpven ·

@ minnie muis. Want sy is te besig om haar Hamas vriende by te staan.

Wakkerslaper ·

@minnie muis – PRESIES! Hoekom nou skielik wil pandor iets “doen”? Vyftien maande later? Wie dink sy beïndruk sy nou? Al waarnatoe sy kan vlieg is in HAAR KAS IN!

Papsak ·

Ag Pandor hoekom nou nie eerder gewees het nie jy wil jou regering help om verkiesing te wen dis hoekom ??????

Cassie Carstens ·

Ek weet nie wat om te se nie. Hoekom nou eers? Politieke punte vir die verkiesing? Ag nee ANC< julle kom net vir Pakistan en Hamas op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.