Parlement se oorsigrol stotterend hervat

Die parlement in Kaapstad. (Foto: ANA)

Die Suid-Afrikaanse parlement het vandag sy oorsigrol hervat met gelyktydige virtuele vergaderings van portefeuljekomitees wat toesig moet hou oor die gedrag van die regering tydens die afsonderingsperiode.

Dit het maar stotterend verloop met volop tegniese probleme, en een van die drie vergaderings is uitgestel. Al drie vergaderings het wel uiteindelik plaasgevind, en in elkeen het die tersaaklike ministers terugvoer oor die afsonderingsperiode in hul portefeuljes gegee.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, opleiding, wetenskap en tegnologie, het spesifiek aandag geskenk aan die beskikbaarheid en wenslikheid van afstandonderrig en veral aanlyn onderrig by universiteite en verdere onderwys- en opleidingskolleges. Hy het voorts aangedui dat tersiêre onderwysinstellings geleidelik sal heropen – nie almal tegelyk of volkome nie.

Die DA-LP prof. Belinda Bozzoli het versoek dat ‘n presiese rooster van heropenings so gou doenlik daargestel word sodat dit spoedig en op beplande wyse kan geskied, in belang van die akademiese jaar.

In die portefeuljekomitee oor behuising, water en sanitasie het minister Lindiwe Sisulu veral uitgewei oor die hervestiging van gemeenskappe wat in oorvol plakkersgemeenskappe hervestig word. “Ons het reeds alternatiewe grond geïdentifiseer waarop lede van die Stjwetla-gemeenskap in Alexandra noordoos van Johannesburg hervestig kan word. Daar sal egter slegs plek vir omtrent 2 000 van die 9 000 gesinne wees,” het Sisulu gesê.

Diepsloot naby Dainfern en Zandspruit naby Randburg is ander prioriteitsgebiede vir Sisulu se departement. Sy het gesê dat bevolkingsdigtheid grootliks bydra tot die verspreiding van die koronavirus en dat dit daarom verminder moet word.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, het tydens haar portefeuljekomiteevergadering ‘n wye verskeidenheid vrae van parlementslede gekry, met die verbod op die verkoop van warm gekookte kos voor in die koor. Dlamini-Zuma het gesê die meeste van die vrae aan haar het nie op haar portefeulje betrekking nie, en het hulle dus nie beantwoord nie.

Sy het wel ‘n omvattende uiteensetting van die geskiedenis van die afsonderingsperiode gegee en gesê die regering maak foute omdat die afsondering ‘n onvoorsiene omstandigheid sonder weerga in die geskiedenis is, daarom word regulasies deurgaans aangepas.

Sy het die land daaraan herinner dat meer as 300 000 mense (uit ‘n bevolking van 7 miljoen) in 1918 tydens die Groot Griep in Suid-Afrika dood is, en gesê die doel van die regering is om soortgelyke getalle te vermy.

Een regulasie wat aangepas gaan word, is dat kinders na die ouer met primêre toesig teruggestuur moet word as die kind nie reeds daar is nie.

Voorts wil dit uit Dlamini-Zuma se taamlik wydlopende stellings voorkom asof ‘n gedeeltelike verligting van die afsonderingsperiode teen volgende Donderdag, 30 April, verwag kan word, veral in die vier provinsies met min gevalle van die koronavirus: die Noord-Kaap, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.