Party verontskuldig homself, sê Barker ná bedanking

Anco Barker (Foto: Facebook)

Anco Barker, wat vroeër as lid van die VF Plus bedank het, sê sy “neem kennis van die houe” wat die party na haar mik.

“Dit is vir my duidelik en sigbaar, maar nie ʼn skok dat die party nie skaam is om enige manier te gebruik om my te diskrediteer en hul eie foute te ontken nie,” sê sy.

Maroela Media het vroeër berig Barker het bedank omdat die VF Plus se grondwet uitsluitlik op die bevordering van Afrikanerbelange fokus. Sy het ook gesê sy kan nie “uitsluiting” op grond van kultuur en ras goedpraat nie.

Wouter Wessels, nasionale woordvoerder van die party, het in reaksie gesê Barker het deelgeneem aan die plasingsprosedure vir die komende verkiesing, maar het nie hoë posisies op die party se lyste bereik nie. “Dit is nie toevallig dat sy nou, nadat sy nie goed gevaar het in die plasingsproses nie, skielik ʼn probleem met die grondwet van die party het en dit aanvoer as die rede vir haar bedanking nie,” het hy vroeër gesê.

In reaksie hierop sê Barker om na “enige parlementêre lys te verwys, is waansin”.

“Al wat ek daaroor kan sê, is dat hul gebrekkige proses teenoor die lys se opstelling die hele party in rep en roer gehad het, selfs grootkoppe in die party, en dat Wouter Wessels beter moes geweet het as om dit hul uitgangspunt te maak.”

Barker sê sy neem ook kennis van die stelling dat ʼn werkskontrak beëindig sou word met geen sekerheid dat dit hernu sou word nie. “Dit is irrelevant; 90%, indien nie meer nie, van politieke partye se ondersteuners werk nie vir die einste party nie. Hoekom word dit nou as uitgangspunt gebruik as dit kom by my as voormalige lid van die party?”

Sy sê voorts sy het verskeie aanbiedinge van ander partye gehad wat sy van die hand gewys het.

“Die VF Plus wil hulle graag nou verontskuldig, vernaam in verwysing na hul eie grondwet, wat ek nie kan verstaan nie. Dit blyk hulle onderteken dan self nie hul eie grondwet nie, aangesien hulle teen dit praat.

“Stigtingsgrondslag ofte nie, om lid te wees moet jy dit onderteken en aanvaar as die doel en waarvoor die VF Plus staan.”

Barker sê sy is vantevore al dikwels gekonfronteer oor haar keuse van party nadat sy by die VF Plus (as voormalige DA-lid) aangesluit het. Sy sê dit was omdat sy geglo het daar is sterk individue in die VF Plus. “Ek het altyd gesê die VF Plus moet net wakker skrik en besef dat die land oor meer as net die Afrikaner gaan.

“As hulle die regte besluite neem en dit só aandui in die wysiging van hul grondwet, kan hulle ʼn dinamiese party wees wat ʼn groot rol in die verbetering van die land kan speel.”

Barker sê ook sy vergewe diegene wat teen haar uitvaar en koester geen kwade gevoelens nie omdat dié mense “nie weet wat hulle doen nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Yolandy ·

Wel laat sy gaan as sy Soos die verdriers van puds is, wat niks vir ons as Afrikaners voel nie, laat sy maar gaan witvoetjie by ander wat teen die Afrikaners is.

Casper ·

Suur druiwe, baie suur.Hoekom is jy dan weg by die DA.Zuma sal jou verwelkom in sy party want dit lyk my jy hoort daar.

Ore ·

Lyk my was deel van die “probleem dame en nie deel van ‘n oplossing nie. Wat het u gedoen om die grondwet van die party te verander?

Michael ·

Hoekom word julle vuil wasgoed hier gewas,sorteer julle probleme uit en gaan aan .

KB ·

As jou saak skoon en reg was, sou jy nie ʼn palava daarvan in die media gemaak het nie, sussie.
Word volwasse.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die VF Plus kon haar bedank het vir werk gelewer en sterkte toewens met die pad vorentoe. Saak afgehandel Hierdie is nie die eerste geval nie. Elke keer raak hulle betrokke raak by ‘n bekgeveg in die media. Die party benodig ‘n kundige PR beampte. Dit lyk of Groenewald beheer verloor oor sy party.

Amelia ·

miskien weet sy nie waarvan sy praat nie om vir ander dit te se maak haarself skuldig dalk gaan sy nou eff toe

Ria ·

Toe die dame aangesluit het, het sy mos geweet VF Plus bevorder wit Afrikanersake. Dit is noodsaaklik aanesien niemand anders sal opstaan vir minderheidsregte nie

Republikein in die Wes Kaap ·

@Amelia, Leon. Dit mag dalk so wees. Maar die VF Plus kry skade. Landswyd is daar ongelukkigheid met die kandidaatlyste. Grondige klagtes van nepotisme is gelê. Lennit Max bedank en sê dis ‘n Afrikaner party. Nou Barker ook. Almal in die VF Plus gooi wal en beledig beswaarders, behalwe Groenewald. Hy is tjoepstil. Dis nadelig vir sy party.

Manie ·

Ek vertrou nie eers die VF+ sovêr ek hulle kan sien nie, onder andere weens hulle baantjies vir boeties werking. Kyk maar na die top struktuur wat al dekades lank daar is sonder merkbare vernuwing. Nee wat die parlementêre geldjies is te lekker handig.

Bolandse Nooi ·

Suur druiwe, dametjie, SUUR DRUIWE. Waarom sluit jy nie sommermaar by die ANC of by die MK Party nie of selfs die EFF aan nie? HÚLLE STAAN NOU VIR JOU VIR DIE AFRIKANER … DIE SWART ENE!!!!!!!!!!!!! Los die VF+ uit, hulle is die enigste party wat WERKLIK vir die wit AFRIKAANSSPREKENDE blanke persoon – die BOERE – staan.

As jy nie die “wits” gehad het om die parlementêre verteenwoordigingslys te haal nie, maak jou buiging en probeer met die volgende groot verkiesing weer. Moenie brûe agter jou rug verbrand waaroor jy dalk eendag weer moet (probeer) loop nie.

Theresa ·

Daar is verseker nie plek vir jou by VF+. Dink jy nie daar is genoeg wat na ánder se belange omsien nie, wie gaan na jou en my belange omsien. Nee wat gaan soek n ander politieke tuiste…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.