Partye kap deurvoer van omstrede Kieswet

(Argieffoto: Reint Dykema)

Die wysigingswetsontwerp op die Kieswet wat vandag bekragtig is, is ’n verdraaiing van demokrasie en faal op grond van billike deelname deur onafhanklike kandidate sowel as algemene proporsionaliteit.

Só het Adrian Roos, die DA se woordvoerder oor binnelandse sake, Maandagaand gesê, nadat pres. Cyril Ramaphosa vroeër die dag die wysigingswetsontwerp onderteken het.

“Die wetsontwerp was bedoel om die deelname van onafhanklike kandidate aan nasionale en provinsiale verkiesings te fasiliteer op so ’n wyse dat algemene proporsionaliteit behoue bly. In plaas daarvan het die ANC die seteltoekenningstelsel so verdraai dat ’n groot aantal vermorste stemme na die ANC gaan,” sê Roos.

“Dit is die ANC se doelwit om te verseker dat hy wen, en dit is in hierdie wetsontwerp verskerp deur slim berekeninge.”

Soos vroeër berig maak die gewysigde Kieswet nou voorsiening vir die insluiting en benoeming van onafhanklike kandidate in die nasionale en provinsiale verkiesing. Die wetgewing stippel onder meer die vereistes uit waaraan diegene wat as onafhanklike kandidate wil deelneem moet voldoen, maak voorsiening vir besware teen onafhanklike kandidate en verduidelik die verpligting van dié kandidate om by die verkiesingsgedragskode te hou.

Die omstrede wetgewing bevat ook ʼn hersiene formule vir die toewysing van setels en die proses wat gevolg word wanneer ʼn setel vakant word.

Roos sê onafhanklike kandidate kan nie op die nasionale stembrief staan nie, maar kan eerder op al die provinsiale stembriewe ingesluit word. Dit beperk hulle nie net om vir die helfte van die setels in die parlement mee te ding nie, maar die totaal van daardie stemme wat oor die verskillende provinsies behaal is, word nie bymekaar getel nie.

“Alternatiewelik, in elke provinsie waar die onafhanklike kandidaat staan en nie ’n setel kry nie, gaan hierdie ‘vermorste stemme’ in ’n trog. En omdat algehele proporsionaliteit verwyder is, skep die ANC nou die meerderheid stemme wat in dié trôe oor is uit deur ’n ‘herberekeningstelsel’.

“In hierdie vernuftige stelsel kry die ANC die vermorste stemme van persone wat nie vir hulle gestem het nie. Kragtens hierdie wet sal vermorste stemme duurder wees as ooit, aangesien die meerderheid daarvan na die ANC gaan.”

Terwyl GOOD die jongste wysigings aan die wysigingswetsontwerp ondersteun, glo hy die hervorming in die verkiesingsproses is nog lank nie klaar nie.

“Suid-Afrika se demokrasie beweeg in ’n nuwe fase met ’n toekoms wat ongetwyfeld van ons sal vereis om ’n nuwe verkiesingsmodel ten volle en respekvol te aanvaar. Hierdie wetsontwerp is net een van vele stappe langs hierdie pad en weerspieël wel vordering na ’n regverdiger en meer inklusiewe demokratiese proses vir onafhanklike kandidate en nuwe politieke partye,” sê Brett Herron, LP van GOOD.

GOOD verwelkom die afname in handtekeningondersteuningsvereistes asook die stigting van die verkiesingshervormingskonsultasiepaneel. Dit vorm deel van sommige van die positiewe veranderinge wat deurslaggewend sal wees in die beveiliging en verbetering van die verkiesingsproses.

“Geografies gesproke kan die kiesafdelings verder verbeter word deur te bestaan uit meerledige openbare verteenwoordigers wat op grond van die munisipale distrik-model verkies word. Ons het wêreldwyd gesien dat ’n soortgelyke stelsel uiters doeltreffend kan wees om demokratiese verteenwoordiging van verskeie verkose kandidate te verseker.

“Met dit in gedagte neem GOOD met kommer kennis dat onafhanklike kandidate effektief steeds presies dieselfde as ’n politieke organisasie behandel word.

“Hierdie nuwe stelsel, waardeur elke provinsie ’n multi-lid-kiesafdeling sou word, sou min beskerming bied aan hierdie kandidate om deur politieke organisasies oorheers te word. Dit word eers duideliker as ’n mens in ag neem dat onafhanklikes net uit streeklyste verkies kan word. Hierdie ekstra stel reëls is nie van toepassing op politieke partye nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek is amper seker sou die ANC die verkiesing verloor sal hulle nie die mag oorgee soos wat de klerk en sy bende so maklik kon doen nie..

gatgogga ·

En een ding maak my onrustig: Ons gaan nou weer opbou en ‘n toekoms vir ons nageslag probeer bewerkstellig, maar erens vorentoe sal daar weer ‘n de klerk in ons toekoms wees. Ons hoop maar dat ons nageslag nie so onnosel soos hulle grootouers sal wees om weer ‘n verraaier te ondersteun nie.

Blikkies ·

Ek dink my verbeelding hardloop met my weg. Soms dink ek van die kleiner partye is nog stoere ANC ondersteuners, net om verwarring te skep sal hulle by tye saam met die ANC en selfs EFF stem, en op ander minder belangrike punte nie saamstem nie en saam met die oposisie stem. (Rol speel) Soos om te sê die EFF is ‘n spesifieke geplaaste lokval party ‘agente’ vir die ANC en weet net hoe om hulle rol te speel as die sogenaamde vyand en net sê en kwytraak wat hulle wil sonder vervolging. Op die einde van die dag as die ANC bleik om te faal, gooi hierdie klein partye maar net hulle skaap klere af sonder om hulle te bekommer oor hulle lieg beloftes aan hulle volgelinge en stap oor na hulle hanteerders die A en C en daar wen hulle alweer….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.