Omstrede Kieswet bekragtig

(Foto: Reint Dykema)

Pres. Cyril Ramaphosa het die wysigingswetsontwerp op die Kieswet bekragtig, wat beteken Suid-Afrikaners sal voortaan hul kruisies agter onafhanklike kandidate se name kan trek.

Die gewysigde Kieswet maak nou voorsiening vir die insluiting en benoeming van onafhanklike kandidate in die nasionale en provinsiale verkiesing. Die wetgewing stippel onder meer die vereistes uit waaraan diegene wat as onafhanklike kandidate wil deelneem moet voldoen, maak voorsiening vir besware teen onafhanklike kandidate en verduidelik die verpligting van dié kandidate om by die verkiesingsgedragskode te hou.

Die omstrede wetgewing bevat ook ʼn hersiene formule vir die toewysing van setels en die proses wat gevolg word wanneer ʼn setel vakant word.

Die wetsontwerp volg ná ʼn uitspraak van die Konstitusionele Hof – wat al in Junie 2020 gemaak is – waarin die land se hoogste hof bevind het die Kieswet is ongrondwetlik in soverre dit vereis dat ’n kandidaat net tot die Nasionale Vergadering verkies kan word indien hy of sy ʼn lid van ʼn politieke party is.

Die uitspraak is twee jaar lank opgeskort om die parlement kans te gee om wysigings aan te bring om dit met die Grondwet te laat strook.

“Die wysigingswetsontwerp op die Kieswet is ʼn noemenswaardige mylpaal in die evolusie van ons demokrasie deurdat dit deelname aan die kiesproses verbreek en die poel leiers vir die nasionale vergadering en provinsiale wetgewers vergroot,” sê Ramaphosa.

Ramaphosa sê hy is tevrede dat die proses in aanloop tot die bekragtiging van die wysigingswetsontwerp aan alle vereistes voldoen het en dat dit die toets vir grondwetlikheid sal deurstaan.

Die spertyd vir die afhandeling van die wetgewing moes twee keer verleng word en is in Februarie met die steun van die ANC, EFF, GOOD en Al Jam-ah aanvaar.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sal later vanmiddag sy terugvoer oor die bekragtiging van die wetsontwerp gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel ·

Hoeveel ” ANC” ..Kandidate gaan onsfhanklk staan tot net na so verkiesing

Papsak ·

Nee vir ramaphosa is reg maar hy jaag net aan hoekom want verkiesing kom mos daarom doen hy dit om ons wittes te boikot hy kyk net na sy boeties flip ons verder

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.