Parys-boere: Hof hoor oor bebloede klere

Miela Janse van Vuuren en Loedie van der Westhuizen tydens die ondersoek ter plaatse Dinsdag (16 Mei 2017). Foto: Maroela Media

Die voormalige huishulp van Boeta van der Westhuizen, een van die beskuldigdes in die sogenaamde Parys-boere-moordsaak, het Woensdagmiddag in die hooggeregshof getuig.

Nomhle Salmina Plaatjie het aan die hof gesê sy het tussen twee en drie jaar lank vir Boeta as ʼn huishulp gewerk. Volgens Plaatjie het sy in Augustus 2016 by Boeta bedank en het sy elders begin werk.

Boeta staan saam met sy seun Loedie van der Westhuizen (19), Anton Loggenberg (50), sy seun Cor Loggenberg (20), Miela Janse van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47) tereg op twee aanklagte van moord in verband met die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Van Vuuren is Boeta se skoonseun.

Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep mans wat Tjixa en Jubeba op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip, net buite Parys, aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Ockert van Zyl, ʼn boer uit die gemeenskap wat die betrokke aand op die toneel was, het vroeër Woensdag getuig hy het gesien hoe Boeta een van die mans met ʼn rubberbelt, vermoedelik ʼn waaierband, slaan en hoe Prinsloo die man met ʼn skokstok skok. Van Zyl beweer Anton en Cor was ook op die toneel, maar sê hy het nie gesien dat hulle enigiemand aanrand nie. Hy het aan die hof gesê hy het nie vir Loedie of Van Vuuren op die toneel gesien nie.

Boeta en Loedie word ook op ʼn derde aanklag van regsverydeling aangekla. Die staat het vroeër in die verhoor gesê van die getuies sal getuig dat van die persone wat by die beweerde aanranding van die oorledenes betrokke was, dae ná die voorval na Boeta se plaas ontbied is waar hulle aangesê is om hul skoene wat hulle die dag van die voorval aangehad het, te verbrand.

Al ses beskuldigdes het skuld op die aanklagte teen hulle ontken.

Plaatjie het gesê sy was die oggend ná die beweerde aanranding by Boeta se huis. Sy het getuig sy moes verskeie huislike take verrig soos om die huis skoon te maak en die wasgoed te was. Plaatjie het getuig dat sy van kamer tot kamer gegaan het om vuil klere bymekaar te maak om te was. Sy het gesê sy het in Boeta se kamer ʼn kakie-kortbroek, hemp en rooi-en-swart tekkies op die vloer aangetref wat met bloed bevlek was.

Plaatjie het gesê sy het die vorige aand by haar man gehoor van “die mense wat deur wit mense aangerand is” en het daarom gedink die bloedbevlekte klere kan moontlik van belang wees. Sy het die klere met die bloed op eenkant gesit en gedink die polisie mag dalk later by die huis opdaag om dit te kom haal. Toe die polisie teen die middag nog nie opgedaag het nie, het sy die broek en die hemp gewas. Sy het getuig sy het nie die tekkies gewas nie omdat dit te laat sou wees vir dit om droog te word.

Volgens Plaatjie het sy aan die einde van haar werksdag die tekkies by die huis gelos. Sy het gesê sy is die volgende dag vir twee weke lank met verlof en het sedertdien nooit weer die tekkies gesien nie.

Boeta van der Westhuizen en Anton Loggenberg tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Mariné Lourens

Kobus Burger vir die verdediging het tydens kruisondervraging vir Plaatjie daarop gewys dat daar nie in haar verklaring, wat sy aan die polisie afgelê het, enige melding van die bebloede tekkies gemaak word nie. Hy het gesê slegs die broek en hemp met die bloedvlekke word genoem. Plaatjie het gesê sy weet nie hoekom dit nie in die verklaring geskryf is nie.

Burger het ook aan haar die stelling gemaak dat Boeta in daardie tyd nie rooi-en-swart tekkies besit het nie, maar slegs bruin tekkies. Plaatjie het dit betwis en gesê hy het twee pare tekkies gehad. Burger het ook ontken dat Boeta die aand van 6 Januarie 2016 ʼn kakie-kortbroek aangehad het en het aangevoer Boeta het daardie aand ʼn swart PT-broek aangehad. Plaatjie het geantwoord dat sy nie die volgende dag ʼn swart PT-broek tussen die wasgoed gesien het nie.

Sy het tydens die kruisondervraging toegegee dat sy nie die polisie gebel of besoek het om hulle van die bebloede klere in te lig nie, hoewel sy gedink het die klere kan moontlik van belang wees. Sy het ook gesê niemand het haar opdrag gegee om die bebloede klere te was nie.

Regter Corné van Zyl het Plaatjie gevra hoe sy geweet het watter klere in die huis aan watter familielid behoort. Plaatjie het geantwoord sy kon ooglopend sien watter klere aan wie behoort. Sy het gesê Van Vuuren en Boeta se dogter se klere het in ʼn aparte wasgoedmandjie by die huis aangekom en sy het dit dus eenkant gehou.

Burger het Plaatjie gevra of sy bewus is daarvan dat daar met tye beeste op die plaas geslag word en dat daar soms bloed op die klere beland van die mense wat by die slagtery betrokke is. Plaatjie het gesê sy is bewus daarvan.

Plaatjie het op ʼn vraag van Burger gesê sy het vir Tjixa en Jubeba geken. Sy het ook bevestig dat sy en Tjixa destyds vir Boeta se dogter gehelp trek het. Sy het gesê in hierdie tyd het sy een keer vir Tjixa gesien met ʼn voorwerp wat baie soos ʼn vuurwapen gelyk het. Sy kon nie bevestig of dit ʼn rewolwer of ʼn pistool was nie, maar het gesê dit het soos ʼn handwapen gelyk.

Sy het ook tydens kruisondervraging gesê sy het nooit die hofsaak met Boeta of haar nuwe werkgewer bespreek nie.

Die verhoor sal Donderdag om 09:00 hervat.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Sê maar net. ·

Hoeveel onskuldige boere word nie daagliks gemartel en wreed vermoor nie? Nou kry die makkers van hulle eie medisyne en daar is so groot storie! Maak mens briesend!

Vic ·

Ja, maar waar is ons. Ons hou groot protesaksies vir Gordhan, maar nie vir ons eie mense nie. People treat you the way you allow them to treat you

al ·

Is waar Vic. Dis waarom daar op ons getrap word want sorry vir ekskuus dat ek in apartheid gebore is en dat my voorouers jul dalk te nagekom het (hel ek weet nie! Daar is nie bewyse nie) witmense wat in ons samelewing rondloop.
Maroela moet navorsing doen van ander artikels waar vigilante hofsake hoofnuus gehaal het.
Of is dit ñ geval van: I am white, why are you so obsessed with me?

Chilli ·

Wel as iemand my aanval sal ek hulle ook bebloed laat wat de hel

buks ·

Boeremense is ons goeie mense die sout van die arde. Ek het arm opgegroei op n plaas sonder luukshede en states. My ouers het ons alles geleer en self die werk laat doen soos dit op al die ander plase ook gegaan het. My ouers was soos al die ander boere daarvan beskuldig dat hulle belasting diewe is. My Pa se boerdery is soos n besigheid en so kan mens nie meer aangaan nie. My kinders belowe my julle sal nie eendag gaan boer wanneer julle groot is nie. Na meer as 40 jaar verstaan ek hoekom hy die plaas in 1975 verkoop het.
Mense boere is ook net mense ons mense. Baie dankie julle manne met die TOYOTA land cruisers en die met ander tiepe trokkies of bakkies ook, ek bewonder julle vermoens.

Viky ·

Daai skelms sou dalk nog gelewe het as die dokters hul wou help. En nie net lappies op gesit het nie. Oja hul kry ook nie water nie. Jy moet opstaan en by die kraan gaan suig. Die saak van hoe hul dood is. NB

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.