Pa’s vies oor stief behandeling

Tussen probleme met onderhoud, ouerskapsplanne, maatskaplike stelsels, bemiddeling en die regstelsel, is daar ʼn swak uitvoering van pligte om ʼn bevredigende oplossing vir almal te kry. (Argieffoto: Unsplash)

Talle pa’s wat ontneem word van die reg om kontak met hul kinders te hê, veg landwyd ʼn verbete stryd om wetgewing hieroor te laat wysig.

Gary da Silva, voorsitter van die organisasie Fathers4Justice, sê Suid-Afrika bedryf parallelle regstelsels vir vroue en mans wat betref toesig oor hul kinders. “Pa’s is nie die probleem nie, dit is die regstelsel waar die probleem lê,” sê hy.

Volgens Da Silva is howe traag om vroue wat ooreenkomste verontagsaam voor stok te kry, terwyl syfers oor sogenaamde afwesige pa’s dikwels teen pa’s gebruik word. Hy sê meer as 78,8% van pa’s word uit hul kinders se lewe gesluit weens ʼn vyandige regstelsel en ʼn egskeidingsbedryf wat nie kinders se belange op die hart dra nie, maar juis uit hulle wil geld maak.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Augustus vanjaar in sy weeklikse nuusbrief geskryf afwesige pa’s wat geen onderhoud betaal nie, vererger die ekonomiese situasie in huishoudings waar vroue aan die hoof staan. Volgens die president het die “tragiese” verskynsel gevolge vir kinders se ontwikkeling. Daarby woon tussen 74% en 92% van kinders onder vier rasgroepe net by hul ma’s.

Da Silva sê egter onder die bestaande stelsel het ʼn pa ʼn kans van een uit tien om as primêre versorger van sy kinders aangewys te word.

‘My kinders ken my nie’

Christo* is ʼn 48-jarige pa van Pretoria met twee seuns van onderskeidelik 12 en 14 jaar oud. Hy betaal maandeliks onderhoud en die kinders se mediese fonds. Maar van ʼn verhouding met sy kinders is daar geen sprake nie.

Ten spyte daarvan dat hy ná sy egskeiding van die seuns se ma duisende rande aan regskoste en sielkundige evaluering opgedok het in ʼn poging om sy verhouding met hulle voort te sit, is hy “só suksesvol van hulle vervreem” dat nie een van die seuns vandag meer iets met hom te doen wil hê nie.

“Dit was ʼn siek spul en het my baie trane en geld gekos. Die proses het ook soveel tyd laat verloop dat ek heeltemal van my seuns vervreem is. Ek weet vandag nie eens waar hulle is nie.”

Christo sê die stryd het hom byna geknak. Hy is finansieel geruïneer en sy naam beswadder. “Die vernedering waardeur ek is … bewerings dat ek my kinders seksueel aangerand het en my eksvrou en die kinders aangerand het, dat ek ʼn alkoholis is. Dit was verregaande wat sy in die proses gedoen het.

“Ek is vandag nog steeds verskriklik lief vir my manne, maar ek het níks van hulle nie.”

Christo sê die enigste kontak wat hy met sy seuns het, is wanneer hul ma dit telefonies toelaat. Die selfone wat hy vir hulle gekoop het se nommers is verander. WhatsApp-boodskappe gaan nie deur nie. Hy vermoed hulle woon in Pretoria, maar is nie seker nie.

“Ek het in 2012 laas saam met my seuns vakansie gehou. My hele familie is van my kinders vervreem – en nie deur my of hul eie toedoen nie.”

Hy sê hy word vandag bestempel as ʼn “onbetrokke pa” ondanks sy desperate pogings om deel van sy kinders se lewe te wees.

“Indien ʼn kind sterf, kan jy dalk nog eendag op ʼn manier berusting vind – nie dat dit makliker is nie. My kinders lewe, maar ek het nie die voorreg om hulle te druk en vir hulle te sê ek is lief vir hulle nie.”

Hervorming nodig

(Argieffoto: pixabay)

Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het vroeër vanjaar ʼn verslag bekend gestel waarin die faktore wat daartoe lei dat biologiese pa’s sukkel om hul regte ná vervreemding of egskeiding van die kinders se ma’s uit te oefen, ondersoek is.

Die studie is gedoen weens voortgesette klagtes van ongetroude, vervreemde of geskeide pa’s oor hul kinders wat onder die toesig van hul voormalige maats is. Die kommissie sê dit blyk dat wetgewing dikwels geen hulp vir dié pa’s – wat bitter graag ʼn verhouding met hul kinders wil handhaaf – bied nie. Boonop word hulle dikwels gebrandmerk as “afwesige pa’s” of onverantwoordelike niksnutte.

“Dit is dikwels die pa’s wat ongetroud, vervreem of geskei is wat die las dra om van hul ouerskapsregte en -verantwoordelikhede ontneem te word, veral die reg op kontak met hul kinders,” lui die verslag.

Die studie het bevind die breë reg- en maatskaplike stelsel is onsamehangend, verspreid en nie eenvormig in sy hantering van individuele sake nie. Tussen probleme met onderhoud, ouerskapsplanne, maatskaplike stelsels, bemiddeling en die regstelsel, is daar ʼn swak uitvoering van pligte om ʼn bevredigende oplossing vir almal te kry.

“Die gevolg is dat die beste belang van die kind dikwels nagelaat of verwaarloos word.”

Die kommissie beveel ook aan dat sekere artikels van die Kinderwet wat teen pa’s diskrimineer, hersien en gewysig moet word.

Da Silva sê Fathers4Justice beywer hulle onder meer om artikels 19, 20 en 21 van die wet ongrondwetlik te laat verklaar.

Dié artikels handel oor die ouerskapsverantwoordelikhede en regte van ma’s, ouerskapsregte en verantwoordelikhede van getroude pa’s en dieselfde regte en pligte spesifiek vir ongetroude pa’s. Die kommissie het in sy verslag die mening uitgespreek dat laasgenoemde twee artikels boonop moontlik ongrondwetlik is.

In ʼn voorlegging van Justice4Fathers voor die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling, het Da Silva onder meer gevra dat kinders ʼn wesenlike reg op ʼn formele verhouding met albei ouers en hul families moet hê. Hy het ook gevra dat artikel 22 van die wet – wat handel oor ooreenkomste oor ouerlike regte en verantwoordelikhede in die geheel – geskrap moet word omdat dit teen pa’s diskrimineer en net ma’s bemagtig.

Moenie moed opgee

Yolandi Singleton is ʼn maatskaplike werker, spelterapeut en hoof van Helpende Hand se Ons Sentrum in die noorde van Pretoria. Sy sê ná die inwerkingstelling van die nuwe Kinderwet in 2005 het pa’s se regte aansienlik begin verbeter. In sommige gevalle steek sommige betrokkenes egter steeds vas by die gedagte dat “ʼn kind by die ma hoort”.

“Soms is ʼn pa egter die beste opsie, maar talle pa’s sukkel om hul regte afgedwing te kry,” sê Singleton.

Sy waarsku ouers ook daarteen om kinders in die magstryd te gebruik.

“Kinders kan nie onderskei tussen wie watter foute gemaak het nie en sien nie die wêreld uit ʼn volwasse oogpunt nie. Hulle het dieselfde liefde vir ʼn ma en ʼn pa en dit gaan oor die individuele liefde vir ʼn ouer.”

Sy sê sy het begrip dat baie pa’s verontreg voel. “Die ma’s baklei hard en sê ʼn kind het sy ma nodig. Maar ʼn kind het sy pa óók nodig.”

Singleton sê sy moedig pa’s wat ongelukkig is met die voorwaardes wat aan hulle gestel word of die regte wat hulle toegelaat word, om ʼn tweede mening te kry en aan te hou hulp soek.

Vir Christo lê nog ʼn Kersfees sonder sy geliefde seuns voor. Hy hou steeds aan bel, stuur boodskappe en kom getrou sy finansiële verpligtinge na. En hy hoop.

“Dis Kerstyd, hier is ʼn Covid-19-pandemie. Is my seuns oukei?

“Mense skei, maar dit is nie die kinders se skuld nie. Kinders is nie veronderstel om die prys vir grootmense te betaal nie.”

*ʼn Skuilnaam is gebruik om die familie te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Quito ·

Dan is daar ook die gevalle waar die kinders nie met die Pa wil kommunikeer/besoek nie, omdat die Ma’s die Pa’s se beeld swartsmeer by die kinders.
Die lewe op aarde is moeilik (en dis so onnodig), maar gelukkig is daar ‘n hiernamaals.

Perdeby ·

Dis mos wat die man jou oor Kla. Hierdie ma’s moet maar in die hof gaan verduidelik hoekom hulle Dit
doen, want die oomblik wat hy 1 maand iets nie betaal nie is sy by die hof. Ek sou alles die helfte van haar terug geeis het, en ek is self n vrou.

Johann ·

Ek twyfel maar sterk of dit ooit sal verander,beste van als die nuwe “stiefpappa” se agtergrond word nooit nagegaan,hy kry kersfees,verjaarsdae en sien hoe jou kind groot word,hy begin gesien word as die vader figuur aangesien hy vir mamma bevredig,meeste gevalle is hy glad nie betrokke by mediesefonds betaal,skoolgelde ens ens,hy skep net die room.

My siening ·

Stief pa’s doen in my geval meer as pa wat niks doen en regte toeëien.

RB ·

Danie, daar sal altyd ook sulke gevalle wees – waar ‘n stiefpa vèèl meer doen as wat die biologiese pa ook sal, kan of wil doen.
Ek salueer sò stiefpa, ek ken ook so een.

Maar steeds is daar veel meer biogiese pa’s wat die reg op toegang tot hul kind/ers ontneem word deur ma’s wat gierig en selfsugtig is.
As ouers skei is dit ‘n keuse, kinders behoort nooit pionne in hul magspel te word nie.

Verantwoordelike ouers wat hul kinders liefhet en eerste aan hulle dink (soos dit hoort!) sal soos volwassenes ‘n weg vind wat in alle opsigte in beste belang van die kinders is. Dit IS moontlik!! Ek weet.

Die hof behoort nie eers betrokke te wees nie. Ongelukkig is daar hopeloos te min egskeidings tussen volwassenes wat kinders werklik eerste stel.

Onthou dat die kind/ers nie hul lewe gekies het nie. Hulle is ‘n resultaat van 2 mense se keuse.

Carel Aaron ·

Verander jou gesindheid teenoor die pa. Wil jy die kinders nog gelukkiger sien? Volg my raad.

Barend ·

Die huidige wetsontwerp faal Pa’s wat wel hulle kinders wil ken.
Egskeiding is n positiewe finansiele besluit vir die Ma gewoonlik. Ekskeidi g betaal met anderwoorde. As n geskeide Pa met 2 kinders wat verandwoordelik is vir skool fonds, medies, extra lesser onderhoud en dan al daai ander extras wat gevra word. Rekenaars, selfone, toere ens. As jy dit nie kan doen nie word jy gelabel as n sleg niks vir goed Pa.

Ek is gelukkig en sien my kinders gereeld. Dit was amper nie die geval nie. Sy wou my emmigreer. As dit nie vir Covid was nie het ek my kinders ook vir jare dalk nie gesien nie.

Vlooitjie ·

Ek haal my hoed af vir jou. Ek het geen respek vir vrouens wat kinders as wapens gebruik nie.

Lourens CFG ·

Jy is baie gelukkig Barend, ons (paterne grootouers), en ons seun het kleindogter 5 jaar laas mee kontak gehad.
Haar sel no is verander en ons is nie, soos met die skei beslissing, die nuwe no gegee nie.
Deur die regs proses kry ons ook niks uitgerig nie.
Ons staan nou al op 70, en weet nie of ons haar ooit weer sal sien nie.
Maar ons is mos die monsters.

henndrik ·

Ja Lourens, dit is baie waar, ons is in dieselfde bootjie – ek wil maar net glo die wiel sal draai en daar sal geantwoord moet word

FM ·

Die uitsondering op ‘n reël is bewys dat dit ‘n reël is.

‘n Saak het altyd 2 kante

en die 3de kant word selde in ag geneem.

Kinders is altyd uitgelewer sonder nodige kennis om keuses te maak en hulself te beskerm.

Bitter min volwasse mans en vroue is toegerus om liefdevolle ouers te wees.

Indien daar van dag een erns gemaak word met my verhouding van my lewensmaat, sal mans en vroue beter toegerus wees om ‘n lewenslange verhouding te hê.

DAN WORD DAAR NIE GEVEG OOR KINDERS NIE!!!!!!!

Casper ·

Die huwelik is harde werk met hope uitdagings waarvan die belangrikste is om te kommunikeer.Wys intense belangstelling in mekaar se doen en late sonder om op makeer te spioeneer.Doen dinge saam as gesin.Baklei nooit voor die kinders nie en gaan slaap
nooit kwaad vir mekaar nie.

Eugene ·

Ek het na n lang stryd en baie geld primer van my kind gekry, was n eye opener om te sien hoe skreiend bevoor-oordeeld die stelsel teen n pa is. Ek sou in die tronk gewees het indien ek soos sy opgetree het, En die probleem is dat mans ni meer wil trou ni, hulle weet hulle gaan geskroef word, en gesonde gesinslewe word al skaarser, onder ons liberale wette.

RB ·

Wel gedaan, Eugene.
Die stryd en geld is ‘n nietigheid in vergelyking met wat jy nou het.
Wees nou die pa wat jy geleentheid het om te wees. Geniet die voorreg van Pa-wees met al die vreugdes en uitdagings wat dit bring!

Eerste prys en ideaal vir almal is ‘n stabiele, gelukkige gesin waar pa en ma trou vir liefde, saam gelukkige kinders gedissiplineerd grootmaak en eendag saam beleef hoe daardie kinders hul eie grootmaak. Dis die volheid van die Woord: kindskinders is ‘n grysaard se kroon.

Eric ·

Dit wat hierbo geskryf is het ek ook deur gemaak. Ek was kort-kort in die hof vir verhoogde onderhoud maar ek mag kinders nié sien nié. Sy en haar vriend het oornag weg getrek sonder dat ek on kennis gestel is. Eers Nigel toe en toe Pretoria toe. Ek is daarvan aangekla dat ek my kinders ontvoer het toe die kinders by my kom kuier in Alberton en na my ouers gery het vir n naweek on Kroonstad. Die SAPD het toe geslaan by my ouers se huis en gesê ek het kinders ontvoer. Ons almal was baie geskok oor dit. Die SAPD het my punt verstaan en my mee gedeel as ek Sondag terug ry moet ek by Polisie aanmeld. Aangemeld storie vir hulle vertel en net geskok gestaan oor alles vir my gesê ek kan maar gaan. Dit is toe hulle skelm trek. Die regstelsel is uiters pateties vroue kan maak soos sy wil as sy geskei is man lei daaronder

Carel Aaron ·

Dit is nie ontvoering nie. Hoigstens verontagsaming van ʼn hofbevel.

Carel Aaron ·

Dis nie die kinders wat skei nie Mevrou en Meneer. Hou hulle ook uit jul gevegte.
Kinders wil nie ondervra word nie. Stop dit.

Indien een ouer ʼn ander een afkraak en sleg maak dan voel die kind hy/sy is 50% net so sleg of het 50% slegte gene.

Besluit om in vrede te skei en moenie die ander een wil straf nie. Moenie hom/haar uit mekaar sil breek en verpletter nie. Dis tog die ma/pa van jou kind(ers). Wees volwasse.

Winnie ·

Die wet moet sê dat die pa sy onderhoud kan terughou as hy nie sy kinders kan sien nie. Daardie geld word in elk geval nie gebruik vir die kinders nie. Die ma en nuwe man moet tog eet en dis nou nie dat die kinders honger gaan slaap nie. Die hele stelsel diskrimineer teen die pa en bevoordeel die ma wat die kinders as pionne gebruik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.