Pasiënt sterf tydens aanval op ambulans

(Foto verskaf)

ʼn Pasiënt is Maandagaand in ʼn ambulans dood tydens ʼn boendoegeregtigheid-aanval in Atteridgeville in Gauteng. Paramedici wat op die toneel was, is steeds getraumatiseer.

Nomantu Nkomo-Ralehoko, provinsiale LUR vir gesondheid, het inwoners in die provinsie gemaan om nie reg in eie hande te neem nie en om nie nooddienste se bedrywighede te ontwrig nie.

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar,” het sy oor die voorval gesê. “Ons kan nie toelaat dat die samelewing só agteruitgaan nie. Boendoegeregtigheid en om die reg in eie hande te neem is nie ʼn antwoord op sommige van die sosio-ekonomiese toestande wat gemeenskappe raak nie. Daar moet ʼn beter manier wees.”

Sy sê gesondheidswerkers se werk is om sonder onderskeid diegene te behandel en te versorg wat dit nodig het.

Personeel van Gauteng se nooddienste, ook bekend as die Green Angels, is aangeval toe hulle ʼn persoon, wat aangerand is, behandel het. Die persoon was in ʼn kritieke toestand.

ʼn Ambulans is om 19:44 ontbied en paramedici is om 20:00 na die gebied ontplooi. Polisiebegeleiding is versoek om die reaksiespan te help om die gebied veilig te betree.

“Die pasiënt het reeds op die grond gelê en was omring deur die gemeenskap,” het Nkomo-Ralehoko in ʼn verklaring gesê. “Paramedici het met behandeling begin en was op pad om die persoon na die naaste hospitaal te neem.”

Net toe die ambulans wou wegry, het die gemeenskap reageer en die voertuig met klippe begin bestook. Hulle het ook die pad versper om seker te maak dat die ambulans nie kon wegry nie.

“Hulle het die pasiënt van ʼn misdaad beskuldig en het dadelik geregtigheid geëis.”

Die Green Angels het skuiling gesoek, maar die pasiënt is verder in die ambulans aangerand. Die ambulans is ook beskadig en mediese toerusting is uit die voertuig gesteel.

ʼn Saak is by die polisie aanhangig gemaak.

Nkomo-Ralehoko het onderneem om met die departement van gemeenskapsveiligheid in gesprek te tree om te kyk wat gedoen kan word om soortgelyke voorvalle te voorkom.

Die paramedici op die toneel is vir waarneming gestuur na Kalafong- provinsiale hospitaal. Hulle sal ook berading ontvang as deel van die personeelwelstandsprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

AmY ·

So; hulle het die pasient van ‘n misdaad beskuldig, maar toe beskadig en plunder hulle die ambulans?
Nou verstaan ek dit regtig nie…

Nie Verbaas ·

Onthou dat onopgevoede sekeres nie omgee wat jy verstaan of wat vir ons as wel opgevoede mense aanvaarbaar is nie. Die res gaan mekaar ook seker nou uitroei wanneer hulle eienaarskap van die gesteelde toerusting eis.

Dup ·

Goeie advertensie vir hierdie “veilige” land van ons.Absolute anargie is ons voorland!

Daniel ·

My magtig hoekom bel hulle nie vir Cele nie hy is n geleerde man en net die man omdaai wreedards n les teleer onthou dit volgende keer asb

Hennie ·

Nou hulle sê die ambulans is deur die polisie begelei – nou waar was hulle dan toe dit nou gebeur??!

Hennie ·

As die verdomde regering by wyse van Cele nie die orde kan handhaaf nie, dan sal die burgers die werk vir hom doen….

AnnieA ·

Ek sê vir geen oomblik hulle was reg nie. Wat ek wel sê en elke dag sien, is mense is keelvol om blootgestel te word aan Moord, Roof en verkragting. Om die Polisie te bel help nie, As daar ooit ondersoek word, sloer die saak Jare en kry hulle belaglike vonnis.

Peter ·

ja wat, dis hoe dit is wanneer alles uitmekaar val,soos aasvoels

Delia ·

Mense is soooo moeg vir misdaad. Hulle neem reg in eie hande. Ek stem nie saam met wat hulle doen nie. Maar ja…

Faraway ·

Polisie moes hulle begelei. . . waar was die toe Ambulans weer wou vertrek met pasient?

marius ·

“Ons kan nie toelaat dat die samelewing so agteruitgaan nie ” Swaai jou tower staffie ou bul . Die samelewing is flardes

Swerwer ·

Hou op praat en maan, tree teen die wesens op! Praat help nie en gaan niks uitsorteer nie. Maar nou ja, solank die Kommuniste in beheer is van die land gaan dit beslis nie verbeter nie maar wel vererger.

Danie ·

Die hulp het ook verdwyn of soos bewys bestaan gestaan en kyk.Ons kan geensins meer op die ondersteuning en hulp van die polisie vertrou nie..

Andries MT ·

Ou hoed se mos nou skiet eers en vra dan vrae!!!!!!!!!!

Feite ·

Elke liewe keer as ek die woord ‘GEMEENSKAP” of ‘COMMUNITY” hoor! Rerig?
Dis KRIMINELE! CRIMINALS!
Niks anders nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.