Pastoor toe wolf in skaapklere – skrywer as kind misbruik

Vir agt jaar lank was die skrywer, Rhona Kotzé, sy minnares in haar wanhopige soeke na ʼn vaderfiguur. (Foto verskaf)

ʼn Vertroude pastoor en Godsman het haar kinderlewe verwoes. Met stroperige komplimente en valse liefdesverklarings het die “gesiene” man met hierdie 13-jarige tiener in sy gemeente se kop begin smokkel. Agt jaar lank was die skrywer, Rhona Kotzé, sy minnares in haar wanhopige soeke na ʼn vaderfiguur. Die pastoor was 40 jaar ouer as sy – en getroud.

Daarom wil sy jongmense en hul ouers teen gesagsfigure waarsku. Moenie iemand wat danig met jou kind is sommer goedsmoeds vertrou nie, is haar boodskap.

Daar is nou planne om die heruitgawe van haar boek Pedale van papier in ʼn fliek te omskep. Sy het reeds met die vervaardigers gesels.

Die boek het met sy eerste druk heelwat aandag van die media gekry. Intussen is nuwe inligting bygewerk.

Rhona se roman is op ʼn ware verhaal (haar eie) gebaseer en gaan oor ʼn dogter se aanneming, verwerping en molestering deur ʼn persoon wat sy vertrou het.

Sy het eers op 15 uitgevind dat sy aangeneem is. Dit was vir haar ʼn ontsaglike skok. Haar aanneemma, wat vir haar baie lief was, het vir haar gelieg en haar vertel dat haar biologiese ouers in ʼn motorongeluk gesterf het. Haar biologiese ma was glo ʼn musiekonderwyseres en haar biologiese pa ʼn diplomaat. Alles leuens.

Haar aanneemouers het haar by die hospitaal kom haal toe sy 3 weke oud was want sy moes eers op die regte melkformule kom.

Haar afwesige aanneempa was ʼn alkoholis wat min aandag aan haar gegee het. Hulle was boonop brandarm. Die balju het gereeld aan hul voordeur gehamer, maar daar was altyd geld vir brandewyn, en vandag weet sy dit is die rede waarom sy en haar ma in die mielielande gaan wegkruip het.

Haar soeke na ʼn pa het tot rampspoed en posttraumatiese stresversteuring gelei toe “liefde met ʼn agenda” na haar toe gekom het. In die vorm van die wyd gerespekteerde pastoor wat sy longe kon uit preek en haar opgehemel het oor haar besluit om haar te laat doop. In die einste doopbak het hy met haar voetjie-voetjie gespeel.

As ʼn mens so na haar luister, besef jy hy was niks anders as ʼn verhoogakteur nie. ʼn Wit gepleisterde graf. ʼn Soort Dr Jeckyll en Mr Hyde.

Rhona was versot op klavier speel maar daar was nie geld vir ʼn klavier nie. Tog was daar geld vir ʼn televisiestel. In haar kindergemoed was dit “bloedgeld, droomgeld, gelukgeld”.

Sy was ʼn eensame eenkantkind. Daar was ʼn aantal selfmoordpogings in haar gesin. Haar aanneemma het probeer selfmoord pleeg deur met haar en haar boetie in ʼn sloot te probeer ry. Haar broer, toe 14, het net betyds die stuurwiel weg geruk.

Haar aanneempa het net een dag met sy motor en ʼn tuinslang weggery en het probeer om homself te vergas. Sy het hom in die hospitaal gaan besoek. Hy was doodsbleek.

Haar grootste vrees was dat haar ma, wat gereeld ʼn vuurwapen uitgehaal het en gedreig het om haarself dood te skiet, sou sterf. Hoewel die gesin disfunksioneel was, was sy Rhona se anker.

As haar aanneempa dan so lief was vir haar, hoekom het hy dan nooit met haar gepraat nie het sy gewonder.

Intussen was hulle verstom dat huiswerkers nooit langer as twee maande vir hulle gewerk het nie. Die rede? Rhona het by ʼn vulstasie gehoor hoe lief hy vir swart vroue was.

Haar gevoel van verwerping weens haar aanneming het al sterker geword. Toe ontmoet sy haar pastoor. Christelikheid en oorvriendelikheid het uit hom gestraal. Sy was aangetrokke tot sy “diep, ryk stem” en die liefdevolle manier waarop hy na haar gekyk het. Hy het op ʼn slinkse manier fisiek al nader aan haar beweeg en haar gewetenloos begin manipuleer. Die seks het eers later gevolg.

Afgesien van sy seun wat die hoofseun was in dieselfde skool wat sy bygewoon het, was sy ander kinders uit die huis uit. Hy kon byna haar oupa gewees het!

“Hy was my alles. My God. Al wat ek moes doen was om vir hom seksuele gunsies te gee. Dit was siek.”

Skelm ontmoetings het gevolg. Hy het haar oortuig dat “hul liefde” nie verkeerd kan wees nie. En sy het hom geglo. Almal het immers met lof van hom gepraat. Haar ouers was gek oor hom. Hy het selfs haar pa met sy drankprobleem gehelp.

“Ons het almal geflous. Net nie vir God nie. Maar die spanning, wegsteek en leuens het net te veel geraak.”

Sy onthou hoe netjies hy was – sedig in ʼn pak klere. Hy was altyd skoon geskeer en het lekker geruik. Sy onthou ook die koue in sy lugverkoelde motor.

“Ek het na hom gekyk soos na iemand wat ek wou hê my pa moes wees. Ek en my aanneempa het nie ʼn pa-en-dogter-verhouding gehad nie, en toe dit wel uiteindelik gebeur het, het hy aan kanker gesterf.”

Die omslag van Rhona se boek getiteld “Pedale van papier” wat nou ook in ‘n rolprent omskep word. (Foto verskaf)

Vir haar was dit moeilik om die pa en die kêrel te skei.

Rhona is na matriek onderwyskollege toe, maar het glad nie aan die studentelewe deelgeneem nie. Sy wou nooit uitgaan nie. Sy het net altyd by die tiekieboks vir sy oproepe gewag wat dikwels nooit gekom het nie. Dit was in die era voor selfone. Gesteelde studentejare.

Hulle verhouding het agt jaar lank geduur. Rhona het later uitgevind dat hy ook ander meisies misbruik het. Dit was die rede vir sy vroeë aftrede en verhuising.

“Ek was nie die enigste een wat misbruik, opgebruik en weggesmyt is nie.”

Dekades later het sy besef dat sy hom moet gaan vergewe. Sy het hom opgespoor. Sy kleindogter het die deur oopgemaak. Oupa was op die stoep.

Die prentjie was die van ’n grillerige stokou man wat sy tee in sy piering gemors het, met kolle op sy klere en krummels om sy mond.

Die kleindogter het vertel dat ʼn hele paar “tannies van die kerk” hom kom besoek het.

“Ek het ook jare later vir dr. Isak Burger van die AGS-kerk gaan besoek. Ek wou toestemming van hom kry om die boek te skryf aangesien ek oor sy kerk sou skryf.

“Ek wou so dikwels na hom toe hardloop as hy in ons kerk kom preek het en vir hom vertel daar is iets verkeerd. Ek wou net hulp kry.

“Toe ek hom die verhaal vertel sê hy dat dit seker nie iemand in sy kerk is nie. Ek sê toe vir hom; Doktor dit is.

“Daardie opregte man het in trane uitgebars en my om verskoning gevra. Hy het my ook deur die vergifnisproses gehelp.”

Rhona het daarna intensiewe sielkundige behandeling vir posttraumatiese stresversteuring ontvang nadat sy ineengestort het.

Bydraend daartoe was die skok-onthullings wat oor haar biologiese ouers gemaak is.

Sy het haar biologiese ma op 32 ontmoet en probeer om ʼn verhouding met haar aan te knoop, maar dit het misluk. Dis asof daar ʼn ondeurdringbare muur tussen hulle was. Baie afsprake is gemaak en gekanselleer. Hulle was vreemdelinge vir mekaar.

Haar biologiese ma het geweier om oor haar biologiese pa te praat omdat hy haar kamma “verkrag” het. Dit het nie vir haar sin gemaak nie, want beide se handtekeninge het op haar aannemingsdokument verskyn waar hulle haar afgeteken het. Weereens leuens.

Haar biologiese ma was woedend en het haar toegesnou dat sy bly is dat sy haar weggegee het. Sy moes uit haar lewe padgee. Sy kon nie glo dat ʼn ma haar eie kind verwerp nie.

“Dalk het ek haar aan my biologiese pa herinner, want ek lyk glad nie na haar nie.”

Sy moes ook hoor dat haar biologiese pa, wat eens ʼn skatryk en vooraanstaande man was, reeds in 1985 deur sy beste vriend vermoor is wat hom in die hart gesteek het. Die rede daarvoor was dat hy twee jaar lank ʼn skelm verhouding met sy vriend se dogter gehad het.”

Dit was groot nuus in al wat koerant was.

Rhona se eerste man het haar verwyt oor die verhouding met die pastoor. Hulle is na 33 jaar geskei.

Sy was in so ʼn donker gat dat sy eendag ʼn handvol slaappille geneem het, want sy kon nie meer nie.  Doodmoeg vir die soeke na aanvaarding, die leuens en die herhaaldelike verwerping – twee keer deur haar biologiese ma.

Sy is hospitaal toe gejaag. Die pille was nie genoeg om haar te laat sterf nie.

Dit het haar 14 jaar geneem om die boek te skryf omdat dit so traumaties was.

Vandag is Rhona volkome genees, ook van haar depressie, en al vyf jaar lank dolgelukkig met haar tweede man getroud.

“Ons is geesgenote.

“Die trauma behoort tot die verlede. Ek het ook nie wraak in my hart as motief vir die boek of die beplande fliek nie. My bedoeling is om vaderlose jongmense te waarsku om versigtig te wees vir iemand wat mooi woordjies in hul ore fluister.

“Dit gaan dalk nou vir jou werk, maar later haal dit jou in en sny jou soos ʼn mes. Ek kan net dankie vir die Here sê dat my kinders so ʼn wonderlike verhouding met hul pa, my eksman, het. En dat ek nou ʼn goeie man het.

“’n Dogtertjie se pa moet haar eerste liefde wees. As dit nie daar is nie, loop alles skeef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

whatever ·

Mag ander ouers se oë oopgaan vir wat onder hul neuse aangaan. Liefdevolle ooms, tannie, kerkleiers, oupa’s – ons kinders is sagte teikens.

Fontein Tannie ·

In hierdie kits era moet mens selfs meer bedag wees omdat die kinders baie meer blootstelling kry as paar jaar terug. Mens moet deesdae wa wyd wakker wees om mens se eie te beskerm…

JvR ·

Sodra daar ds, pastoor, predikant, vader en as n aanspreekvorm gebruik word, sien ek rooi ligte en hoor sirenes

Koen ·

Vir seker. Ook as iemand teksversies aanhaal en sê: “lekker daggie hoor”.

Linda ·

Is alle pastore nie maar goeie akturs nie? Daar is GELD in godsdiens! Vra vir Heinz Winckler en sy vrou? Hulle aanbid MAMMON, met die Bybel onder die arm.

Wielspore ·

Dan is daar ook molesteerders in gesags posisies soos die weermag. Hier word gesag in die vorm intemidasie gebruik om die slagoffer te onderwerp aan misbruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.