Perdry sit leervaardighede op ’n galop

Argieffoto (Foto: Verskaf)

Vyftien tot twintig minute per week op ’n perd se rug kan ’n reuse-verskil maak aan ’n kind se leervermoë én gemoed.

Só het navorsing bevind wat deur die Eduplex Voorskool in Pretoria bekendgemaak is.

Volgens kenners toon kinders na afloop van die vierde nywerheidsrewolusie, asook die Covid-19-pandemie, al hoe meer leeruitdagings en hierdie navorsing het bevind dat terapeutiese perdry kinders hiermee kan help.

“Die eerste sewe jaar van ’n kind se lewe is die belangrikste tydperk vir groei en ontwikkeling. As ’n mens in hierdie tydperk uitdagings kan identifiseer en dadelik werk daarvan maak of net kinders se leervaardighede optimaal ontwikkel, kan baie probleme in die toekoms uitgeskakel word en kinders hul volle potensiaal bereik. Perdry is een van die doeltreffendste en prettigste maniere om dit te doen,” het Tracey Teague, skoolhoof van Eduplex Voorskool, gesê.

Volgens Teague toon die navorsing dat kinders tientalle vaardighede op die rug van ’n perd kan aanleer, asook liggaamsdele en ander liggaamlike vermoëns ontwikkel. Dit dra op die ou einde alles tot beter akademiese prestasie by.

Dit sluit in spraak- en gehoorskerpte, ruimtelike persepsie, spiertonus, hand-oog-koördinasie, nekspier-ontwikkeling, balans, postuur en bilaterale koördinasie.

“Daar is reeds jare gelede bewys dat leerprobleme ontstaan as gevolg van lae spiertonus en stram romp-rotasie. Ruimtelike oriëntasie, middellynkruising en oogbewegings is ook bepalende faktore. Perdry spreek al hierdie ontwikkelingsfaktore aan.

“Dit is die enigste sportsoort wat ’n positiewe uitwerking op lae sowel as verhoogde spiertonus het. Die ritmiese beweging van die bekken vernietig spastiese patrone en verbeter beheer oor die nek, rug, liggaam en romp.”

Teague sê wanneer die vestibulêre stelsel – wat reageer op die liggaam se bewegings in ruimte en die verandering van die kop se posisie –  nie aktief is nie, is die kind se spiertonus gewoonlik laag en word kinders gou moeg. Perdry help ook om hierdie stelsel weer aktief te kry.

Carla-Ann Luttig, eienaar van Happy Hopily Horse Academy, ʼn perdryskool in Centurion, sê perdry maak kinders kalmer en help met fokus, wat ook só leerprobleme aanspreek en bydra tot die ontwikkeling van belangrike vaardighede by kinders.

Perdry gee angs, depressie ook uitklophou

Argieffoto (Foto: Verskaf)

Die voordele van perdry is nie net tot liggaamlike en breinontwikkeling beperk nie, sê Teague en Luttig.

Volgens Luttig het sy deur haar perdryskool opgemerk dat angs en depressie ná die Covid-19-pandemie onder die kinders en selfs die ouers toegeneem het.

“Die kinders voel beter na ’n perdrysessie omdat endorfiene (goedvoelhormone) afgeskei en bloedvloei gestimuleer word. Dit is soos om te oefen.”

Sy sê van die ouers voel ook rustiger wanneer hulle selfs net die perd borsel of vryf.

“Dit is omdat perde se hartklop stadiger as ʼn mens sʼn is. Wanneer mense dan naby perde kom, raak hul hartklop ook stadiger. Dit is asof die mens die perd se rustiger hartklop aanneem en dan outomaties ook kalmer voel.”

Luttig verduidelik dat perde nes mense emosies ervaar en daarom die mens se psige so goed verstaan.

“Die perd voel die mens se emosies aan. God het hulle vir ons as terapeutiese hulpbronne gestuur.”

Talle van Luttig se kliënte is mense met sielkundige probleme of afwykings, wat na haar ryskool kom om perd te ry as vorm van terapie. Spesifieke perde word aan hierdie persone toegewys.

Volgens Teague kry kinders ook selfvertroue wanneer hulle leer om perd te ry.

“Hulle sien met tyd hulle kan iets bemeester en mettertyd word die aanvanklike vrees vervang met vertroue en ’n liefde vir die perd.”

Luttig vertel baie van haar studente wat by die ryskool begin, is aanvanklik skaam en teruggetrokke, maar toon met tyd meer selfvertroue.

“Hoe beter hul perdry-vermoë word, hoe meer selfvertroue kry hulle. Om te weet jy kan só ʼn groot dier beheer, is iets om op trots te wees.”

Sy sê die kinders leer ook belangrike lewenslesse.

“Hulle leer geduld deurdat hulle met die perd geduldig moet wees. Hulle leer ook wat gesag is, deur streng met die perd te praat, sonder om op die perd te skree. Die kind moet vir die perd wys hy of sy is in beheer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.