Perlemoenplaas aan Weskus floreer

(Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Liezl Human, GroundUp

In die vissersdorpie Doringbaai aan die Weskus spog die lede van die gemeenskap met hul eie perlemoenplaas wat sowat 60 ton perlemoen jaarliks produseer en wettig na China uitvoer. Die gemeenskap besit 37% van die plaas en help om dit te bestuur, terwyl sowat 50 lede van die gemeenskap self ook op die plaas werk.

Dit is nie net volhoubare perlemoen, ʼn kritiek bedreigde spesie, wat hulle wil lewer nie; die groep wil ook werkgeleenthede vir die inwoners hier skep.

“As ons beskerm wat ons het, sal toekomstige geslagte ook daarby baat kan vind,”sê Ruben Saul, voorsitter van die Doringbaai-ontwikkelingstrust wat die lede van die gemeenskap se aandele in die plaas bestuur.

(Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Die plaas is op grond wat al langs die hawe van Doringbaai, sowat 40 km van Lambertsbaai, strek. Die perlemoen word in verskeie ou fabrieksgeboue gekweek en versorg.

Toe die boerdery in 2013 geopen is, was daar agt werkers. Vandag spog hulle met 50.

Byna al die perlemoen wat hier gekweek word, word na Hongkong uitgevoer waar dit as ʼn gesogte lekkerny beskou word.

Die Doringbaai-perlemoenplaas is ook een van net ʼn handvol maatskappye in Suid-Afrika wat perlemoen wettig aan die Oosterse mark verskaf.

Die spesie perlemoen wat op die plaas gekweek word, Haliotis midae, is weens stropery tans ʼn bedreigde spesie.

Gemeenskap spring in

Ruben Saul, voorsitter van die Doringbaai Ontwikkelingstrust (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Anders as ander kommersiële akwakultuurplase, het die gemeenskap ʼn aandeelhouding van 37% in die Doringbaai-perlemoenplaas, met die res in private besit.

Die Doringbaai-ontwikkelingstrust is gestig nadat die ou Oceana-kreeffabriek in 2006, ná sowat 75 jaar in bedryf, sy deure gesluit het. Dit was verwoestend vir die gemeenskap en het tot groot werkloosheid gelei, sê Saul.

Die trust is in 2007 op die been gebring om die gemeenskap weer op sy voete te help.

“Honderde mense uit die klein vissersgemeenskap het gebaat gevind by die geleenthede wat vir hulle geskep is toe die perlemoenplaas begin is.”

Volgens die 2011-sensus het die dorp se bevolking destyds op ongeveer 1 200 mense gestaan.

(Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Anchen Frisley wat al die afgelope vyf jaar ʼn toesighouer en werker op die plaas is, sê die meeste mense op Doringbaai verdien hul inkomste as vissers, in die perlemoenbedryf of werk op nabygeleë myne.

Hoewel Frisley die grootste deel van die dag daaraan bestee om perlemoen volgens grootte en gehalte te gradeer, het sy die delikatesse nog nooit self geproe nie.

“Ek het nie [perlemoen] geëet nie en ek wil nie, want ek werk elke dag daarmee,” sê sy skertsend.

Frisley verduidelik dat die markgrootte van perlemoen van 100 g tot 250 g wissel.

Gedroogde perlemoen is die voorkeurmetode vir uitvoer, maar dit kan ook gevries, ingemaak of lewend uitgevoer word.

Saul sê daar is planne om die plaas uit te brei om ʼn bykomende 30 ton perlemoen te produseer. Dit, skat hy, sal nog 20 permanente werkgeleenthede skep.

Dié uitbreiding sal sowat R8 miljoen kos.

Stropery

Perlemoen is ʼn kritiek bedreigde spesie omdat dit ongebreideld gestroop en onwettig na veral China uitgevoer word. Die onwettige handel in perlemoen oortref steeds die wettige perlemoenmark.

ʼn 2018-verslag van TRAFFIC, ʼn bewaringsgroep in die Verenigde Koninkryk, raam dat daar tussen 2000 en 2016 byna 100 miljoen eenhede perlemoen onwettig in Suid-Afrikaanse waters gestroop is. Die verslag het bevind dat twee derdes van perlemoen wat uit Suid-Afrika kom, deur die onwettige mark bekom is.

’n Verslag van Global Initiative, ’n Switserse burgerlike organisasie, lui dat die onwettige oes van perlemoen tans meer as 3 000 ton per jaar oorskry.

Die verslag wys daarop dat die “snelgroeiende wettige perlemoenbedryf” wat jaarliks byna 2 000 ton perlemoen produseer, baie kleiner as die onwettige mark is.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning op Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.