Personeel in Tshwane-hospitale met Covid-19 gediagnoseer

Dr. George Mukhari- akademiese hospitaal (Foto: Thobile Mathonsi, ANA)

Personeellede van die Dr. George Mukhari- akademiese hospitaal in die noorde van Pretoria en die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion het die afgelope week positief vir Covid-19 getoets. Albei hospitale het hul fasiliteite ten volle ontsmet.

 Die Gautengse departement van gesondheid het Donderdag bevestig dat minstens 15 personeellede by die Dr. George Mukhari- akademiese hospitaal die week positief vir die virus getoets het. Dié personeellede word tans geïsoleer by hul huise of by private mediese fasiliteite.

Motalatale Modiba, die Gautengse departement van gesondheid se hoof van kommunikasie, sê hulle is besig om diegene wat in kontak met dié 15 personeellede was, op te spoor sodat hulle vir die virus getoets kan word.

Modiba sê drie sale in die hospitaal, wat moontlik besmet was, is reeds ontsmet en is weer gereed om gebruik te word.

Kwara Kekana, die Gautengse departement van gesondheid se woordvoerder, en haar kollega, Julius Maputla, van die provinsiale rampbestuursentrum, het ook die afgelope week albei positief vir Covid-19 getoets en is tans in isolasie.

Intussen het die Netcare Unitas-hospitaal in ’n verklaring gevestig dat die hospitaal sy teaterkompleks tydelik gesluit het nadat ’n teaterpersoneellid vroeër die week positief vir Covid-19 getoets het. Die hospitaal sê ander teaters was egter oop vir noodsaaklike prosedures.

Eugene Ferreira, die algemene bestuurder van die hospitaal, sê individue wat moontlik met die personeellid wat positief getoets het in aanraking was, is onmiddellik opgespoor en getoets. Dié individue is ook in selfisolasie geplaas en word voortdurend gemonitor.

“’n Paar van die personeel wat vir toetse gegaan het, het positief vir die virus getoets.

In die lig hiervan en as ’n bykomende voorsorgmaatreël, het die hospitaal, in samewerking met ’n onafhanklike epidemioloog, onmiddellik ’n Covid-19-toesigstoets onderneem. Alle personeellede, dokters en steundienswerknemers wat tussen 1 en 9 Junie in die teaterkompleks van die hospitaal gewerk het, is getoets. Hierdie proses is aan die gang en die meeste toetsuitslae word nog verwerk,” sê Ferreira.

Luidens die verklaring het die hospitaal se bestuur dadelik stappe geneem om die teaterkompleks weer so gou as moontlik oop te kry. Die teaterkompleks is behoorlik ontsmet.

Die res van die hospitaal het heeltyd oopgebly en was operasioneel. Die noodgevalle-afdeling het ook oopgebly vir instappasiënte.

Ferreira sê Netcare het vir enige personeellid wat nie veilig tuis kan selfisoleer nie, gratis akkommodasie beskikbaar gestel. Dié wat in selfisolasie by die huis is, kan slegs ná 14 dae van totale afsondering terugkeer werk toe. Hulle word dan weer getoets.

Ferreira sê namens die hospitaal wil hulle net om verskoning vra vir hul pasiënte, gemeenskap en dokters vir die ongerief wat die voorsorgmaatreëls kon veroorsaak het. “Ons vra dat hulle die situasie sal begryp, aangesien dit noodsaaklik is dat die hospitaalomgewing veilig is,” sê Ferreira.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.