Petroljoggie sterf ná rowers by Pta-vulstasie toeslaan

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn 30-jarige petroljoggie is Maandag in Mamelodi, Pretoria, dood nadat ʼn groep gewapende rowers op ʼn vulstasie toegeslaan het.

Volgens kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder, het die rowers plofstof gebruik om ʼn kluis oop te skiet.

“Die verdagtes het op die vulstasie toegesak en glo skote afgevuur. Die petroljoggie is ernstig gewond. Hy het later aan sy skietwonde beswyk. Die verdagtes het daarna met ʼn onbekende bedrag geld van die toneel gevlug.”

Kweza sê in ʼn afsonderlike voorval op dieselfde dag in die weste van Mamelodi het vyf gewapende mans by nog ʼn vulstasie toegeslaan.

“Een van die rowers het die vulstasie binnegegaan en die kassier opdrag gegee om na buite te gaan.

“Sy het later ʼn harde slag in die winkel gehoor. Die verdagtes het daarna in ʼn Toyota Quantum van die toneel gevlug wat hulle van ʼn kliënt gekaap het. Die voertuig is later teruggevind.”

Volgens Kweza is geen inhegtenisnemings al gedoen nie.

Die polisie ondersoek onder meer aanklagte van moord en roof.

Enigiemand met inligting word versoek om die teenmisdaadnommer by 08600 10111 of 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

koos10 ·

Lafaards. Kruip agter wapens weg. Ontneem ‘n gesin van ‘n broodwinner. Mag God julle aan die pen laat ry en dienooreenkomstig straf.

Toergids ·

My innige meegevoel aan die hardwerkende man se familie met hul verlies, ek hoop en bid geregtigeid in die geval vind plaas

JohanR ·

Probeer maar in die siek land net ‘n ou bietjie geld maak om deur die dag, maand en jaar te kom en daar maak gemors hom dood. Nou is ‘n vrou sonder ‘n man, en kinders sonder ‘n Pa en die skurk Jacob Zuma gaan terug parlement toe vir nog ‘n vet salaris! Motoriste gee daai ou R5 vir die petroljoggie wat jou help…..elke bietjie help!

Olive ·

Die joggie is bloot getref omdat daar lukraak geskiet is. @JohanR, het jy nie geweet nie. Fooitjies word nie meer gegee aan joggies nie. Dit is vir hulle ‘n belediging. Vriend van my besit ‘n vulstasie en die joggies kry nogals goeie salarisse. Beter as baie mense met ‘n geleerdheid. Neem jou R5 en gooi dit in die DBV se blikkie.

Alida ·

Nou leer ek ook iets, Olive. Die joggies vir wie ek ‘n groen of bruin noot in die hand gestop het, het nog altyd baie bly gelyk daaroor. Dankie dat jy my daarop wys dat ek hulle eintlik beledig het.

Delia ·

Olive…lukraak is nie hier ter sprake. Onwettige afvuur van wapen in n openbare gebied, dis die punt. N Redelike mens/krimineel weet mos jy kan iemand raakskiet.

Hennie ·

Ek was 14 jaar bestuur by n garage in JHB. , glo my joggies is baie bly oor die tips wat hulle kry. Party van hulle bly vêr en transport is maar duur.

Martie ·

Ongeag wat jou beroep, ons almal werk om te lewe en dis ‘n absolute skande dat ons land so ‘n wettelose staat geword het. Die polisie is nutteloos en is net so korrup, sit ook heeltyd en wag op omkoopgeld om iets te doen.

Cassie Carstens ·

Dis skollies se werk. Ons meegevoel aan die joggie se familie,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.