Peuter verdwyn toe ‘dronk’ ouers slaap

Argieffoto

[Opvolg] Die peuter se liggaam is intussen gevind. Lees gerus hier.

Die polisie in Limpopo het ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur na ʼn tweejarige meisie wat Sondag in die Witpoort-omgewing buite Lephalale vermis geraak het

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê Ntlaleng Kgola het vermis geraak toe haar ouers, glo onder die invloed van alkohol, aan die slaap geraak het.

“Die ouers, vermoedelik dronk, het saam met Kgola en haar vierjarige suster van die dorp af huis toe geloop,” het Ngoepe gesê. Die ouerpaar het toe glo besluit om te rus en het onder ʼn boom aan die slaap geraak.

“Toe hulle later, omstreeks 19:00, wakker word, kon hulle die tweejarige nie opspoor nie,” het Ngoepe gesê. Die ouerpaar het die polisie van die voorval in kennis gestel.

Kgola het ʼn oranje T-hempie en ʼn stywe oranje broek aangehad toe sy vermis geraak het.

“In ons voorlopige ondersoek het ons voetspore wat moontlik dié van Kgola kan wees ʼn entjie van die plek waar sy vermis geraak het, gevind. Dié leidraad word ondersoek.”

Ngoepe het sy kommer uitgespreek oor voorvalle van swak kindersorg en ook verwys na ʼn voorval waartydens ʼn agtjarige kind Saterdag omstreeks 12:00 in ʼn swembad by ʼn vakansieoord in die Senwamokgope-nedersetting verdrink het.

“Tsholofelo Lukekela was op ʼn uitstappie vir ʼn jaareindgeselligheid toe sy in die swembad verdrink het. In dié stadium word daar nie vuilspel vermoed nie, maar die polisie se ondersoek duur voort,” het Ngoepe gesê. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Enigiemand met inligting oor waar Kgola haarself bevind kan lt.kol. Lucas Mabote by 082 469 1353 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Sopas die berig gelees van die sielkundiges se navorsing en verbintenis tussen afwesige ouers en invloed daarvan op kinders. Daar het ons nou n sprekende voorbeeld.

Eintlik tydmors om die navoringsresultate te lees. Alles is reeds in die Boek van die tyd, die Handleiding van die mens.

Cindy ·

Ai dis so hartseer. Die arme kinders. Ek hoop regtig hulle kry haar ongedeerd.

Alida ·

Dit is tragies slegte ouers. Hoekom moet die SAPD nou hulle verantwoordelikheid oorneem. Dit werk nie so nie veral omdat hulle dronk was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.