Pfizer-entstof vir 12-jariges en ouer goedgekeur

(Foto: Justin Tallis/AFP)

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) het die inenting van kinders van 12 jaar en ouer met die Pfizer-entstof goedgekeur.

Die goedkeuring is kragtens art. 21 van die Wet op Medisyne en Verwante Middels gegee ná die hersiening van bygewerkte inligting oor die veiligheid en doeltreffendheid van die entstof.

Art. 21 is ʼn meganisme wat toegang vir noodgebruik moontlik maak en stel Sahpra in staat om die gebruik van ʼn medisyne onder sekere voorwaardes te magtig.

Dr. Nicholas Crisp, waarnemende direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het intussen in ʼn onderhoud met Newzroom Afrika gesê daar word vir eers steeds daarop gefokus om diegene ouer as 60, wat nog nie ingeënt is nie, in te ent, aangesien hulle meer kwesbaar is.

Crisp het daarop gewys dat die Delta-variant van Covid-19 blykbaar meer aansteeklik is vir kinders en dat hulle ook meer geraak is tydens die derde vlaag as in die vorige vlae. Hy het gesê daar moet genoeg Covid-19-entstowwe in voorraad wees, asook duidelike protokol wanneer daar begin word om kinders in te ent.

Daar is verlede week met ʼn wêreldwye Covid-19-entstofproefneming onder kinders en adolessente begin.

Altesame 14 000 kinders in vyf lande – Suid-Afrika, Chili, die Filippyne, Maleisië en Kenia – vorm deel van Numolux, wat die Sinovac-entstof versprei, se fase 3-entstofproefneming.

Die eerste Suid-Afrikaanse kind, uit ʼn groep van 2 000, is Vrydag by die Sefako Makgatho Universiteit (SMU) ingeënt en altesame sewe navorsingsentrums landwyd sal die entstowwe as deel van die proefneming toedien.

Deelnemers sal twee dosisse van óf die entstof óf ʼn skynmiddel ontvang. Dit word 28 dae uiteen toegedien. Enige bevestigde gevalle van Covid-19 sal opgevolg word en ʼn tussentydse ontleding sal gedoen word wanneer 47 positiewe Covid-19-gevalle aangemeld word.

Die veiligheid van die entstof sal onder meer geëvalueer word op grond van enige negatiewe reaksie tot 12 maande nadat die laaste dosis toegedien is.

Die proefneming word met die goedkeuring van Sahpra gedoen en is as kliniese proefneming geregistreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.