Phalatse verruil politiek weer vir medies

Mpho Phalatse (Foto: Mpho Phalatse/Twitter)

Mpho Phalatse, voormalige Johannesburgse burgemeester, het ná sewe jaar as proporsionele verteenwoordigende raadslid (PR-raadslid) in die Johannesburgse metro bedank.

Phalatse sê in haar bedankingsbrief sy het besluit om weer haar loopbaan as mediese dokter na te streef om ʼn “beter, betekenisvolle en onskatbare bydrae te lewer”.

“Die veranderende politieke en ekonomiese klimaat het my genoodsaak om ʼn proses van selfondersoek en besinning oor my toekoms as raadslid te begin,” sê Phalatse in die brief.

Haar termyn as raadslid eindig op 30 September.

“My bedanking moet egter nooit verkeerd verstaan word as ʼn bedanking uit die DA óf die einde van my politieke loopbaan nie.”

Volgens Phalatse het sy aanvanklik haar mediese beroep opsy geskuif om die land te help opbou.

“Die afgelope sewe jaar van my diens as raadslid, ʼn openbare verteenwoordiger in Johannesburg, was ʼn vervullende ervaring. Dit was so ʼn groot eer om die stad te dien.

“Ek is baie trots op die prestasies wat ons behaal het tydens my termyn as burgemeester én raadslid.”

Weens die onvoorspelbare aard van mediese noodgevalle en die politieke omgewing – waar raadsvergaderings deesdae te gereeld en onreëlmatig plaasvind – kan sy nie albei loopbane volhou nie, sê Phalatse.

“Ek wil nie een van die twee afskeep nie, maar ek kies om eerder lewens te red as ek tussen die twee moet kies.”

Phalatse het die DA-koukus en Johannesburgse raadslede sterkte toegewens.

“Die herbou van ons stede en ons land is nie naastenby agter die rug nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Nou moet ons nog net pres. Ramaphosa, Gwede Mantashe, Bheki Cele, Fikile Mbalula, NDZ en Naledi Pandor sover kry om terug te gaan na waar hulle vandaan gekom het. Of kan die hele ANC terug gaan na waar hulle vandaan gekom het?

Republikein in die Wes Kaap ·

Die dokter moet eerder emigreer. Beter toekoms in die buiteland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.