Phalatse weer Jhb-burgemeester

Mpho Phalatse is weer burgemeester van Johannesburg. (Foto: Twitter)

Mpho Phalatse, ontsetelde DA-burgemeester van die Johannesburgse metroraad, is terug in die stoel ná ʼn suksesvolle hofaansoek teen Colleen Makhubele, speaker van die raad.

Die Johannesburgse hooggeregshof het vroeër betoë aangehoor oor die aanloop tot die vergadering waartydens Phalatse met behulp van ʼn mosie van wantroue uit haar pos as burgemeester geboender is.

Dinsdag het regter Raylene Keightley beslis die byeenroep van die buitengewone vergadering en verskeie besluite wat daarop gevolg het, is onregmatig, ongrondwetlik en ongeldig en dat die besluit om deur ʼn mosie van wantroue van Phalatse ontslae te raak, ter syde gestel word.

Die regter het bevind dat Phalatse die regmatige burgemeester van Johannesburg is en sê in sy uitspraak die kwessie was ʼn magstryd tussen verskillende partye waarin nog baie onderonsies en veldslae ongetwyfeld gaan volg.

Die DA het die uitspraak verwelkom en sê die oppergesag van die reg is gehandhaaf en het gewys dat Makhubele en die ANC “onwettig, oneerlik en ongrondwetlik” opgetree het deur wesenlik ʼn staatsgreep uit te voer deur die verwydering van die burgemeester.

Phalatse het in reaksie op die hofbeslissing gesê die uitspraak moet as waarskuwing vir politici landwyd dien wat bereid is om enigiets te doen om mag te gryp om hul hande op hulpbronne te lê.

“Ons het die afgelope paar weke met verskeie politieke partye en aandeelhouers beraadslaag wat nie dienslewering in Johannesburg wil sien ineenstort onder ʼn korrupte regering nie. Daarom gaan ek ʼn onmiddellike vergadering van die heringestelde burgemeesterskomitee byeenroep.

“Die inwoners van die land se ekonomiese hoofstad verdien ʼn vaardige en stabiele regering wat Johannesburg gaan herstel en herbou.”

Alle besluite wat die “onwettige” gesag geneem het, sal nou hersien word, veral dié wat probeer het om “korrupte dade in die stad te fasiliteer”, sê Phalatse.

“Die krane van korrupsie gaan opnuut toegedraai word sodat ons die ligte en water kan aan hou en burgers kan veilig hou.”

Michael Beaumont, Action SA se nasionale voorsitter, sê die uitspraak is ʼn belangrike regstelling van ʼn onregmatige proses wat die ANC gevolg het om van die koalisieregering ontslae te raak. Dit verander egter nie die dinamika wat tot die ineenstorting gelei het nie.

“Die bal is nou in die DA se hande om sy verbintenis tot veelparty-koalisies te wys as alternatief vir die ANC se mislukte regering.”

Beaumont sê die DA moet besluit of hy bereid is om weer met sy voormalige koalisievennote te gesels en genoeg steun te werf om ʼn regering vol te hou, en of die DA opgegee het met betrekking tot koalisies en die inwoners van Johannesburg gaan oorgee aan nog vier jaar van ANC-regering.

“Die terugkeer van ons veelparty-koalisieregering kan ʼn tegniese gebeurtenis wees wat ʼn dag of ʼn week hou, of dit kan die terugkeer van die veelparty-koalisie vir die volgende vier jaar wees wat die ANC op die opposisiebanke hou.”

Hy sê ActionSA is verbind daartoe om Johannesburg reg te ruk en om dit gedoen te kry, moet die koalisie vir die res van die termyn aan bewind bly. “Ons doen ʼn beroep op alle politieke partye wat verbind is om ʼn alternatief tot die ANC te bied om saam te staan en dit ʼn werklikheid te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Groen Ghoen ·

FANTASTIES! DA 100 – ANC 0. Baklei terug. Dit is die enigste oplossing.

gatgogga ·

Ramapauser se misdadigers moet uit gehou word. Mooi, DA.

JohanR ·

Amper soos Liz Truss….dan is Cope burgermeester – 10 dae. Dan is EFF burgermeester – 15 dae. Dan is ANC burgermeester – 21 dae. Dan is DA burgermeester 7 dae. Dan is Cope burgemeester – 12 dae. And so forth and so fifth!

GWS ·

Ek is so bly sy is weer terug waar sy hoort! Gee die ANC gas!

Nie Verbaas ·

ANC het dit alreeds bekend gemaak dat hulle weer n mosie van wantroue gaan loods.

Kobus ·

Klein jakkalsies verniel die wingerde. Klein partye sink koalisies. Hulle sal nooit aan bewind kom nie maar speel ‘n sleutelrol en omdat hulle niks het om te verloor nie, hou hulle skynbaar ook nie by hulle beloftes nie. Vreem soos dit mag klink , is my vraag waarom span die ANC en DA nie kragte nie? Ek aanvaar mense verstik nou in hulle Oros maar ek wat natuurlik anti ANC is probeer net na ‘n werkbare oplossing te soek

Nie Verbaas ·

Ongelukkig kan niemand met n party saamwerk waar dit absoluut net om selfverryking gaan nie.

Vriendelike Frikkie ·

Dis die probleem wat ek baie lankal mee sukkel. ‘n Munisipaliteit is ‘n maatskappy. Bestuur hom soos ‘n maatskappy met regte bestuurders en diesulke personeel. Laat die politici buite gaan speel waar hulle kan fotos neem waar hulle babatjies soen en linte knip by een of ander opening seremonie. Hou hulle onbevoegde, onbeholpe handjies van ‘n besigheid af. Ek kan nie aan een maatskappy dink waar die betrokkenheid van politici ‘n voordeel was nie.

Anel ·

Die spul orals is so besig met mosies van wantroue teen mekaar, omdat hulle die burgemeester is nie, dat hulle vergeet hulle is daar om te werk en die munisipaliteit te dien!!!!!

domheks ·

Ek dink mense mag eers na ‘n jaar ‘n mosie van wantroue instel. cANCer sal enige iets doen om aan bewind te kom.

Vonny ·

Intelligent en mooi vrou.
Wens ons kon haar kloon!

ANC leer by die vrou en kie

Chris dupreez ·

Asseblief DA, bêre julle ego en werk saam met die kleiner partye, julle het hulle nodig, vir die mense van Jhb

Jaco ·

Onthou net, dieselfde het in Zimbabwe gebeur. Die regerende zanu-pf het die opposisie MDC selfs toegelaat om die stadsraad van Harare te beheer (1ste daad v.d. MDC-stadsraad was om nuwe luukse motors vir al die raadslede te koop…). Die nonsens kom net in wanneer die opposisie ‘n nasionale parlementsverkiesing wen. Dan is dit skielik verbode vir die opposisie om te regeer. Zimbabwe bewys dit ook. En ook Kenia.
So voordat almal nou te bly word, onthou net, sulke “tokens” deur die ANC-regering se howe en “aanvaarding” hier en daar as die ANC beheer oor ‘n munisipaliteit verloor is maar net rookskerms. ALLES sal anders wees wanneer die opposisie eendag ‘n nasionale verkiesing in SA wen. Dan sal die weermag en polisie vinnig ingespan word om die ANC aan bewind te hou “om demokrasie te beskerm” en “om te keer dat reaksionêre magte vol apartheid die land oorvat”.

Jr ·

Maar help my reg hier. Was aaction SA nie die mense wat saam met die cANCer party gestem. Nou sing hulle ander deuntjie

Elizabeth ·

ActionSA is natuurlik reg. Alhoewel ñ DA lid beteken nie altyd een nie en politici moet ophou om hul hand te oorspeel. Die publiek raak al hoe wyser en net soos ANC tans steun verloor gaan dit in ander partye ook gebeur. Versigtig trap.

Danie ·

Bly vir haar part maar los net die rooies uit.Politieke loopbane hou nie lank as jy jou werk behoorlik doen nie.

Boer ·

Ons as inwoners van Suid-Afrika het vir ’n party teen die ANC gestem, al die ander partye het ’n koalisie gevorm en ons het ’n nuwe regerende party gekry om die gemors wat die ANC agtergelaat het uit te sorteer. Hoe kan die ANC net besluit hulle hou ‘n mosie van wantroue teen haar en vat dan die stad terug. Hoekom stem ons dan as die ANC net besluit ons vat dit terug. Ek is bly sy het hulle aan die bek geruk maar dit is nog lank nie verby nie. Nou moet sy almal verkeerd bewys en die stad reg ruk.

Lillian ·

Dis mos maar hoe die anc dinge doen! Daars geen eerbaarheid nie. Hulle is skurf, agterbaks, oneerlik, geld mal

TRP ·

Vir sekere partye gaan dit lankal nie meer oor die burgers nie maar wel die beursies van die burgers. Ek kan nie glo na soveel jaar gaan dit steeds so as dit by die stembus kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.