Piepklein SA kunswerk steel kollig in Hollywood

Lorraine Loots, ‘n Kaapse kunstenaar, is onlangs gevra om ‘n kunswerk vir Bruce Willis se dogter te maak. (Foto: Frances Marais Photography/verskaf)

Sy is dalk bekend vir haar piepklein pragwatersketse, maar die Kaapse kunstenaar Lorraine Loots het onlangs behoorlik aandag getrek toe sy deur die musikant Tallulah Willis gevra is om ʼn kunswerk van haar Hollywood-akteurpa, Bruce Willis, te maak.

Lorraine en Tallulah, die jongste van Willis se drie dogters saam met die aktrise Demi Moore, volg mekaar glo jare lank reeds op sosiale media.

Sy het deur Instagram na Lorraine uitgereik nadat die kunstenaar onlangs ʼn video geplaas het oor haar versameling A Thousand Lovers’ Eyes wat in 2020 van stapel gestuur is.

“Ek het nie dadelik besef dat die versoek van haar af kom nie, want haar naam op Instagram is iets heeltemal anders, maar ek kon dit nie glo toe ek mooi besef wie sy is nie,” vertel die kunstenaar opgewonde aan Maroela Media.

Sy beskryf A Thousand Lovers’ Eyes as ʼn moderne herverbeelding van 18de-eeuse juweliersware waar sy ʼn miniatuur-waterverfskildery van ʼn geliefde, ouer of troeteldier se oog verf en laat vernis voordat dit in roos-, wit- of geelgoud van nege karaat agter ʼn saffierkristalkoepel met ʼn hangertjie geset word.

Tallulah het Lorraine gevra om haar bekende aksieheldpa, wat onlangs met ʼn onbehandelbare demensie gediagnoseer is, se oog vir haar te verf.

“Dit was beslis ʼn onwerklike gevoel, want hy is so ʼn bekende ikoon. Hy het soveel vreugde deur die jare vir ons as kykers gegee, so dit voel asof ek op my manier vir hom iets kon teruggee om dankie daarvoor te sê.”

Sensitiwiteit en sentimentaliteit was nog altyd twee hoekstene van Lorraine se kunswerk. Só ook om die lewe se groot oomblikke vas te vang, maar terselfdertyd ook die mooi in alledaagse kleinhede te vier – iets wat Tallulah onlangs aan Vogue gesê het sy juis met haar pa nou deur sy siektestryd doen.

“Die projek gaan oor liefde en verlies, waarmee ek my sterk kan vereenselwig, veral die uitdagings om daardie emosies op ʼn spesifieke manier vas te vang,” deel Lorraine, wat self in haar tienerjare haar twee broers aan die dood moes afstaan.

Sy het selfs die voorreg gehad om die hangertjie vir Tallulah in lewende lywe in Los Angeles af te lewer toe sy vir familie in die VSA gaan kuier het.

“Hulle is ʼn hegte gesin en enigiemand wat Tallulah volg, sal verstaan hoe moeilik hierdie reis vir hulle is. Oë is my gunstelingding om te verf en om te dink dat ek iets kon skep wat só diep met iemand resoneer, was nog altyd die lekkerste deel van my werk.”

Voltydse kunsloopbaan gebeur ‘per ongeluk’

Hoewel sy nog altyd kunstig was en ʼn honneursgraad in visuele kommunikasie aan die Universiteit Stellenbosch en meestersgraad in film en media aan die Universiteit van Kaapstad het, was die plan volgens Lorraine nooit om ʼn voltydse loopbaan as kunstenaar na te jaag nie.

Ná universiteit het sy werk as ʼn persoonlike assistent by ʼn reklameagentskap gekry, waarna sy later as ʼn sosialemediabeampte gehelp het. Toe die maatskappy sy deure moes sluit, het ʼn “wat-nou-oomblik”, soos sy dit bestempel, haar genoop om haar prioriteite te heroorweeg.

“Ek het besef dat geld my enigste motivering was om daardie werk te doen en geweet dat dit nie is hoe ek my lewe wil lei nie. Ek besluit toe om ja te sê vir enige ander geleentheid wat oor my pad kom in die soektog na wat my gelukkig gaan maak – iets wat my ma se senuwees natuurlik behoorlik uitgedaag het,” terg Lorraine.

In ʼn stadium het sy byna 12 verskillende soorte werk, waaronder proefleser, produksieassistent op filmstelle, kelnerin en binnehuisversierder, gebalanseer om kop bo water te hou.

In 2012 het sy van ʼn sakekursus by die Universiteit van Kaapstad te hore gekom wat kunstenaars oor die sakekant van die bedryf, waaronder bemarking, belasting en finansiering, leer.

“Ek het tot die besef gekom dat ek nie kuns voltyds sal wil aanpak nie, maar eerder as ʼn side hustle doen terwyl ek ʼn gewone nege-tot-vyf-werk het. Ongelukkig moes ek nog steeds ʼn sakeplan en -voorlegging voorlê om die kursus te slaag,” lag sy.

“Ek het geweet dat ek nie meer as ʼn uur ʼn dag opsy sal kan sit vir kuns nie en het toe op die miniatuurskilderye besluit – iets wat ek weet ek op een slag sou kon klaarmaak.”

Lorraine is gevra om Willis se oog te skilder as deel van haar “A Thousand Lovers’ Eyes”-reeks. (Foto: Verskaf)

Haar sakevoorstel om elke dag vir ʼn jaar een skildery te maak en vir mense die geleentheid te bied om ʼn dag van die jaar vir R500 te “koop” en ʼn voorstel vir daardie dag se prentjie te maak, was ʼn treffer by die dosente.

Soveel so dat van hulle ná haar voorlegging dadelik spesifieke datums se sketse wou bespreek en koop. Hiermee het sy haarself in 2013 toegewy om elke dag vir ʼn jaar ʼn skilderytjie te verf.

“Ek het vinnig besef dat daar nie eintlik ʼn terugkeerpunt was nie. Ek moes selfs die projek op 1 Januarie afskop in die Sederberge ná ʼn behoorlike Oujaarsaandpartytjie,” skerts Lorraine.

Belangstellendes kon voorstelle maak vir idees of voorwerpe om geverf te word daai dag, solank dit universeel was.

Alles van klere, kossoorte, vakansiebestemmings, diere, fliekkarakters en selfs koningin Elizabeth II is in skilderye van 15 mm tot 30 mm vasgevang en saam by ʼn galery uitgestel voordat dit aan die eienaars verskaf is.

Dié verstommende sukses van Painting for Ants het haar genoop om ʼn opvolgreeks in 2014 aan te pak. In 2015 het sy ook 100 Paintings for Ants begin – ʼn soortgelyke projek, maar met ʼn meer buigsame skedule.

Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Tot op hede is Lorraine se werk al op internasionale uitstallings in New York, Los Angeles, Chicago, Hongkong, Singapoer, Sydney, Londen en Parys, asook in publikasies soos The Huffington Post en Buzzfeed te sien gewees.

Om voltydse kunstenaar, ma én vrou te wees, verg natuurlik talle opofferings, sê Lorraine, wat tans saam met haar man en sewejarige seuntjie in Nuweland in die Wes-Kaap woon.

Die paartjie verwelkom binnekort ook hul tweede spruit.

“Ek kry dikwels die vraag oor hoe ʼn mens deesdae ʼn voltydse kunsloopbaan moet aanpak en al is daar eintlik nie een spesifieke manier nie, moedig ek kunstenaars altyd aan om ewe veel aandag aan hul sakekennis as hul kunswerk te gee.”

Volgens Lorraine is ʼn deeglike sakeplan en genoeg kapitaal kernbelangrik. Verder moet kunstenaars hul vrees en trots sluk om hul werk op sosiale media uit te stal, asook besef wat dit verg om self die pot vir hulself aan die kook te moet hou.

“Daar is nie ʼn harder werk as om vir jouself te werk nie en ek sê ook altyd dat jy jou moeilikste baas gaan wees. Op die ou end moet jy self besluit wat jy bereid is om prys te gee om jou drome te verwesenlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.