Platsak, maar reg vir beurtkrag

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Beurtkrag is al jare lank deel van elke Suid-Afrikaner se werklikheid en die afgelope paar maande werk Eskom veral oortyd om te keer dat die kragnetwerk heeltemal in duie stort.

Vir Suid-Afrikaners wat daagliks ure lank in duisternis gedompel word, is dit skrale troos en dit is ʼn daaglikse gespook en gespartel om te werk, kos op die tafel te kry en alledaagse take af te handel wanneer daar vir ure aaneen geen krag is nie. Met hoër beurtkragfases moet daar boonop gespring word om te doen wat jy kan voor die volgende rondte beurtkrag inskop.

Suid-Afrikaners is vandeesweek opnuut ontstig deur Eskom se waarskuwing dat fase 7- en selfs fase 8-beurtkrag dié winter op hande kan wees.

Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, sê voorsorg is beter as nasorg; veral wat betref voorbereiding op ʼn moontlikheid van fase 8-beurtkrag.

“Dit is glad nie paranoïes om onafhanklik te wil wees en self beheer oor jou elektrisiteit te hê nie,” sê Cooks.

“Dit gaan oor selfbestuur en dit is belangrik om altyd voorbereid te wees; hetsy vir beurtkrag, of iets soos ʼn brand of vloed.”

Internasionaal is die standaard vir mense om genoeg voorbereiding te tref om vir minstens drie dae sonder krag of water te oorleef, sê Cooks.

“Gegewe dat ons so gereeld beurtkrag kry, is dit raadsaam om jou omgewing stelselmatig in te rig vir wanneer jy sonder krag – en deesdae sonder water – sit.”

Hoewel beurtkrag in die meeste gevalle nie heeltemal omseil kan word nie, is daar wel ʼn paar items wat Suid-Afrikaners kan aanskaf om die beurtkragpenarie so effe draagliker te maak.

Cooks sê daar is verskeie laekoste-items op die mark wat mense help om aan die mees basiese behoeftes tydens beurtkrag – soos kos en lig – te voldoen. Dit sluit in alles van sonaangedrewe ligte tot klein gasstoofplate.

“Mense moet prioritiseer wat vir hulle die belangrikste is, veral wanneer hulle pas met die proses begin het om onafhanklik te raak,” sê sy.

“Vir sommige mense is dit uiters belangrik om lig in die donker te hê; ander benodig weer ʼn UPS-stelsel om hul internet aan die gang te hou, terwyl daar ook diegene is wat aanvanklik ʼn watertenk installeer vir wanneer die krane tydens beurtkrag opdroog.

“Die groot ding is om klein te begin. Moenie verwag dat jy oornag onafhanklik gaan word nie. Prioritiseer dít wat vir jou die belangrikste is, want die pad na selfbestuur is ʼn duur een.”

Dié items kos sowat R1 000 en kan beurtkragpyne aansienlik help verlig:

Beurtkragbenodighede vir Jan Alleman.

Sommige van hierdie items sou ʼn jaar of wat gelede waarskynlik nog as ʼn luuksheid beskou word, maar word in hedendaagse tye ʼn al hoe groter noodsaaklikheid.

Kry die oorhand met dié beurtkragbrekers.

Met die winterkoue op die voorstoep, sê Cooks dit is belangrik dat elke Suid-Afrikaner gereed is vir enige beurtkragaanslag.

“Tesame met die voorbereiding is dit ook belangrik om op veiligheid te let. Moenie brandstof in kragopwekkers gooi terwyl dit aangeskakel is nie; waak teen die gebruik van gas wanneer jy snags slaap en maak seker dat toestelle soos haardroërs afgeskakel is voor jy die huis verlaat,” sê sy.

“Dit gaan duidelik ʼn koue winter wees en daarom moet elkeen moeite doen om onafhanklik te raak om te oorleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Talia ·

Om.die gas stoof te gebruik nodig jy n gas bottel en n regulator. So nie heelemal R1000 nie.

Phillip ·

Alles goed en wel maar onthou meeste van ons leef net net op die nipprekie op die brood lyn so daar is nie n manier vir my om eers n R1000 rand iut tegee vir hardeware nie . Anders het ek nie kos op die tavel nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.