POF wil ontslae raak van prokureurs

Die padongelukkefonds (POF) het ʼn tender vir ʼn prokureurspaneel wat van Junie vanjaar die fonds moes verteenwoordig, gekanselleer. Die fonds eis nou dat die huidige prokureurs die besonderhede van alle bestaande sake aan die POF oorhandig sodat die nodige reëlings getref kan word voordat dié paneel se termyn op 31 Mei verstryk.

Volgens die bestuur van die POF kan hulle miljoene rande bespaar deur self eise teen die fonds te behartig en is besparings dringend nodig om te keer dat die fonds heeltemal insolvent raak.

Die prokureurspaneel, wat bestaan uit amper 100 prokureurs van 45 regsfirmas, het nou ʼn dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om die fonds se besluit om die tender te kanselleer ter syde te stel. Hulle vra die hof ook om te beslis dat hulle nié besonderhede oor hangende sake aan die POF hoef te oorhandig voordat die hof nie sê of die POF se besluit om die tender terug te trek geldig was of nie. In hofstukke voer die firmas aan dat hulle in baie gevalle afhanklik is van werk wat van die padongelukkefonds kom en dat dit “chaos” sou veroorsaak indien die fonds skielik sy eie regsake sou behartig.

Die hof het egter die applikante se aansoek om dokumente terug te hou, van die hand gewys en die partye beveel om besonderhede oor hangende sake tydig aan die POF te oorhandig. Die hof sal later uitspraak lewer oor die aansoek om die POF se besluit om die tender te laat vaar ter syde te stel.

As deel van ʼn strategie om geld te bespaar het die fonds verlede jaar besluit om die model waarvolgens eise teen die fonds besleg word, te hersien en nie weer ʼn nuwe paneel prokureurs aan te stel wat eise teen die fonds moet hanteer nie. “Indien die model nie dringend verander om geld te bespaar nie,” het verskeie raadslede luidens hofstukke gewaarsku, “kan die POF in ʼn posisie beland waar hy nie kan bekostig om eise uit te betaal nie.”

Regter Norman Davids het uitgewys dat die fonds ʼn maandelikse tekort van ongeveer R1 miljard het om eise uit te betaal en bedryfskostes te vereffen. Die hof het ook uitgewys dat die POF se maandelikse uitgawe aan regskoste tussen 2018 en 2019 met meer as 10% toegeneem het van R8,8 miljoen tot R10,1 miljoen. “Die POF kan dus miljoene aan regskostes bespaar deur hulself te verteenwoordig.”

Volgens Davis het prokureurs geen reg om daarop aan te dring om die fonds ná 31 Mei te verteenwoordig nie en tree die fonds binne sy magte op deur die tender te kanselleer.

“Die voordeel wat die publiek uit die besparing van regskoste sal trek, is baie groter as die skade wat individue sal ly indien ʼn nuwe paneel nie aangewys word nie. Deur die nodige dokumentasie betyds te oorhandig, kan chaos juis voorkom word wanneer die fonds homself van Junie teen eisers moet verdedig,” het Davis gesê. “Daarom wys ek die applikante se aansoek om dokumente van die fonds terug te hou van die hand.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

ElizeK ·

Nou kan POF kaders weer lekker baljaar met die miljoene wat BESPAAR gaan word.

Charmain ·

Grapkaste! Hulle kan nie eers die onverdedigde eise hanteer nie, hoe wil hulle die litigasie eise hanteer? Hulle moet dalk eerder oorweeg om meer bevoegde prokureurs aan te stel wat beter voorbereid is…

Cherokee ·

Ek is verbaas dat julle (eerste kommentators) vir die prokureurs instaan, want dit is uiters debatteerbaar. Prokureurs ploeg in POF, sommige kompleet afhanklik daarvan, soos erken word. POF word gedra deur belading op brandstof pryse.

Yvonne ·

Cherokee stem saam ….hoogs debatteerbaar…ooral verskyn aasvoels

Pieter ·

Dit is nie mooi van julle nie. Hoe kan jy wanneer dit pap reen die paplepel wegneem?

Wilma ·

Ek stel voor dat daar bietjie aan POF se stelsel moet verander word. Indien jy in ‘n ongeluk kom en dit is jou skul, het jy geen reg om te eis nie. Jammer maar dan is die rekening vir jou. Die Taxi bestuurders moet almal ‘n tipe versekering hê om mense wat hulle vervoer te beskerm. Indien dit een van die fly by nights is, Sal hulle gou uit gewerk word.

Strandloper ·

“POF” alles is weg….”POF” limousine taxi’s

Mathys ·

…. maar nie van howe, om gratis hulle administrasie te doen nie, net prokureurs? So as jy nie prokukureurs wil he nie, waarom aandring dat howe absoluut elke versekeringseis moet besleg? Hé? Ek meen elke versekering het ‘n eisdepartement, maar die POF is ‘n statuter, verpligte versekering wat elke Jan Rap moet uitneem om sy petrolgrasnyer te hardloop op ‘n Saterdag voor die wedstryd? Nie net is hulle nie dankbaar dat elke seviele en kriminele saak opsygeskuif word vir hulle selfsugtige gans nie, hulle wil nou die siviele prosedures wysig!! Tyd iemand gryp in boois?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.