Polisie brand los op vermeende kabeldiewe

(Foto: SAPD Oos-Kaap)

Vermeende kabeldiewe is Maandagaand in Aliwal-Noord in die Oos-Kaap in hul spore gestuit ná ʼn skietgeveg met polisiebeamptes.

Kapt. Ursula Roelofse, woordvoerder van die polisie, sê lede van die misdaadintelligensie-eenheid in Aliwal-Noord het omstreeks 19:00 inligting van Queenstown ontvang dat ʼn silwerkleure Volkswagen Amarok op pad is in die rigting van Aliwal-Noord en dat gesteelde koperkabels vermoedelik agterop die bakkie vervoer word.

“Beamptes het omstreeks 20:45 die verdagte voertuig op die N6 opgemerk. ʼn Hoëspoedjaagtog het gevolg verby die Hertzogbrug. ʼn Skietery het tussen die beamptes en die verdagtes ontstaan en die verdagtes het met hul voertuig teen die versperring aan die linkerkant van die pad gebots en tot stilstand gekom.”

Die bestuurder van die voertuig het weggehardloop terwyl hy skote op die beamptes bly vuur het. “Die polisiebeamptes het teruggeskiet, maar die verdagte het inhegtenisneming vrygespring.”

Twee verdagtes, onderskeidelik 29 en 34 jaar oud, is in hegtenis geneem terwyl ʼn derde verdagte noodlottig gewond is tydens die skietery. Die twee verdagtes sal binnekort in die hof verskyn, onder andere op ʼn aanklag van poging tot moord.

Nie een van die polisiebeamptes is tydens die skietery of die jaagtog beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.