Polisie-hoës moet pa staan vir gesteelde vuurwapens – DA

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Maaxim Hopman/Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse polisie loop opnuut onder kritiek deur nadat sowat 15 vuurwapens glo by die polisiestasie op Mitchells Plain – een van die gevaarlikste gebiede in Suid-Afrika – gesteel is.

Die DA het Dinsdag gesê senior leiers in die polisiediens moet pa staan vir polisiekantore se growwe mislukkings om bewyse – veral vuurwapens – veilig te bewaar.

Luidens berigte is ongeveer 15 vuurwapens en agt nagemaakte vuurwapens in November verlede jaar uit die Mitchells Plain-polisiestasie gesteel. Dit is boonop nie die eerste keer dat vuurwapens by dié polisiestasie gebuit is nie.

“Luidens berigte is die vuurwapens uit die stasie se SAP-13-stoorkamer gesteel, waar bewyse wat deel is van aktiewe ondersoeke gestoor word. Dit beteken dat dié vuurwapens nie net terug op straat is nie, maar dat kritieke bewyse ook weg is,” het Gillion Bosman, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, gesê.

Bosman wil nou weet waarom die nodige protokol nie ingestel was om so ʼn voorval te voorkom nie, en indien daar wel riglyne was, moet die polisie sê waarom dit nie toegepas is nie.

“Op ʼn breër vlak is dié voorval weereens ʼn bewys van die algehele wanfunksionering wat eie aan die polisiediens geword het. Dit bied ook insig oor waarom die DA deurlopend pleit vir die afwenteling van polisiemagte.

“Hierdie voorval kon verhoed gewees het indien daar ʼn omgewing van verantwoordbaarheid en professionalisme bestaan het.”

Bosman sê dis verder kommerwekkend dat die diefstal nou eers bekend gemaak is. Hy meen dit dui daarop dat iemand die voorval wou stilhou.

Kol. André Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag aan Maroela Media gesê dat die voorval deel van ʼn polisieondersoek vorm, en dat die “bespreking van die fyner besonderhede van die saak in die openbare sfeer voortydig is en nie in ons beste belang nie”.

Die DA versoek intussen dat die senior bestuurspan van die Mitchells Plain-polisie hangende dié ondersoek geskors word – soos in die geval toe 14 vuurwapens in 2017 by dieselfde polisiestasie verdwyn het.

“Die party is woedend dat die polisie toelaat dat vuurwapens weer op straat beland, en hartseer oor die moontlike gevolge van hierdie growwe bestuursmislukking.”

Polisie misdadigers ‘se grootste verskaffer’

Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by die drukgroep Action Society, het aan Maroela Media gesê dat die polisie waarskynlik misdaadnetwerke se “grootste vuurwapenverskaffer” is.

“Dít is ʼn skreiende skande, veral vir ʼn stasie soos Mitchells Plain. Mitchells Plain staan bekend as een van die gevaarlikste gebiede in die land – veral in terme van bendegeweld.”

Cameron sê dit het “normaal” geword om by ʼn skool in Mitchells Plain te staan en te hoor hoe geweerskote in die agtergrond klap.

“Sover dit my betref, moet die stasiesbevelvoerder en enige ander bevelvoerders by dié kantoor van strafbare manslag aangekla word indien enige moorde met een van hierdie gesteelde vuurwapens gepleeg word.

“Ek dink regtig daar moet strafregtelike gevolge wees vir polisiebeamptes wat toelaat dat vuurwapens verlore gaan. Dit is iets wat oor die hele land gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nico ·

Kan dit nie verstaan nie. Word die wapens nie in brandkaste geberg nie? Met my wapen aansoeke is my brandkas fisies ondersoek, en selfs die boute in die muur gemeet en ondersoek. Hoe werk die polisie se bergingsfasiliteite dan???

vuurvliegie ·

As ‘n polisieman sy vuurwapen verloor moet hy ook onbevoeg verklaar word om ‘n vuurwapen te mag besit en handteer. Ontslaan hom dan uit die mag want dan kan hy nie sy werk doen nie.

ES ·

Dis korrup polisielede wat daarby betrokke is. Hierdie gaan nooit eindig nie.

SjN ·

Geen pligsbesef en verantwoordelikheid, hul hoort nie in die mag nie.

Jack ·

Te laat.Al kry ons vandag ‘n nuwe bevoegde en bekwame Minister van polisie sal dit ongeveer 20 jaar neem on die polisie weer op te bou en op te lei. Van keuring tot opleiding tot plasing.Dit sal nie in ons leeftyd gebeur nie.

Jacobus ·

Ian Cameron ondersoek asb hierdie saak en laat daar klagtes gele word. Die polisie is net useless as dit hulle pas soos nou weer in Groblersdal bewys.

Johan ·

@Jack. Stem 100% saam. Alhoewel ek dink 20jr sal te min wees. Ek was ook in uniform, maar toe adjudant-offisiere direk tot brigadiers bevorder word kort na ’94 se verkiesing, het ek maar die pad gevat. En daardie bevorderings is waar die SAP en ander uniform magte se probleme begin het en kyk waar is ons nou! SAP stasies moet al sekuriteitsmaaatskappye huur vir veiligheid… En so beland net nog wapend in kriminele se hande..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.