Polisie ‘ignoreer’ bevel teen man wat petrol oor vrou gooi

Argieffoto

Die drukgroep Action Society sê die polisie het verskeie beskermingsbevele verontagsaam wat moontlik die wrede aanval op Lindiwe Zitha kon verhoed het.

Zitha, die suster van Khabo Zitha, ʼn voormalige Banyana Banyana-speler, het ernstige brandwonde oor haar hele lyf opgedoen nadat haar gewese kêrel, Eric Marakalala, petrol oor haar uitgegooi en haar aan die brand gesteek het.

Die polisie het die 55-jarige Marakalala verlede Donderdag in hegtenis geneem en van poging tot moord aangekla nadat hy ʼn dag tevore die brandstof oor Zitha uitgegooi en haar aan die brand gesteek het.

Hy het Dinsdag van buikpyn in die aanhoudingselle gekla en die polisie het ʼn ambulans ontbied, het lt.kol. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, gesê. Paramedici het hom kort daarna in die aanhoudingselle dood verklaar. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek en ʼn nadoodse ondersoek sal die oorsaak van sy dood bepaal.

Die aanval het in Zitha se huis in Mamelodi plaasgevind. Haar ma, Maria, wat die voorval aanskou het, is volgens die polisie steeds erg getraumatiseer.

Zitha het sedertdien talle veloorplanting- en oogoperasies ondergaan en is tans in ʼn medies geïnduseerde koma.

Tshepi Mmekwa, verbonde aan Action Society, sê dit is net nog ʼn geval waar die strafregstelsel iemand wat desperaat om beskerming gesmeek het, in die steek gelaat het.

“Die polisie het geweier om die beskermingsbevele af te dwing – die behoefte aan meer as een beskermingsbevel is reeds kommerwekkend – en Marakalala was op parool vir vorige aanrandings. Hy moes dadelik toegesluit word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harley Davidson ·

Die is net weer nog ‘n geval wat bevestig dat die polisie in sy huidige vorm net ‘n onodige finansiële las vir die belastingbetalers is.

Di ·

Ons huidige Polisiemag is onbevoeg en nutteloos. Meerderheid het self kriminele rekords en neem self deel aan kriminele dade. Daar is nog hardwerkende, bevoegde lede in die mag maar dis ‘n druppel in die emmer.

Cabous like braai ·

Ja dis wat gebeur as jy in die tronk moet bly,maar ja ons land gee PAROOL ……gaan te lekker in die NUWE land

Shakespeare ·

Hulle kan nie en wil nie, die “Ignuramus Corruptis” spesie. Vrot tot op die been.

SANET ·

Hierdie Wet op Gesinsgeweld, maak voorsiening, vir ‘n 5 jaar gevangenis straf vir enige Sap lid, Landdros, Staatsaanklaer of Klerk van die Hof, wat versuim o. Sy of haar plig na te kom en af te dwing. Kla hulle aan, dit sal ‘n eerste wees en dalk ‘n WAKE up call vir die wT die Wet nie gehoorsaam nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.