Polisie met klippe bestook toe hulle kroeg wil sluit

Polisiebeamptes deursoek een van die winkels. Beamptes het beslag geê op verskeie produkte wat reeds verval het. (Foto: SA Polisie)

Woedende klante van ʼn kroeg in die Schoemansdal-omgewing in Mpumalanga het die polisie met klippe en bottels bestook nadat beamptes daar toegeslaan het omdat die kuierplek ná sy bepaalde bedryfsure nog oop was.

Die polisie in die provinsie sê weens die hoë voorkoms van verkragting en gewapende rooftogte wat voorkom wanneer mense laataand vanaf kuierplekke huiswaarts keer, is groot wetstoepassingsoperasies met ʼn klem op dié kuierplekke die naweek in die gebied gehou.

Verkeersbeamptes, beamptes van die Mpumalanga- ekonomiese reguleerder en amptenare van die departement van gemeenskapsveiligheid was by die operasie in Tonga, Kamhlushwa en Schoemansdal betrokke.

(Foto: SA Polisie)

Die polisie het afgeskop deur plaaslike winkels te besoek en beslag te lê op verskeie items op winkelrakke wat reeds verval het. Dit sluit in medikasie, sê brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder.

In een van die restaurante is kos in ʼn vuil yskas gebêre en vuil water in ʼn asblik. Verskeie mense is aangekeer omdat hulle produkte verkoop wat reeds verval het, of omdat hulle sonder behoorlike permitte in Suid-Afrika is.

By sommige restaurante is kos glo onder onhigiëniese toestande geberg. (Foto: SA Polisie)

“Die polisie het hul hande vol gehad toe hulle oproerige gaste van ʼn kuierplek moes hanteer waar daar ná bedryfsure steeds sake gedoen is.

“Sommige gaste het bottels en klippe na die polisie gegooi en ander het glo selfs skote afgevuur,” sê Mohlala.

Drie polisiebeamptes is beseer en een is na ʼn kliniek vir mediese behandeling geneem.

Voertuie is met klippe en bottels bestook.

(Foto: SA Polisie)

Die polisie het tydens die operasie beslag gelê op kos waarvan die vervaldatum reeds verstryk het; twee mense is beboet omdat hulle dobbelmasjiene onwettig in ʼn spazawinkel bedryf; vyf drankwinkels is beboet vir verskillende oortredings; een sjebien is gesluit én ʼn verdagte wat in verband met ʼn voorval van ernstige aanranding gesoek is, is terselfdertyd aangekeer.

Lt.genl. Daphne Manamela, provinsiale polisiehoof, het die kroeggaste se gewelddadige optrede teenoor die polisie ten sterkste veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.