Polisie ondersoek twee mans se raaiseldood in toring

Fanus Maritz en Liezélle Brits (Foto: Facebook)

Die polisie in die Noord-Kaap ondersoek die raaiseldood van twee mans wie se liggame in ʼn toring in Postmasburg gevind is.

Fanus Maritz, eienaar van die WiFi-maatskappy Draadloos Noord-Kaap, en Samuel Matthys, ʼn veiligheidswag van Rhino Security, se liggame is Sondag in die toring gevind.

Liezélle Brits, Maritz se lewensmaat, het gesê die gebied waar die toring geleë is, was sedert Saterdagaand sonder krag nadat dit deur weerlig uitgeslaan is.

Volgens Brits is sy en Maritz omstreeks 04:30 Sondagoggend na die toring en het hulle gesien die rugsteunkrag is ook af waarna hulle ʼn kragopwekker gaan haal en ingesit het. Die kragopwekker het nog brandstof ingehad en hulle het besluit om later terug te keer en dit vol te maak sodra hulle meer inligting oor die kragsituasie gehad het.

Hulle het om 09:30 besluit om die kragopwekker weer te gaan volmaak en dit is toe dat die voorval plaasgevind het.

Brits het hulp ontbied nadat sy net Maritz se kopliggie kon sien en Matthys van Rhino Security het opgedaag en ondersoek gaan instel. Nie een van die twee mans het egter weer uit die toring gekom nie en hul liggame is later gevind en van die toring verwyder.

“Ons het seer. ʼn Absoluut wonderlike man is van ons af weggeruk sonder ʼn ‘koebaai’ of ʼn ‘I love you’ …”

Samuel Matthys
(Foto: Facebook)

Brits het ook haar meegevoel met Samuel se familie en sy kollegas by Rhino Security betuig.

“Ons harte gaan uit na die familie van Samuel, wat net soos hy was, ons wou help. Mag sy siel in vrede rus.”

Rhino Security het gesê Matthys “het dapper sy lewe gegee terwyl hy die gemeenskap, vir wie hy soveel omgegee het, gedien en beskerm het”.

Daar word intussen steeds op die uitslag van die nadoodse ondersoek gewag.

Volgens lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, is ʼn derde persoon ernstig tydens die voorval beseer. Die persoon se naam is nie bekend nie en dit is nie duidelik hoe hy betrokke was nie.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word deur die polisie gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sê maar net ·

Absoluut hartverskeurend. So jammer. Baie sterkte aan al die families.

Skappie ·

Jammer dat hierdie so skielik gebeur het. Mag onse Liewe Heer julle almal deur hierdie moeilike tyd wat nou voorle dra.

Suzette ·

Sal graag wil weet in hoe n mate die derde persoon betrokke was. Mag die famielies van die twee oorledenes deur die krag van die Here omvou word in en deur die hartverskeurende tyd. Baie sterkte

Casper ·

Brits wa dan saam met Maritz by die toring,het sy niks gehoor nie.Hoe is die derde persoon dan ernstig beseer.Die nadoodse ondersoeke sal meer duidelikheid openbaar.

SjN ·

Was die derde persoon nie dalk verantwoordelik vir die ander se dood nie? Iets klink nie lekker nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.