Polisie slaan toe op vermeende skaapdiewe

Van die skape en bokke wat teruggevind is. (Foto: SAPD/Facebook)

Die polisie het die afgelope paar dae op vermeende skaapdiewe toegeslaan en meer as 40 skape en 16 bokke in die proses teruggevind.

Polisiebeamptes in Sedibeng in Gauteng het Maandag op vermoedelik gesteelde vee, ʼn ongelisensieerde vuurwapen en huisbraaktoerusting in Evaton afgekom ná bewerings dat daar ʼn veediefstalvoorval in die gebied was.

Die polisie het glo vroeër die dag ʼn veediefstalklag ontvang en die honde‑eenheid ontbied om die vee op te spoor. Die honde het beamptes na ʼn gehuggie in Evaton gelei waar 22 skape en 16 bokke aangetref is.

Die vee, huisbraaktoerusting en ʼn vuurwapen is op beslag gelê.

Volgens die polisie is niemand nog in verband hiermee in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur onverpoos voort.

Enkele dae vantevore het die polisie in Noordwes twee verdagtes in hegtenis geneem op aanklagte van veediefstal.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê lede van die Wolmaransstad‑misdaadvoorkomingseenheid het Saterdag ʼn verdagte rooi bakkie op die N12 op pad Klerksdorp toe opgemerk.

“Die lede het die voertuig van die pad af getrek en altesaam 19 skape agterop gevind. Die skape het ʼn geraamde waarde van R40 000,” sê sy.

“Die mans in die voertuig kon nie behoorlik rekenskap gee oor die eienaarskap van die skape nie en het geen permit in hul besit gehad om die skape te vervoer nie.”

Die polisie het beslag gelê op die skape en die verdagtes in hegtenis geneem.

Tshepiso Molefe (33) en Itumeleng Andrew Phokomusi (41) het Maandag reeds in die Wolmaransstad-landdroshof verskyn.

“Hulle is in polisieaanhouding en sal na verwagting op 15 Augustus weer in die hof verskyn.”

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris van Noordwes, het die betrokke lede bedank vir hul gereedheid en boere in die omgewing aangemoedig om hul vee ingevolge die Wet op Diere-identifikasie te brandmerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maria ·

Sterkte aan alle boere. Ons dink en bid elke dag vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.