Polisie slaggereed vir Desember

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die polisie het vanjaar goeie vordering in die stryd teen misdaad gemaak en nou maksimum hulpbronne ontplooi om Suid-Afrikaners en toeriste tydens die komende feesseisoen by te staan en te beskerm.

Dit sluit in padblokkades en voertuig- en lugsteunpatrollies.

Só het die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, Vrydag tydens ’n mediakonferensie in Pretoria gesê.

Daar word egter nou van landsburgers gevra om ook dié vakansie hul kant te bring.

“Ons weet almal dat hierdie tyd gekenmerk word deur ’n toestroming van mense by winkelsentrums. Mense maak in hierdie tyd gebruik van geld wat hulle deur die loop van die jaar gespaar het. Kriminele maak egter in die tyd van die geleentheid gebruik om Suid-Afrikaners van hul swaarverdiende geld te beroof.”

Argieffoto (Foto: SAPS)

Die polisie het die komende feesseisoen ses hoofprioriteite. Dít sluit in aandag aan geslagsgebaseerde geweld; rooftogte met verswarende omstandighede waaronder motorkapings, sakerooftogte; die verbetering van grensveiligheid en die pak van mensehandel en dwelmhandel.

Die vierde fokusarea behels die toepassing van wetgewing in die stryd teen die verspreiding van onwettige vuurwapens sowel as wetgewing rondom alkohol en veiligheid by sport- en ontspanningsgeleenthede.

Die vyfde en sesde fokusareas is gemik op die toepassing van munisipale verordeninge en die handhawing van padveiligheid.

Masemola het voorts gesê polisiesigbaarheid sal in die komende weke opgeskerp word en tot Januarie duur.

Byna 250 000 verdagtes is in hegtenis geneem sedert Masemola die leisels as nasionale polisiekommissaris vroeër vanjaar oorgeneem het. Die DNS-agterstand is intussen tot 64 000 verklein – ʼn verbetering van 55%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Cherokee ·

Die waarskynlikste gedeelte van die landsburgers wat ‘hul kant sal bring’ is die kroekgedeelte van die landsburgers.

domheks ·

Die man is puik met al die inhegtenisnemings, maar hulle se nie hoeveel die vorige een gehad het nie!

Anel ·

Dis goed en wel om so baie te arresteer, maar hoeveel word werklik gevonnis en tronk toe gestuur?

Danie ·

Slaggereed vir die slagting wat kom.The proof lies in the pudding of is ek nou verkeerd.Voorkoming is beter as genesing.Eks jammer het Geen vertoue in die polisie nie.

Jaco ·

Net so terloops; Fannie Masemola het in die 1980’s, in die ou SA, sy polisie opleiding gekry.

Nie Verbaas ·

Ek het nou so gelag ek kon nie eers deur die trane sien nie. Al waarvoor hulle slaggereed is is KFC se specials.

Harley Davidson ·

Die polisie is nie eers gereed om op skof te kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.