Polisie waarsku: Gesteelde houer bevat radioaktiewe inhoud

Die verseëlde houer wat gesteel is. (Foto: Verskaf)

Die polisie in Gqeberha is op soek na ʼn verseëlde houer wat verlede week uit ʼn motor in Sydenham gesteel is. Die houer bevat ʼn radioaktiewe isotoop genaamd Iridium 192.

Die publiek word nou gewaarsku om nie met dié houer te peuter as hulle dit sou vind nie aangesien dit skadelik kan wees.

Kapt. Andre Beetge, polisiewoordvoerder, sê die houer is Vrydagoggend uit ʼn motor in Mulderlaan gesteel. Die motor behoort aan die eienaars van ʼn sweisonderneming in KwaZulu-Natal wat ten tyde van die diefstal by ʼn gastehuis in Mulderlaan tuisgegaan het.

Die isotoop Iridium 192 word glo gebruik om X-straal-sweisinspeksies mee te doen.

Daar is Vrydag omstreeks 06:00 opgemerk dat die verseëlde houer uit die motor in Mulderlaan gesteel is.

Die eienaars sê nou die houer is veilig indien dit verseël bly. Enigiemand na aan die houer kan egter aan bestraling blootgestel word wanneer dit oopgemaak word.

Volgens die eienaars van die maatskappy kan die vlakke van bestraling ook verskil na gelang van die tydperk van blootstelling.

Die polisie waarsku dus die publiek om nie met die houer te peuter indien dit gevind word nie en dadelik kontak te maak met die polisie.

Die polisie doen ook ʼn beroep op enigiemand met inligting wat kan help om die houer óf verdagtes op te spoor om dié inligting by speurkonstabel Micaela Swart van die polisie in Mountweg by 069 358 9965 aan te meld.

Enige persoon wat enige kontak met die houer gehad het, word versoek om die stralingsbeskermingsbeampte by 081 391 3019 óf 084 387 1383 te kontak om vas te stel of die persoon enige skade weens blootstelling opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jack ·

Hoe verduidelik jy nou vir die mense wat ‘n radio aktiewe isotoop is ? Stel jou voor hulle maak die kannetjie oop in ‘n plek soos Soweto of so.Die mense sal vergiftig wees voordat hulle nog eers weet wat aangaan.

Bolandse Nooi ·

Daar sal nie té veel skade aangerig word nie … net so 4 jaar “down the road”, sal dié persoon of persone skielik die een of ander onverklaarbare soort kanker kry … en waarskynlik daaraan sterf voor enige dokter nog chemo kon voorstel.

Marina ·

En nou sal jy natuurlik daai een kry wat aspris sal wees en wil kyk of dit regtig so is

electricmango ·

Maak dit oop, asseblief maak dit oop. Laat reg en geregtigheid seevier.

Truman Burbank ·

Kyk asb uit vir mense met agt tentakels, veelvuldige oë en n ligte groen skeinsel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.