Polisie waarsku oor jongste kapingstendens

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die polisie se eenheid vir voertuigmisdaadondersoeke het voertuigbestuurders gemaan om op hul hoede te wees vir ʼn nuwe modus operandi wat kapers gebruik om veral motoriste in die Oos-Kaap te teiken.

“Ondersoekers het ʼn nuwe tendens van voertuigkapings opgemerk wat veral duurder motors soos sportnutsvoertuie en nuwer modelle motors teiken,” sê die provinsiale polisiewoordvoerder van die Oos-Kaap. Die tendens is veral in KwaZakele, New Brighton en Motherwell opgemerk.

Volgens die polisie lyk dit nie of kapers soos gewoonlik voertuie kaap met die doel om dit weer te verkoop of oor die grens te smokkel nie, maar eerder om insittendes van kosbare besittings te beroof.

“Die kapers sal een voertuig kaap, die insittendes van hul besittings soos selfone en beursies beroof, en dan met die motor wegry. Hulle sal dan die gekaapte motor gebruik om ʼn ánder motor mee te kaap en die eerste motor langs die pad laat.”

Volgens die polisie is die oortreders gewoonlik tussen twee en nege gewapende mans en vra hulle die slagoffers om geld elektronies via hul selfone na die boewe se rekeninge oor te plaas.

Die polisie raai mense nou aan om liefs nie hul motors langs die pad te parkeer en in die motor te sit en gesels nie. “Wees ook altyd bewus van jou omstandighede en wees veral versigtig vir enige groep mense wat jou voertuig nader.”

Die polisie raai motoriste ook aan om te verseker dat die privaatheidstellings op hul selfone van só ʼn aard is dat boewe nie maklik toegang tot persoonlike inligting en bankbesonderhede kan kry nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

As hulle weet waar die spots is, hoekom nie voorkomend optree en patroleer nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.