Polisie wond twee wat glo winkel beroof

Van die goedere wat gebuit is, is teruggevind. (Foto: Verskaf)

Twee vermeende rowers is Dinsdag in Kariega in die Oos-Kaap in hegtenis geneem nadat hulle glo op ʼn winkelsentrum in die gebied toegeslaan en verskeie duur elektronika-toestelle gebuit het.

Kapt. Andre Beetge, polisiewoordvoerder, sê die twee is in hul bene geskiet, maar sterk aan in die hospitaal onder polisiebewaking.

Ses van hul makkers kon egter daarin slaag om inhegtenisneming te ontduik.

Die polisie is gistermiddag na die Corkwood-winkelsentrum ontbied nadat agt mans glo ʼn winkel binnegegaan, die werkers aangehou en met onder meer selfone, skootrekenaars en geld op die vlug geslaan het.

“Tydens die rooftog is ʼn paniekknoppie gedruk en met die polisie se aankoms op die toneel het die sentrum se veiligheidswagte die beamptes die rigting gewys waarin die verdagtes gevlug het,” sê hy.

“Die polisie se honde-eenheid, tesame met nog lede van die plaaslike polisiestasie, het die verdagtes, wat in ʼn wit Nissan NP200-bakkie gevlug het, agternagesit.”

Die bestuurder van die bakkie het tydens die jaagtog beheer oor sy motor verloor en in Khayamnandi tot stilstand gekom.

Al die verdagtes het uit die motor gespring en te voet probeer vlug. Twee van die mans het hul vuurwapens op die beamptes gerig, maar is platgetrek nadat skote afgevuur is. Die ander verdagtes het inhegtenisneming ontduik.

Die verdagtes, onderskeidelik 28 en 39 jaar oud, is hospitaal toe geneem en aangekla van die besit van gesteelde goedere, asook die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Bykomende aanklagte kan dalk later bygevoeg word.

Die polisie het beslag gelê op twee vuurwapens, asook die goedere wat glo by die winkel gebuit is. Die algehele waarde daarvan is nog nie bekend nie. Daar is ook op die bakkie beslag gelê vir forensiese ondersoek.

Genl.maj. Vuyisile Ncata, distrikskommissaris van Nelson Mandela-baai, het die betrokke polisiebeamptes se pogings om al die verdagtes vas te trek, geloof.

“Polisiebeamptes wat op brandpunte soos Kariega konsentreer, is nie net te alle tye sigbaar om misdadigheid af te weer nie, maar hulle is ook vinnig om op die behoeftes van die gemeenskappe te reageer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie ·

Onthou die berig sê ‘n paar keer hulle het “glo” iets onwettig gedoen, so dalk sal daar later glo ‘n gewapende roof klagte bykom.

Di ·

Vind by die 2 wat gevang is uit wie die ander kriminele is wat weg gekom het. In elke saak kom die meerderheid van hulle weg, verstaan dit nie so lekker nie

Danie ·

Waarom kon die polisie nie die 6 agternasit en vang nie?Amper soos in rowe waar groot hoeveelheid geld geroof is die verdagtes word aangekeer maar die geld is altyd weg?????Wel die 2 gaan die skuld op hul makkers pak.

Elizabeth ·

Mooi. Roei die skernenkels uit. Jammer die ander het weggekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.