Polisiebeamptes vas wat buitelanders glo beroof

Beamptes van die Pretoria Sentraal-polisiestasie is vandeesweek in hegtenis geneem en onder meer van roof aangekla. (Foto: Google / Pretoria Sentraal-polisie)

Beamptes van die Pretoria Sentraal-polisie wat glo ’n gewoonte daarvan maak om buitelandse burgers aan te keer en te beroof, is Woensdag op heterdaad deur ’n multidissiplinêre taakspan betrap. Vier polisiebeamptes is in hegtenis geneem terwyl twee te voet gevlug het.

Dié span, wat uit onder andere die polisie se taktiese operasionele bestuurspan, die Tshwane-metropolisie en misdaadintelligensie bestaan, het die niksvermoedende verdagtes Woensdag in die omgewing van die Fonteine-sirkel dopgehou nadat inligting vroeër oor hul beweerde misdadige bedrywighede ontvang is.

Dit word beweer dat dié polisiebeamptes buitelandse burgers op pad na die kantoor van binnelandse sake in die Pretoriase middestad beroof. Die beamptes verlaat glo hul jurisdiksie om hul teikens vanaf Brooklyn te agtervolg, en slaan dan toe sodra dié slagoffers die Pretoria Sentraal-gebied binnegaan.

“Die polisielede sal hulle [buitelandse burgers] dan na bewering voorkeer, deursoek en hul besittings vat,” het kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, in ʼn verklaring gesê.

Beamptes van die Pretoria Sentraal-polisiestasie is vandeesweek in hegtenis geneem en onder meer van roof aangekla. (Foto: Google / Pretoria Sentraal-polisie)

“Woensdagaand was klaarblyklik nie anders nie. Die verdagtes het met hul onwettige aktiwiteite begin, sonder die wete dat hulle deur wetsgehoorsame lede van die multidissiplinêre span dopgehou is. Die verdagtes het die Fonteine-sirkel genader, op hul niksvermoedende slagoffers toegeslaan en hulle beroof.”

Mogale sê die verdagtes was op pad om die toneel te verlaat toe die taakspan op hulle toegeslaan het. Vier verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem terwyl twee uit hul voertuie gespring en te voet gevlug het.

Dié twee verdagtes is glo deur die stasiebevelvoerder gekontak, maar nie dadelik met hul aankoms by die stasie in hegtenis geneem nie.

Volgens Mogale het die bevelvoerder die gesteelde goedere by die verdagtes afgeneem en het een van hulle weer op pad na die selle gevlug. Dit is nie duidelik of dié beampte intussen aangekeer is nie.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn waar hulle op aanklagte van roof, die besit van vermoedelik gesteelde goedere en regsverydeling sal teregstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pietertjie ·

‘n Polisie-uniform maak nog nie ‘n Polisie-beampte nie.

Waarnemer ·

Baaintjies vir boeties….kom ek wed julle more is daardie manne weer terug in uniform na n ernstige waarskuwing deur hulle bevelvoerder.

Anel ·

Dit is absoluut verregaande! Maar die anderkant van die munt is dit: buitelanders kan absoluut maak wat hulle wil. Hulle kan onwettig in die land wees ens en die polisie en metropolisie mag niks aan hulle doen nie tensy hulle ‘n misdaad in die teenwoordigheid van die beamtes pleeg. Dit is nie genoeg om die huisbraak toerusting in hul besit te kry nie. Hulle kan slegs gearesteer word as lede van die departement van binnelandse sake teenwoordig is. So mens verstaan ook in ‘n mate die lede se frustrasie. Dalk probeer hulle hulle net aanmoedig om na hul eie lande terug te keer. Dis maar net my opinie!

Piet ·

Ek weet nou nie so lekker oor die arrestasie proses wat jy beskryf nie.

Nie Verbaas ·

Cele kan jy nou sien hoekom die publiek geen respek vir die korrupte BEE belaaide mag het nie?

Elize ·

Ja nee en hulle verwag respek maar is op dieselfde vlak as elke ander krimineel

Naomi ·

Ja minister Cele en sy trawante weereens dankie aan die publiek

Vernon ·

Hulle se mos..” SA het die meeste effektiefste SAPS mag in die wereld,want wanneer n misdaad gepleeg word is die kans goed dat die polisie alreeds op die toneel is”!

Hennie ·

Misdade teen swart buitelanders is ‘n groter prioriteit vir ou Cele as blanke boere wat burgers is van SA…

Di ·

Ja, dink mos hulle gaan vir ewig wegkom hiermee – KRIMINELE in uniform. Jou sondes haal jou wel in!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.