Polisiekaptein se vermeende moordenaar vasgetrek

Die vermeende moordenaar van ʼn polisiekaptein van Mpumalanga is Woensdag in hegtenis geneem. (Foto: Argief)

Die vermeende moordenaar van ʼn polisiekaptein van Mpumalanga is Woensdag in Kabokweni, Mbombela (Nelspruit), in hegtenis geneem.

Die 32-jarige verdagte word verdink van die moord op kapt. Sibusiso Bethwell Mthombothi (43). Mthombothi is in Januarie in KaNyamazane tydens ʼn voorval by ʼn motorwassery vermoor.

Maroela Media het vroeër berig dat Mthombothi op die noodlottige dag saam met ʼn polisiesersant na ʼn motorwassery in KaNyamazane gegaan het om sy private motor te laat was. Die polisiebeamptes het hul beurt afgewag, maar volgens die Valke se ondersoek het die bestuurder van ʼn ander motor in ʼn stadium die polisiekaptein se geparkeerde motor gestamp. Die kaptein en die bestuurder van die ander motor het glo ooreengekom dat die bestuurder van die ander motor R5 000 aan Mthombothi sal betaal om die skade aan sy motor te dek.

Die polisiesersant het die verdagte se motor na Mthombothi se ouerhuis geneem waar die motor glo sou staan totdat die polisiekaptein die geld vir die herstelwerk ontvang het. ʼn Stryery tussen Mthombothi en die verdagte het ontstaan terwyl die sersant weg was. ʼn Skoot is afgevuur en die sersant het met sy terugkeer op sy gewonde kollega afgekom. Mthombothi is kort daarna dood en die aanvaller het gevlug.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sê ʼn gesamentlike operasie is deur die Valke, die eenheid vir misdaadintelligensie en die taktiese reaksie-eenheid uitgevoer nadat die verdagte opgespoor is waar hy in Sifunindlela [in Kabokweni] geskuil het. Lede van die publiek het die polisie op sy spoor gesit.

Die man sal na verwagting Vrydag in die Pienaar- periodieke hof op aanklag van moord verskyn. Nog klagte kan moontlik teen hom aanhangig gemaak word.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiehoof, het die gemeenskap aangemoedig om aan te hou om saam met die polisie te werk en deurslaggewende inligting te deel.

“Ons word bemoedig deur die verhouding wat ons met die gemeenskap het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.