Polisieman in hof doodgeskiet

Sers. Mario Nel [Foto: Julian O’Reilly/Facebook]

’n Man is in hegtenis geneem nadat hy glo Woensdagoggend ’n polisiebeampte in die Motherwell-landdroshof in Gqeberha, Oos-Kaap, doodgeskiet het. Sers. Mario Nel (41) was ’n hofordonnans.

Volgens brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het die verdagte om 09:20 die hofgebou binnegegaan, die betrokke polisiebeampte se vuurwapen afgeneem en die beampte doodgeskiet. Die verdagte het daarna met die vuurwapen steeds in sy besit te voet gevlug.

“Lede van die teenbende-eenheid wat die gebied gepatrolleer het, is deur ’n minibustaxi-bestuurder in kennis gestel dat die verdagte in sy taxi is,” bevestig Mathe.

“Die beamptes is na die taxi waar ’n skietgeveg tussen hulle en die verdagte uitgebreek het. Die verdagte is tydens die skietery gewond. Hy is onder polisiebewaking vir verdere mediese behandeling na ’n hospitaal geneem. “

Die polisie het die oorledene se vuurwapen in die verdagte se besit gevind en daarop beslag gelê.

Geen passasiers van die taxi is tydens die skietery gewond nie.

Die afgestorwe polisiebeampte was 16 jaar in die polisiediens.

Die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling was nie by magte om kommentaar op die voorval gelewer nie aangesien ʼn amptelike ondersoek gedoen word.

Steve Mahlangu, woordvoerder van die departement, het gesê alle personeellede wat die voorval aanskou het, sal traumaberadingsdienste en psigososiale ondersteuning ontvang.

In ’n afsonderlike voorval in Oos-Londen is die polisie op soek na ’n groep verdagtes wat verbind word met die moord op sers. Lwando Lawrence Bunga (42) wat aan die polisie se eenheid vir openbare orde (POP) in die stad verbonde was. Hy was 14 jaar lank ’n lid van die polisiediens.

Volgens die polisie se inligting is die sersant Maandag tydens ’n gewapende rooftog by Fidelity se perseel doodgeskiet.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het opdrag gegee dat al die nodige hulpbronne gemobiliseer word sodat die verdagtes vasgetrek kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Want elke boef het deesdae ‘n vuurwapen. Gewapende roof is nou soos brood koop by jou plaaslike kafee.

Danie ·

Die boef het die polisieman se wapen afgevat en hom geskiet met sy eie amptelike wapen.Daar hoort nie wapens in n hof nie.

Jean ·

Die boef het die polisieman se vuurwapen gevat en gebruik…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.