Polisieman waarsku ouers teen ‘seksuele roofdiere’ 

Kapt. Bez Bezuidenhout (Foto: SAPD)

“Monitor daagliks jou kinders se toestelle, soos tablette en fone.”

Só sê kapt. Bez Bezuidenhout van die polisie se eenheid wat reeks- elektroniese misdaad ondersoek. Dié eenheid is verantwoordelik vir die opsporing en inhegtenisneming van reeksverkragters, asook diegene wat betrokke is by die besit, verspreiding en skep van kinderpornografie.

“Installeer sagteware [op elektroniese toerusting] wat skadelike inhoud sal kan versper. Jong kinders moet nie in kletsgroepe wees nie. Daaglikse monitering sal verseker dat meer kinders van sulke roofdiere gered word. Hierdie roofdiere lok selfs kinders deur aanlyn rekenaarspeletjies; ouers moet ekstra waaksaam wees.”

Bezuidenhout rig dié waarskuwing nadat hy en sy span betrokke was by die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die 36-jarige Mario Guisti. Die rekenaarprogrammeerder is tot 8 400 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy op 1 010 aanklagte skuldig bevind is, waaronder twee aanklagte van die verkragting van twee minderjarige seuns, mensehandel en die skep, besit en verspreiding van kinderpornografie.

Guisti is in Augustus 2022 in Welkom in die Vrystaat in hegtenis geneem. Daar is vasgestel dat hy seuns tussen agt en 10 jaar oud bevriend en geteiken het met die uitsluitlike doel om kinderpornografie te skep en seksuele dade met die jong seuns uit te voer.

Bezuidenhout was ook verlede maand betrokke by die suksesvolle vervolging van ʼn 60-jarige man wat nie geïdentifiseer kan word nie om die identiteit van sy slagoffer te beskerm. Die man is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy een van sy sibbe se 10-jarige dogtertjie gebruik het om kinderpornografie te vervaardig.

Bezuidenhout en ander lede van die polisie se eenheid wat reeks- elektroniese misdaad ondersoek, is tans betrokke by ʼn spesiale operasie wat in samewerking met die Amerikaanse departement van binnelandse veiligheid uitgevoer word. Die spesiale ondersoekspan fokus op Suid-Afrikaanse aanlyn gebruikers wat na bewering betrokke is by onder meer die besit en vervaardiging van kinderpornografie.

Altesaam 27 verdagtes is in Suid-Afrika geïdentifiseer wat glo betrokke is by die besit, verspreiding, vervaardiging, toegang tot en aflaai van kinderpornografie. Vier verdagtes is reeds in onderskeidelik KwaZulu-Natal en Gauteng in hegtenis geneem.

ʼn 60-jarige man is vroeër vandeesmaand by ʼn woonstel in Umbilo in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem en daar is volgens die polisie duisende foto’s en video’s van kinderpornografie in sy besit gevind.

Drie mans is vroeër onderskeidelik in Springs, Krugersdorp en Benoni op dieselfde aanklagte in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Goldy ·

Dankie dat julle ouers waarsku. Sryf asseblief n opvolgberig om vanpaste sagteware aan te beveel want dis nie n maklike soektog om te kies tussen die baie opsies nie en party is baie meer effektief as ander. Dit sal maak dat die berig baie meer trefkrag het en meer prakties is, ap word name geniem van handelsmerke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.