Polisiemanne tronk toe vir moord

Argieffoto (Foto: VBlock/Pixabay)

Vier polisiebeamptes is Donderdag in die hooggeregshof in Johannesburg tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op ʼn pa van Katlehong, suidoos van Johannesburg. Vusumuzi Mtshali, Simphiwe Lydia Kubheka, Themba Kunene en Khayelihle Gumede het in 2019 vir Phikolomzi Tsatsi so erg aangerand dat hy aan sy beserings beswyk het.

Tsatsi is destyds saam met drie ander mans in polisieaanhouding aangerand, waarna die polisie eers met die mans in die vangwa rondgery het voordat hulle die erg beseerde gevangenes na ʼn hospitaal geneem het.

Ter verswaring van die vonnisse het Tsatsi se vrou getuig oor die gevolge van die misdaad op haar en haar gesin. Volgens sy vrou was Tsatsi die broodwinner van die gesin en die pa van drie kinders. Sy het aangevoer die kinders sukkel sonder hul pa.

Die senior staatsadvokaat, David Mothibe, het aangevoer dat die beamptes boonop versuim het om die oppergesag van die reg te handhaaf deur nie onmiddellik mediese hulp vir Tsatsi te soek, nadat hulle hom aangerand het nie.

Volgens Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Tsatsi op 9 Maart 2019 in die Katlehong-nedersetting naby Johannesburg saam met Msindisi Cici in ʼn motor gery toe die polisiemanne hulle voorgekeer het. Cici was op pad om sy broers na hul woonplek te neem. Tsatsi was ʼn passasier in die motor.

“Mtshali en Kubheka het in ʼn gemerkte polisievoertuig langs Cici se motor stilgehou en Cici versoek om sy rybewys te wys. Albei beamptes het vermoed dat Cici onder die invloed van drank bestuur het,” het Mjonondwane gesê.

“Mtshali het daarna geld van Cici vir sy lisensie geëis. Toe Cici hom teësit, het die beamptes probeer om hom in hegtenis te neem. Cici het geweier om geboei te word en het redes vir sy inhegtenisneming geëis. Die beamptes het toe nóg polisiebeamptes na die toneel ontbied.”

Cici is in die polisievoertuig geplaas en na die Katlehong-Noord-polisiestasie geneem. Sy broers en Tsatsi het die polisievoertuig na die polisiestasie gevolg.

“By die polisiestasie is Cici na die agterkant van die aanklagkantoor geneem en deur die polisiebeamptes aangerand. Tsatsi en Cici se broer, Gcin’umuzi Sotondoshe, is versoek om by Cici aan te sluit en die beamptes het Tsatsi en Sotondoshe toe ook aangerand.”

Die beamptes het die drie mans in ʼn polisievoertuig gelaai en in die omgewing van Katlehong en Vosloorus rondgery voordat hulle hospitaal toe geneem is. Tsatsi het egter aan sy beserings beswyk voordat hulle by die hospitaal aangekom het.

Die vier beamptes is elk 15 jaar tronkstraf opgelê vir moord en ʼn verdere ses jaar vir twee aanklagte van poging tot moord. Mtshali is ook vier jaar tronkstraf opgelê vir korrupsie.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Dis waar hulle hoort – agter tralies! Ou Hoed is seker nou baie trots op sy EERBARE polisie lede. Daar is nog duisend ander korrupte lede in die mag.Dis tyd dat ‘n volledige ondersoek gedoen word op elke polisielid in die mag wat kriminele rekord het.

Adriaan ·

Ek hoop hulle mede gevangenis vind vinnig uit hulle is gewese polisiemanne …

Maar eintlik wonder ek, wat is die doel daarvan om iemand aan vele misdade skuldig te vind, vir elke misdaad n straf op te lê en dan die strawwe gelyklopend te laat uitdien?

Realis Thailand ·

Was eenkeer in NY in die hof die regter vonnis n rower toe op drie klagtes 99 jaar elk en se toe met n sedige gesig virhom jy kan na 142 jaar aansoek doen vir parool
In werklikheid kon hy egter na 42 jaar aansoek doen dit was in 1967 en sy eerste parool datum was 2009. Dis nou n ordentelike straf.

Nie Verbaas ·

Polisiemanne in die tronk? Geniet dit manne. Ek glo daar is baie wat persoonlike aandag aan julle gaan gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.