Politieke huurmoordenaar skuldig aan ses moorde

(Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

Die bestuur van die SAPD verwelkom die skuldigbevinding van Fisokuhle Ntuli in ʼn streekhof in Richardsbaai in KwaZulu-Natal.

Ntuli het sedert 2016 ses mense vermoor. Brigadier Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, sê hy is skuldig bevind op aanklag van die moord op ANC-raadslid Thami Goodwill Nyembe, Butiza Sandisa Mahlobo, Sphamandla Zungu en die broers Phiwayinkosi Zulu, Mcebisi Zulu en Sibusiso Zulu.

“Ntuli is ook skuldig bevind op aanklag van poging tot moord ná hy Nolwazi Nyembe, die vrou van Thami Nyembe, geskiet en kritiek beseer het,” het Naidoo bygevoeg.

Hy is ook skuldig bevind op vier aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie waar een van die vuurwapens by ʼn polisiebeampte in 2011 in Queenstown gesteel is.

“Die verdediging het versoek dat ʼn verslag van ʼn paroolbeampte en maatskaplike werker aan die hof voorgehou moet word voor vonnisoplegging plaasvind. Die regter het dié versoek toegestaan en Ntuli sal na verwagting op 9 Desember weer in die hof verskyn vir vonnisoplegging.”

ʼn Multidissiplinêre politieke taakspan in KwaZulu-Natal van senior staatsaanklaers, SAPD-speurders, beamptes van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), forensiese kenners en misdaadintelligensie, het in 2016 ondersoek begin instel na Ntuli oor een aanklag van moord en een van poging tot moord ná die Nyembe-egpaar in KwaNongoma geskiet is.

“ʼn Intensiewe ondersoek deur die span het Ntuli met vyf ander moorde verbind. Sy skrikbewind was nie net beperk tot die noordelike dele van KwaZulu-Natal nie. Hy is ook ʼn verdagte in verskeie sake in Gauteng – waaronder talle moorde, insluitend dié op Senzo Meyiwa.”

Naidoo sê die uitslag van dié saak sal na verwagting ʼn duidelike boodskap aan voornemende anargiste stuur oor die erns van die kriminele strafregstelsel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Die Boerepompie ·

Kan nie glo hulle wil nog hoor iets hoor vanhoe hylewe nie sluit hom op en gooi die sleutels weg

Johann ·

Mens sou graag wou weet wat die “misdaad” van die teikens was. Wat het aanduiding gegee dat die persone volgens die baasbrein / leiers sou laat besluit die persone moes uitgewis word. Die “gevaar” bestaan moontlik nog vir ‘n klomp ander “teikens” wat dalk nie eers bewus is dat hulle in gevaar is oor uitsprake of lewens besluite of kultuur nie.
Waar is ons ondersoekende joernaliste?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.