Prematuur-tweeling herenig 17 jaar later met versorgers

Die Hadjipetros-gesin (van links na regs): ma Yiota, Alexandros, pa Aki en Stefanos.

’n Tweeling wat in 2004 vier maande prematuur gebore is en maande lank in ‘n Johannesburgse hospitaal moes deurbring, het onlangs herenig met die medici wat hulle destyds in die neonatale waakeenheid versorg het.

Wêreld Prematuur-dag is die afgelope week gevier.

In die vroeë 2000’s was babas wat so vroeg gebore is, se kans op oorlewing as uiters skraal beskou. Vandag is die tiener-tweelingbroers egter ’n lewende bewys van wat bereik kan word met die liefde van hul toegewyde ouers, en die toewyding van ’n span spesialiste en neonatale intensiewesorg-verpleegkundiges.

“Toe my babas op 5 Desember 2004 met ’n noodkeisersnee gebore is, was ek in skok. Om ’n eerste keer ma te word, is gewoonlik stresvol, maar ons tweelingseuntjies was so klein en onderontwikkel dat ek en my man Aki gewaarsku is dat hulle uiters kwesbaar is. Dit was ’n surrealistiese, skrikwekkende tyd,” sê Yiota Hadjipetros, ma van die tweeling Alexandros en Stefanos.

“Ons was maande lank in oorlewingsmodus, het gebid en elke oomblik wat ons kon saam met ons seuns in die neonatale intensiewesorgeenheid by die Netcare Park Lane-hospitaal deurgebring. Tot vandag toe is ons so dankbaar vir die ‘familie’ van sorgsame mediese spesialiste en verpleegsters wat vir ons babas gesorg het en deur die genade van God hul lewens gered het.”

“Omdat die tweeling so prematuur was, was daar groot kommer vir hul oorlewing, veral vir Alexandros,” sê dr. Neli Stoykova, wat die Hadjipetros-seuns se pediater by geboorte was, en steeds by die Netcare Park Lane-hospitaal praktiseer, asook verskeie van die NICU-verpleegsters wat vir vier maande lank 24 uur per dag na die tweeling omgesien het.

“Dit was ’n ware geestelike reis vir almal wat betrokke was. Soos altyd het ons alles gegee sodat die klein broers nie net die beste moontlike kans op oorlewing sou hê nie, maar ook die beste moontlike lewenskwaliteit sou hê, met die wete dat die kliniese besluite wat ons in daardie vroeë stadium geneem het om te help om hul lewens te red, ook hul toekomstige welstand beïnvloed,” sê Stoykova.

“Die tweeling moes deurlopend geïntubeer, geventileer en fyn dopgehou word. Ons het baie dae en nagte by die hospitaal deurgebring met die ouers wat oor die babas gewaak het.”

Alexandros het net 700 gram geweeg en moes geopereer word waarna hy lewensgevaarlike nierversaking ontwikkel het. “NICU-verpleegster Pat Naransamy het aan diens gekom om die seuns tydens die nagskof te versorg, en sy het vir die van ons wat nog daar was na ons dagskof gesê om huis toe te gaan en behoorlik te rus.

“Dit was Naransamy se 40ste verjaardag, en sy het vir ons gesê dat sy vir een verjaardagwens gebid het – om die tweeling veilig te hou en hul vordering te lei,” sê Stoykova. Naransamy werk steeds by die neonatale eenheid by die hospitaal.

“Gelukkig het Alexandros dit deur die nag gemaak, en ons was so dankbaar toe sy toestand geleidelik begin verbeter het,” sê Naransamy, wat in 1991 by die hospitaal se NICU aangesluit het.

Op ’n ander geleentheid het die seuns bloedoortappings benodig en het die gemeenskap saamgekom en seker gemaak daar word genoeg bloed geskenk. Die tweeling is op 15 Maart 2005 ontslaan.

Stefanos en Alexandros by dr. Neli Stoykova

Die tweeling het onlangs, kort voor hul 17de verjaarsdag, ’n spesiale reünie met Stoykova en die NICU-span gehad.

“Hoewel ons kontak behou het, het ons gevoel dit is tyd vir ’n samekoms om fees te vier saam met die wonderlike span wat in daardie tyd soos familie vir ons geword het. Dr. Stoykova is fenomenaal, en ons dank God dat Hy haar en hierdie spesiale span verpleegsters daar geplaas het om na ons tweeling om te sien,” het Hadjipetros gesê.

“Ons is so dankbaar vir hulle, en die verpleegsters was verstom om te sien hoe Alexandros en Stefanos besig is om in jong mans te ontwikkel, grootliks te danke aan die pogings van die spesialiste en die sorgsame NICU-span.”

By geboorte het die tweeling bloeding op die brein gehad, maar enige uitwerking op hul ontwikkeling sou eers later sigbaar word soos hulle ouer geword het. “Ons het ’n lang reis met die tweeling se gesondheid en ondersteunende terapieë gehad. Stefanos en Alexandros het albei hard gewerk, en Stefanos is nou in gr. 10 in ’n hoofstroomskool,” sê Hadjipetros.

“Alexandros oortref voortdurend verwagtinge, aangesien een van die spesialiste vir ons gesê het hy sal waarskynlik lewenslank ’n kwadrupleeg wees, maar toe, met die hulp van ’n fisioterapeut wat deur dr. Stoykova aanbeveel is, het hy ons verras en binne 18 maande geleer om te loop. Hy het ’n paar leerhindernisse, en ons het baie navorsing oor verskeie onderwysmodelle gedoen, en ons werk daagliks saam met Alexandros om te help om die beste van sy vermoëns te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francios

4 maande te vroeg gebore, dus op sowat 24 weke. Daar is advertensies dat dokters in SA wettige aborsies kan doen tot op 28 weke. Dan is daar nog mense wat sê aborsie is nie moord nie. En hulle stem boonop vir die Dying Alliance wat dit ondersteun

Strandloper

In 1986 is ons oudste 3 maande premature gebore en het 920 gram geweeg. Was 3 maande in hoe sorg en het af geval na 700 gram. Dokters het nie veel hoop op oorlewing gehad nie. Vandag n sterk jong man. Hy het n geheue probleem maar anders 100% danksy baie gebede en die personeel van Zuid Afrikaanse hospitaal in Pretoria.

FM

Hier in Suid-Afrika en oor die wêreld word daagliks gruwelike moorde gepleeg.

Eendag……..

sal almal tot verantwoordelikheid gevra word….

daardie dag …….

Samuel

Wat gaan ons nog vier?

Pietertjie

Dis remarkabeel! ‘n Mirakel!