Pretoria FM toets openbare steun vir landswye uitsendings

Pretoria-FM-01

Willie Spies (Foto: Reint Dykema)

Die Afrikaanse radiodiens Pretoria FM het pas ʼn veldtog van stapel gestuur om ondersteuning te wys vir die vestiging van ʼn landswye uitsaaivoetspoor.

Die stasie ondersoek die moontlikheid om geleenthede tot voordeel van die gemeenskap te benut deur die uitspraak van oudregter Thokozile Masipa ná ʼn klagte wat die mediareus Primedia by die onafhanklike kommunikasie-owerheid teen Pretoria FM gelê het.

In die uitspraak het Masipa sy erkenning verleen aan die unieke rol van Pretoria FM om ʼn belangegebaseerde gemeenskap, naamlik Afrikaners te bedien, sê Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM. Masipa het voorts in haar uitspraak erkenning verleen aan die feit dat die kultuurgemeenskap wat deur Pretoria FM bedien word, yl versprei is oor die grootste deel van die landsgrense en het daarom Primedia se klagte verwerp dat Pretoria FM reeds uitsaai na agt herleistasies in sewe verskillende distrikte van Gauteng, Limpopo, Noordwes en Mpumalanga.

“Die uitsaai-regulasies maak vir twee tipes gemeenskappe voorsiening, naamlik geografiese gemeenskappe, wat gewoonlik beperk word tot ʼn spesifieke munisipale distrik en belangegebaseerde gemeenskappe wat oor ʼn groter gebied as ʼn munisipale distrik versprei kan wees,” voeg Spies by.

Wat Pretoria FM betref is sy luistergemeenskap, naamlik Afrikaners, letterlik landswyd versprei.

Spies voeg by Pretoria FM het homself die afgelope byna drie dekades gevestig as ʼn gerekende speler in die uitsaaibedryf. “Die stasie het ʼn uiters lojale en groeiende luistergemeenskap.”

Spies meen ondeurdagte bestuursbesluite by die openbare uitsaaier maak Pretoria FM gaandeweg ʼn al meer gewilde opsie vir Afrikaanse radioluisteraars.

“Pretoria FM handhaaf ʼn gesonde balans van Afrikaanse musiek in meeste van sy genres, ligte klassieke musiek, asook gewilde internasionale treffers wat wissel van goue oues, tot hedendaagse gewilde musiek van goeie gehalte. Wat inhoud betref het Pretoria FM die afgelope 11 jaar belê in die vestiging van ʼn sterk nuus- en aktualiteitsaanbod onder die handelsnaam Klankkoerant. Die aktualiteitsprogram Klankkoerant word reeds na verskeie ander plaaslike gemeenskapstasies gesindikeer en beskik daarom reeds oor ʼn goed gevestigde landwye voetspoor.”

Volgens Spies kan die onafhanklike kommunikasie-owerheid (Okosa) slegs genader word om lisensies in verdere gebiede uit te reik indien daar bewese steun in die betrokke gemeenskappe aangetoon word.

“Ons aansoek vir ʼn lisensie in enige dorp of stad in die land moet dus altyd gerugsteun word deur ʼn naamlys van plaaslike mense, skole, kerke en gemeenskapsorganisasies, wat hulle stemme wil laat tel om vir ons in ʼn spesifieke area te laat uitsaai. Vir dié doel het ons ʼn aanlyn aanteken-register geskep waarop mense hulle steun kan wys. Die webwerf waar mense hulle ondersteuning kan aanteken is hier beskikbaar: https://www.pretoriafm.co.za/veldtogte/landswyd. Hoe meer name ʼn betrokke dorp oplewer ter ondersteuning van ons uitbreiding, hoe beter is die kans dat ons Okosa kan oortuig om ons te steun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nommer 7 ·

Google “radio.garden” en luister na Pretoria FM enige plek in die wereld.

Groen Ghoen ·

Dit is ‘n briljante idee. Die “transformasie” van RSG is amper volledig en is baie kere ‘n foltering om na te luister. Laat ons Afrikaans red en diegene ondersteun wat dit uitbou. Sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.