Prof. Annette Combrink deel haar planne as nuwe NWU raadslid

Annette-Combrink-02

Prof. Annette Combrink is nou ‘n raadslid van die NWU. Foto: Cloveraardklop.co.za

Vir prof. Annette Combrink (71), voormalige rektor van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus, bestaan daar nie iets soos aftree nie, selfs nie eers ná die ouderdom van sewentig nie.

Combrink wat ook voorheen burgemeester van die Tlokwe-munisipaliteit was, is Dinsdag verkies as ʼn nuwe raadslid van die NWU. Sy is nou een van die vier raadslede wat die konvokasie van lede verteenwoordig wat ʼn kwalifikasie by dié universiteit verwerf het. Haar ampstermyn sterk oor drie jaar en mag daarna vir nog drie jaar verleng word.

“As ek iets het om by te dra, doen ek dit met die grootste liefde vir my alma mater – die NWU is deel van my identiteit. Ek het hier gestudeer en behalwe vir my tyd as onderwyser, het ek my hele lewe lank ook by hierdie universiteit gewerk,” het Combrink gesê.

Sy glo dit is veral haar institusionele geheue van suksesvolle stelsels by die universiteit waar sy ‘n bydrae kan lewer. “Ek wil hier ʼn bydrae maak sonder om vooruitgang te strem, maar ek is seker daar is van die goeie goed wat altyd darem nog kan bly. Ek sal graag in die lig van transformasie en die veranderinge by die universiteit, die sogenaamde stem van gesonde verstand wees, sodat besluite nie net ter wille van verandering geneem word nie, maar ook geskoei is op goeie sakebeginsels. Kom ons wees nou maar eerlik: ʼn universiteit is ook deesdae ʼn onderneming en daarom moet dit só bedryf word.”

Combrink meen onderrig, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid is die drie hoof-ideale van ʼn universiteit en sy wil haar raadslidskap aanwend om te sorg dat die beste middele gebruik word om hierdie ideale te bereik.

“Moedertaalonderrig is al wêreldwyd deur navorsing as die beste onderrigmetode bewys en daarom voel ek Afrikaans as onderrigmedium het ʼn plek by die NWU,” het Combrink gesê. Sy sê mense lag dikwels vir haar as hulle hoor hoe ernstig sy oor Afrikaans as onderrigmedium is.

“Ek was my lewe lank ʼn Engelse onderwyser en dosent, dus vind hulle dit soms vreemd, maar ek weet ʼn mens dink en doen die beste in sy eie taal.” Dit beteken egter nie dat Combrink nou ʼn skielik ʼn groot taalstryder gaan word nie, maar sy glo dat Afrikaans sy regmatige plek by die NWU moet behou. “Daar is byvoorbeeld groot uitgawes en moeite met die NWU se tolkstelsel gemaak om studente te akkommodeer wat sukkel met Afrikaans, maar ek dink nie ons moet studente wat in Afrikaans wil studeer, die reg ontneem omdat daar studente is wat gemakliker in Engels kommunikeer nie.”

Sy het ook met trots verwys na die NWU wat elke jaar beter vergelyk met internasionale en ander plaaslike universiteite. “Die NWU is klaar ʼn beter universiteit as 10 jaar gelede, toe die PU vir CHO met die Universiteit van Noordwes in Mafikeng en die Sebokeng-kampus van die destydse Vista-universiteit saamgesmelt het, veral as ʼn mens na navorsingsuitsette kyk.” Volgens haar moet die NWU ʼn omgewing skep waar studente en personeel optimaal kan presteer sodat dit die beste universiteit kan word. “As kampusrektor was dit altyd vir my belangrik om vir personeel ‘n vervullende werksomgewing te skep. Daar is tans maar baie onsekerheid, onrustigheid en moedeloosheid en in hierdie soort omstandighede kan mense maklik besluit om pad te gee. Ons moet verby ʼn eng interpretasie van transformasie kyk en nie net rasgelykheid in syfers najaag nie.”

Combrink is tans ook raadslid van die nuwe Noord-Kaapse universiteit, Sol Plaatje. Sy dien ook op die Tlokwe-stadsraad en die KK Kaunda-distriksmunisiplaiteit. Daarbenewens is sy ook president van die plaaslike Rotariërsklub en dien verder op die direksies van Aardklop, die dienssentrum van bejaardes en die Noordwes-krieketraad.

“Deur my lewe was ek dikwels betrokke by verskeie organisasie en soms het dit ook per ongeluk gebeur, maar ek voel dikwels dit is my plig om ʼn bydrae te lewer waar ek kan. Hierdie raadslidskap is vir my ʼn groot eer en vooruitgang by die universiteit om die NWU die beste universiteit moontlik te maak, is vir my die belangrikste. Ek voel daar het te veel bloed, sweet en trane in hierdie universiteit ingegaan om nie hiervoor te veg nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Bruno Stef ·

Geluk Prof Combrink jou teenwoordigheid kan net n groot bonus vir die saak van Afrikaanse onderrig wees tesame met nugterdenkende kollegas op die raad. Wees net bedag op die groot Transformeerders in die raad met hulle bedenklike planne wat hulle weergawes op almal wil afdwing.Die ouer gemeenskap van die studente ondersteun jou in groot getalle.

Dup du Plessis ·

Dis waar Bruno, wil graag hierdie stelling maak vir die raad om aan te herkou: Duisende Afrikaanssprekende ouers is bereid om tot UITERSTES te gaan om hul kinders in hul moedertaal te laat onderrig. Gaan doen gerus ‘n opname en kyk van waar die meeste PUK studente kom……. die meeste van ons vertrou nie die vrede nie, (is net te veel kere al teleurgestel deur Keisers sonder klere) en hoe gouer die eie volwaardige Afrikaanse universiteit soos beplan deur Solidariteit tot stand kom, hoe beter vir Afrikaanssprekendes. Kry eintlik hoendervleis om te dink aan die moontlikhede vir so ‘n universiteit. Dan noem ons die nuwe plek PUK en PUK kan dan Tlokwe heet.

Amanda Swanepoel ·

Baie dankie prof Combrink vir alles wat jy doen en vermag. Dit is wel so dat moedertaal onderrig die beste ismaar in SA is soveel tale dit sal die beste wees as die Afrikaanse Universiteite Afrikaans bly met hulle Afrikaanse dosente en die andertaliges bou hulle eie universiteite met hulle eie dosente. Ek weet van n Afrikaanse student wat in Engels Ekonomie moes doen wat deur n Sotho dosent aangebied is. Sy het 2 klasse bygewoon en nie weer gegaan nie aangesien die uitspraak en aksent van so n aard was dat sy niks kon verstaan nie. Nou hoe nou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.