Proteas beklink toetsreeks op ʼn drafstap

Temba Bavuma het 172 lopies aangeteken. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Temba Bavuma kon net een lopie by sy oornagtelling van 171 voeg, maar sy span het steeds hopeloos te veel skietgoed vir die stomme Wes-Indiese Eilande op die Wanderers gehad.

Die Proteas het die wedstryd met 284 lopies gewen om die reeks met 2-0 te beklink.

Dit was toe ʼn baie slim besluit om twee draaiers by die Protea-elftal vir die kragmeting in te sluit; Simon Harmer en Keshav Maharaj het veral voor middagete die besoekers dronk gedraai.

Harmer – wat homself al vantevore as die “beste wegbreekbouler ter wêreld” bestempel het – het sy selfverklaarde reputasie gestand gedoen en veral die linkshandige kolwers het harde bene teen hom gekou.

Die Proteas het die tweede toets op die Wanderers met 284 lopies gewen. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Hy het sy aflewerings lekker vlug gegee en die bal het net genoeg gedraai om die buite- of binnerand van die kolf te tref.

Daarteenoor het Maharaj twee vinnige paaltjies geneem en teen middagete was die Windies reeds vuisvoos met hul telling op 34/6.

Die linkshandige draaier het egter ʼn besering opgedoen toe hy Kyle Mayers se paaltjie gevier het en ’n mobiele draagbaar is nadergeroep.

Ná middagete het Jason Holder en Joshua da Silva probeer om vuur met vuur te beveg, maar Gerald Coetzee het hulle met slim snelbouwerk uitoorlê.

Die jong Protea-blits het ses paaltjies in die wedstryd geneem en Ian Bishop (voormalige Wes-Indiese snelbouler) het vanuit die kommentatorshokkie gesê dat daar ʼn blink toekoms op hom wag.

Hoewel Harmer later vir ʼn ses of twee geslaan is, was dit heel gepas dat hy die laaste paaltjie geneem het toe Heinrich Klaasen vir Alzarri Joseph van sy boulwerk gestonk het.

Aiden Markram het die meeste lopies (276 teen ʼn gemiddeld van 69) in die toetsreeks aangeteken, terwyl Kagiso Rabada en Joseph elk 12 paaltjies laat spat het.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 320/10 in 92,2 boulbeurte: Aiden Markram 96, Tony de Zorzi en Kyle Mayers 3/32.

Wes-Indiese Eilande 251 in 79,3 boulbeurte: Jason Holder 81, Kyle Mayers 29 en Gerald Coetzee 3/41.

Suid-Afrika 321/10 in 100,4 boulbeurte: Temba Bavuma 172, Wiaan Mulder 42 en Kyle Mayers 3/46.

Wes-Indiese Eilande 106/10 in 35,1 boulbeurte: Joshua da Silva 34, Gerald Coetzee 3/37 en Simon Harmer 3/45.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.