Proteas beveg uiteindelik vuur met vuur

Dwaine Pretorius van Suid-Afrika (13 Februarie 2021) (Foto: Arif ALI / AFP)

Daar was steeds ʼn paar benoude oomblikke – veral toe die bal ná die tiende boulbeurt begin draai het – maar die Proteas het uiteindelik ʼn wedstryd in Pakistan gewen toe hulle die tuisspan in die tweede T20-kragmeting in Lahore met ses geklop het.

En die groot held was Dwaine Pretorius.

Dié 31-jarige veelsydige speler het met sy spogboulontleding van 5/17 vir Pakistan op die agtervoet geplaas. Hy het van die gevaarlike Babar Azam (5) en Mohammad Rizwan (51) ontslae geraak.

O ja, dit is ook die beste boulsyfers deur ’n Suid-Afrikaner in internasionale T20-krieket; ’n kortkoppie beter as Ryan McLaren se 5/19.

Saam met ʼn skitterende Tabraiz Shamsi (1/16) het hulle die lopiekrane toegdedraai en vir Pakistan tot 144/7 in hul toegelate 20 boulbeurte beperk. En op ʼn goeie kolfblad sou dit normaalweg nooit genoeg in ʼn T20-wedstryd gewees het nie.

Maar kolfwerk-ineenstortings blyk om die Suid-Afrikaners se sterk punt te wees en toe Shaheen Afridi in die eerste boulbeurt vir Janneman Malan (4) terug na die kleedkamer gestuur het, het die Proteas se vertoning ʼn mens aan daardie visvangprogram op TV laat dink: Hier gaan ons alweer.

Reeza Hendricks (42) en Pite van Biljon (42) het egter vuur met vuur beveg. Hulle het aggressief teen Pakistan se draaiers gekolf en ʼn goeie vennootskap van 77 lopies om die derde paaltjie geniet.

Hoewel hulle kort ná mekaar hul paaltjies weggesmyt het, het David Miller en Heinrich Klaasen koelkop gebly om die Protea-wa deur die drif te trek.

Die wenner van môre se derde T20-kragmeting sal dus met die silwerware wegstap.

  • Opsomming van telkaart:

Pakistan 144/7: Mohammad Rizwan 51, Iftikhar Ahmed 20 en Dwaine Pretorius 5/17.

Proteas 145/4: Reeza Hendricks 42, Pite van Biljon 42 en Shaheen Afridi 2/18.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Ons is ons eie grootste vyande.Ons kan nie koel en kalm enkellopies hardloop en die telbord aan die rol hou en swak aflewerings grens toe stuur nie.Ons wil die leer van elke bal afslaan en gaan nie uit met goeie aflewerings nie maar met swak houe.Ons kolwers weet nie waar is die wegpen nie en speel wye aflewerings glippe toe.Ons boulers kan maar net nie leer om nie kort en wyd of vol en wyd te boul nie nie.As ons daardie tekortkominge kan uitskakel kan ons meer wedstryde wen as verloor.Ons verwerk laat ook veel te wens na.”catches win matches”

Harry ·

Knap gedaan manne. Dit is lekker om te kyk na manne met veggees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.