Pta-kinderhuis ‘dankbaar’ vir skenkings ná vernietigende brand

Sumarie Greybe van Naked Insurance, Martin Bester van Jacaranda FM en Charlene Grobler, uitvoerende hoof van die Louis Botha-kinderhuis. (Foto: Jacaranda FM/Facebook)

Die Louis Botha-kinderhuis in Queenswood, Pretoria, het die publiek bedank vir die hulp wat ingestroom het nadat ʼn verwoestende brand verlede Maandag groot skade aan een van hul seunshuise aangerig het.

Maroela Media het voorheen berig dat dié brand in die laatmiddag op die boonste verdieping in ʼn 18-jarige seun se kamer uitgebreek het. Geen kinders of huisouers is beseer nie, en die seuns kon na ʼn ander huis op die perseel verplaas word.

Die Louis Botha-kinderhuis is ʼn geregistreerde kinderhuis wat met die Jakaranda-kinderhuis in East Lynne, Pretoria, geaffilieer is en versorg skoolgaande kinders wat deur die kinderhof in hul sorg geplaas word.

Skenkings wat Louis Botha-kinderhuis ontvang het. (Foto: Verskaf)

Hoewel dié betrokke huis by Louis Botha se gebou verseker is, was die inhoud daarvan egter nie verseker nie.

Charlene Grobler, uitvoerende hoof van die Louis Botha-kinderhuis, het voorheen aan Maroela Media gesê die plaaslike gemeenskap en wyer publiek het “onmiddellik opgetree en gehelp” om ʼn lys van behoeftes wat opgestel is, te begin insamel.

Dit het onder meer skoolklere, beddens, matrasse en toiletware vir 12 seuns ingesluit, waarvan baie reeds deur skenkings vervang is.

“Die woord ‘dankie’ lyk so onbeduidend in vergelyking met die dankbaarheid wat ons ervaar sedert die brandvoorval,” het Ina Kotze, skakelbeampte van die Jakaranda- en die Louis Botha-kinderhuis, in ʼn e-pos aan skenkers gesê.

‘n Brand by die Louis Botha-kinderhuis het een van die seunshuise in puin gelê.

“Wonderwerke het elke dag gebeur, en julle almal wat gebel het, iets afgelaai het, ʼn geldelike bydrae gemaak het of ons ondersteun het met vriendelike woorde en drukkies, is deel van hierdie wonderwerk waaroor getuig sal word as deel van ons geskiedenis.”

Volgens Kotze is die kinderhuis “sprakeloos gelaat” oor die gemeenskap se goedhartigheid.

Sy vertel dat hulp van individue, skole, kerke, sakeondernemings, hospitale, apteke, kontrakteurs, prokureurs, aftreeoorde, organisasies sonder winsbejag, studente, winkelsentrums, kleinhandelgroepe en die media van oraloor ingestroom het.

Ook die radiostasie Jacaranda FM se Good Morning Angels-program het saam met borge ʼn totaal van R100 000 bygedra tot ander meubels en elektroniese toestelle soos ʼn nuwe oond vir die huis.

Strukturele herstelwerk aan die huis sal ook begin sodra die nodige ondersoeke en verslae deur die versekeringsmaatskappy voltooi is.

“Ons is uiters dankbaar vir elkeen van julle en nederig deur julle vriendelikheid en vrygewigheid. Wees verseker julle het almal ʼn verskil en ʼn positiewe impak vir ons kinders gemaak.”

Die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis versorg altesaam sowat 350 kinders, en die kwartaallikse staatsubsidie dek slegs sowat 43% van Louis Botha se uitgawes, wat onder meer mediese sorg, terapie en daaglikse vervoer na en vanaf 23 verskillende skole voorsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.