Pta-sakeman beseer in panga-aanval

(Foto: Verskaf deur Kobus Olivier)

ʼn Man van Kameeldrift-Wes net buite Pretoria is beseer toe vier gewapende aanvallers hom Vrydag in die vroeë oggendure met ʼn panga aangeval het.

Die eienaar van ʼn supermark op die Van der Hoff-pad is na die Eugene Marais-hospitaal vir behandeling gehaas. Die presiese omvang van sy beserings was nie dadelik duidelik nie.

Kobus Olivier van Lifeguard-sekuriteit sê die aanvallers het aanvanklik ʼn venster gebreek en ʼn slypmasjien en panga by ʼn ander onderneming gesteel.

Hulle is daarna na die volgende perseel waar hulle goedere van sowat R45 600 gebuit het. Die aanvallers is vort met onder meer televisiestelle, ʼn rekenaar, gasbottel, kragopwekker, die kasregister, kontant en ʼn boorgatpomp.

“Die mans het by ʼn onderneming deur die motorhuisdeur ingebreek waar hulle ʼn kasregister gesteel het. Ons vermoed dat die verdagtes ʼn elektriese heining aan die agterkant gesny het voordat hulle die perseel betree het.”

Die sakeman is by hierdie perseel oorrompel.

Olivier sê die verdagtes het reeds gevlug toe hulle na die toneel ontbied is.

“ʼn Panga en ʼn paar handskoene is op die toneel gekry. Ons vermoed dat ʼn wegkomvoertuig hulle ingewag het,” het Olivier gesê.

(Foto: Verskaf deur Kobus Olivier)

Ao. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ʼn klag van sakeroof.

“Die eienaar en van sy kollegas is beveel om stil te bly nadat die verdagtes hulle met ʼn mes gedreig het.

“Die slagoffers is wreed aangerand,” het Van Dyk gesê.

Niemand is tot dusver nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.