R140 miljoen-belegging in grootste kaasfabriek in Afrika

(Foto: @MireilleWenger/Twitter)

Mireille Wenger, Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, en dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het vandeesweek die amptelike opening bygewoon van ʼn nuwe verdampingsdroër by Lactalis Suid-Afrika se kaasfabriek in Bonnievale.

“Die Wes-Kaapse regering wens Lactalis geluk. Dit verteenwoordig ʼn beduidende belegging van R140 miljoen en sal 800 poste in Bonnievale en omgewing ondersteun,” het Wenger gesê. “Meer beleggings in die Wes-Kaap beteken meer werk vir die mense van die Wes-Kaap. Ons het dus rede om hierdie amptelike opening te vier.”

Lactalis Suid-Afrika se Bonnievale-aanleg is die grootste kaasfabriek in Afrika.

Die nuwe verdampingsdroër verwyder water uit melk om ʼn poeier te vervaardig wat ʼn langer raklewe het. Dit is maklik om te vervoer en word in ʼn rits voedselprodukte gebruik soos gebakte goedere, fyngebak, suiwelprodukte en geprosesseerde voedsel.

Meyer het ook die belegging verwelkom en sê dit weg verbruikersvertroue. “Landbou is die mees dominante bedryf in die vyf distrikte van die Wes-Kaap. Dit dryf die ekonomie en skep werk. Hierdie nuwe fasiliteit ondersteun die groeikoers van landbou in die Wes-Kaap en die provinsie se doelwit om hoop te skep deur groei en werk.”

Alban Damour, hoofbestuurder van Lactalis Suid-Afrika, sê die belegging wys op die voortgesette toewyding deur die maatskappy om sy onderneming in Suid-Afrika te versterk. “Ons bly gefokus op innoverende sakeoplossings wat die vervaardiging van hoë gehalte kosprodukte moontlik maak, terwyl werk geskep word en ʼn verskil gemaak word in die gemeenskappe waar ons werksaam is.”

Wenger sê die provinsie is daartoe verbind om met Lactalis en ander ondernemings te bly saamwerk om dit so maklik as moontlik te maak om besigheid te doen en ondernemings in die provinsie uit te brei om ekonomiese groei te verseker.

  • Lactalis Suid-Afrika is reeds sedert 2020 die nuwe naam van Parmalat. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.