Rahima Moosa-hospitaal op herstelpad

Die Rahima Moosa-moeder-en-kind-hospitaal. (Foto: Facebook)

Die aanbevelings van die gesondheidsombudsman in ʼn poging om die beroerde situasie by die Rahima Moosa-moeder-en-kind-hospitaal (RMMCH) in Johannesburg te beredder, word nou glo ingestel.

Dit volg nadat prof. Malegapuru Makgoba, die gesondheidsombudsman, dié hospitaal in Maart vanjaar amptelik onveilig verklaar het nadat sy vasgestel het dat die instelling se uitvoerende hoof vir die grootste deel van haar ampstermyn afwesig is, terwyl verwagtende moeders by die hospitaal op die vloer slaap.

Nomantu Nkomo-Ralehoko, die Gautengse LUR vir gesondheid, het egter nou die provinsiale wetgewer die versekering gegee dat die proses om ʼn nuwe uitvoerende hoof aan te stel “in ʼn gevorderde stadium” is.

“Die pos is geadverteer met ʼn sluitingsdatum van 5 Mei en die keuringsproses is aan die gang.”

ʼn Tussentydse waarnemende uitvoerende hoof is intussen aangestel.

Nkomo-Ralehoko sê die aanstelling van ʼn uitvoerende hoof van ʼn hospitaal het voorheen ses maande geneem. Die Gautengse departement van gesondheid hersien egter nou sy werwingsbeleid om die vinniger aanstelling van kritieke bestuursposisies te verseker.

Die departement het ook sy standaardbedryfsprosedures wat menslike hulpbronne (MH) betref, hersien en aan personeel gekommunikeer om die beter bestuur van verlof, werwing en behoud van personeel te verseker.

ʼn MH-konsepplan is saamgestel. Daar moet egter nog aan dié plan geskaaf word om die beskikbaarheid van voldoende hulpbronne te verseker.

Die ombud het in Maart daarop gewys dat daar geen noemenswaardige verbeterings of aansienlike bywerkings aangebring is sedert die bou van die hospitaal in 1943 nie. Dít ondanks die toewysing van ʼn begroting en personeel.

Nkomo-Ralehoko sê ʼn skedule is sedertdien opgestel vir die nodige instandhoudingswerk wat by die hospitaal gedoen moet word en aanvanklike geldtoewysing is beskikbaar gestel om onmiddellik met die instandhouding te begin as deel van die ombud se aanbeveling.

“Die departement berei tans spesifikasies voor om kwotasies of tenders aan te vra sodat diensverskaffers so gou moontlik aangestel kan word. Die hospitaal het ook ʼn begroting ontvang vir geringe instandhouding wat tans aan die gang is.”

Die ombud het ook vroeër vanjaar bevind dat die hospitaal se laboratorium en bloeddienste nie 24 uur per dag in bedryf is nie, hoewel dié dienste verpligtend is in ʼn hospitaal soos RMMCH wat hoërisiko-spesialisdienste in verloskunde, ginekologie, neonatologie, pediatrie en chirurgie verskaf.

Volgens Nkomo-Ralehoko het RMMCH sedertdien ʼn funksionele slimyskas vir die berging van bloed by die hospitaal se laboratorium aangekoop. “Die kwessie van die 24-uur-laboratorium geniet aandag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sê maar net ·

En is daar nou al beddens vir daai arme moeders? Ek kan myself nie indink hoe slaap mens op ‘n vloer as jy hoogswanger is nie. Dis net skandalig!! Maak my briesend!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.